nuwe kookgroep - nuwe energie!

Ek kyk met skaamte na my blog en sien dat die laaste post uit Parys was. Dit was te lank gelede! Maar nou ja, die lewe gebeur en 'n mens kry nie altyd tyd vir skryf nie. Dit is natuurlik 'n fout. Ek het begin agterkom dat ek benewens skryfmoegheid ook my lus vir kook begin verloor het. Ek weet nie of ek te moeg is na 'n dag se werk of net sommer nuwe inspirasie nodig het nie? Wat ek wel weet is dat 'n mens daardie gevoel moet teestaan. Kosmaak is 'n kreatiewe proses en daarom voel dit nie na werk vir die wat dit liefhet nie.

Een seker manier om inspirasie te ontek is om jou met inspirende mense te omring. En toe besluit ek, dit is nou tyd om weer 'n kookgroep te begin. Ek het mos nou die resep, so dit sal glad verloop of hoe? Waarop ek nie gereken het nie is dat ek met vier nuwe mense, vier totale ander individue te doen sou kry as in die vorige groep. Hulle is almal mense wat gereeld kook en wat al 'n lang pad met kos en kook gestap het. Moenie vir hulle 'n reseppie onder die neus druk en dink hulle gaan dit nie aanpas of verander nie, sou ek later leer.

So begin ek die nuwe ervaring met vier mede reisegers. Die eerste aand het vier heerlike Spaghetti Bolognese souse die lig gesien. Ek het vir almal dieselfde resep gegee en verwag dat hulle mooi netjies dit sal volg. Hulle gooi toe sommer by waarvoor hulle lus kry en ek knyp my ogies toe vir die suiker, kaneel, en wat ookal wat verdwyn in die souse! Hulle gebruik ander maniere van gaarmaak en gebruik fancy implemente wat ek nie eers weet om aan te skakel nie.

En dit bring by my weer 'n keer die gedagte tuis dat ons mense gemaak is om van mekaar energie en inspirasie te ontvang. Ons kan nie soos stukkies brood in 'n verwaterde soppie rondryf nie. Ons moet mekaar opsoek, na mekaar luister, vir mekaar omgee en juis deur dit te doen vind inspirasie ons. Ons verskil en ons andersheid maak van ons goeie bestandele. Amper soos 'n goeie resep. Saam met dit skrik ek ewe skielik weer wakker, en voel wakker. Was dit nie die idee nie?

 Viva! nuwe kookgroep Viva!

parys

Terwyl die Franse platteland verbyvlieg in die treinvensteer wonder ek waarom Parys so magiese aantrekkingskrag vir my bied. Waarom is dit dat ek met die kans om oorsee te gaan nie dink aan ander eksotiese bestemmings nie? Waarom begin alles vir my by Parys? Eintlik weet ek waarom.


Dit gaan vir my ondermeer oor die Franse psige of "countenance". Jy kom dit tee as jy Dumas se "The Three Musketeers" lees. Wat is dit? Hier is 'n paar klassieke aanhalings uit die boek:

“Everyone knows that God protects drunkards and lovers.”

“Time, dear friend, time brings round opportunity; opportunity is the martingale of man. The more we have ventured the more we gain, when we know how to wait.”

“We must never expect discretion in first love: it is accompanied by such excessive joy that unless the joy is allowed to overflow, it will choke you.”

“I do not often laugh, sir, as you may perceive by the air of my countenance; but nevertheless, I retain the privilege of laughing when I please.” 

Wel vir my is die Franse psige duidelik in die vrouens wat glo dat hulle almal supermodelle is en met hulle pouty monde en serpies verbystap, of die man in die tou in die baguette winkel wat jou amper stug "bonjour" groet, die paartjies wat langs die Seine rivier piekniek hou en mekaar nie kan uitlos nie, die mense wat met mekaar sit en lang gesprekke hou in die metro om maar net 'n paar te te noem. Nêrens is dit so duidelik soos in Parys nie. Ons sit onder die Eiffel en hou piekniek, om ons sit paartjies en die taal wat ek hoor is amerikaans, chinees maar altyd ook frans. Mens sou dink hulle is moeg vir die eindelose, stammerende toeriste wat hulle stad oorvat. Hulle laat dit eenvoudig nie toe nie, hulle hou ook piekniek in die parke, stap langs die seine en gaan eet iets in die Montmartre.

Hulle leef nie noodwendig weelderig nie, hulle huisies is klein maar hulle kombuis is die straat kafee of brasserie. Hulle leef wel met styl, nie aangeplakte soort styl nie, dis anderse styl dié. Dit kom van 'n diep ingebore "sense" van hoe dinge behoort te wees en veral hoe dit moet lyk. Selfs nou sien ek buite die trein, terwyl ons Frankryk verlaat, hoe die plattelandse lanskap geskep is met woude wat elke hier en daar die landskap help vorm in plaas van by ons waar die Overberg of Vrystaat amper geen meer woude het om die eentonige landerye bietjie te breek nie.

Ons leef eintlik met te veel en hulle met net genoeg. Ek stap in die latynse kwartier, in die omgewing van die universiteit en kyk op om die bekende woorde: liberté, egalité, fraternité. En ek dink by myself, die Franse nasie is sterk en ek vir een saal aanhou terugkom. Vive la France!

europa!

Ons was onlangs op 'n twee week lange reis deur Europa.
Om sonder die kinders net weer 'n slag 'n mens se lyf student te hou was die idee. Om te leef van straatkos en "pubfare" was 'n tweede mikpunt. Ek het lank in Nederland gewoon maar was meer as 'n dekade laas in Europa. Dit was dus vir my 'n soort tuiskoms.

Ons eerste stop was Parys. En ek verloor my hart opnuut. Parys is soos die vroue wat in haar wandel. Sy is effens moody maar nooit vervelig nie. Sy sit en rook Gauloises by 'n straatkafee, stylvol agter haar ontwerpers sonbril en peusel aan haar Tarte Tatin met sterk swart koffie. Sy gesels diep en luister mooi na wat jy sê en gebruik baie handgebare as sy praat met 'n pruilmondjie
Piekniek a la Seine

 Ons koop vars Baguettes en die romerigsteCamembert om langs die Seine rivier mee te piekniek. Ons sit daar met Parysenaars om ons en staar na die bote. Die ding van Parysenaars is dat hulle amper net so erg soos toeriste oor hulle stad is. Hulle hou ook piekniek onder die Eiffel, langs die Seine of in die Luxembourg tuine. Parys is hulle stad en is hulle. Wat ookal hulle doen, of dit eet, gesels, huise bou of net in die straat wandel - doen hulle in absolute stylvolheid. Dis nie 'n snobistiese of "stiff upperlip" stylvolheid soos wat ons hier kry nie. Dis net eenvoudig gestel 'n mooier manier van dinge doen.

Belgiese bier
Oor na Ghent in België en jy kry te doen met 'n heel ander mens. Bietjie meer slordig en verseker nie so stylvol nie. Maar ook amper meer Afrikaans. Hier eet ons spare ribs à volonté!! Wat eintlik maar net beteken dat my vrou vir my sê dat ek nou moet ophou eet want die mense kyk al en" vee tog net jou gesig af". Ek loop in die strate en mense is uitbundig oppad na die talle straatkafees. Almal drink bier en bier is definitief almal se drankie. Oud, jonk, man, vrou, ryk arm - almal drink bier. Om dan nie eens te praat van die wafels en sjokolade nie. In Brugge koop ek op die mark 'n vars gebraaide heel hoender, kaas en vye. Ons sit op 'n bankie tussen die toeriste en smul terwyl die mense wonder wie die bergies is wat so morsig eet!

Gerookde paling
Na Amsterdam en my ou heimat, Utrecht. Hier waai ons deur die grachten op ons swart fietse en stop net vir koffie, poffertjies en pannekoeke. By Volendam eet ek gerookde paling, een van my ou gunstelinge en kibeling - klein happies vis wat in 'n ligte deegie gedompel word en in olie gebraai word. Ons eet heerlike boterhampies en ons smul aan broodjie Mario calzones in Utrecht.


Toe ons moes kies waarnatoe om te gaan was daar allerhande eksotiese plekke om oor te dink. Peru, Marokko, Alaska en die Maldives. Maar op die ou einde loop alle paaie tog maar deur my maag en is my maag maar tog net te Europees!




kookgroep - varkie in 'n jassie met ' twist

Ek het al elders in die blog geskryf oor my kookgroep. Ek was baie huiwerig aan die begin oor selfs die blog, juis omdat ek nie voel dat ek 'n tegnies opgeleide sjef is nie. Maar ek besef toe ook dat die blog eintlik meer my eie memoirs is vir my kinders en hopelik kleinkinders eendag. Maar om myself te begewe in 'n kooklas met mense wat vol verwagtinge met elke geleenheid na my staar...dit het na 'n bietjie van 'n stretch gevoel.

Maar nou ja, my arm is gedraai en hier is ek nou met vier uitsonderlike mense, mense wat passie, durf en humor na die tafel bring. Ons formaat is maklik, ons kom een keer per maand bymekaar, hulle betaal niks, bring hulle eie kookhulpmiddele en bestandele soos per die resep wat ek aan hulle gegee het. Dan kook hulle al vier, ek help, ons lag ons vrek, drink baie wyn en eindig die aand rondom die tafel met heerlike borde kos. Dit is ook vir my so interressant hoe mense se persoonlikhede en hulle manier van kosmaak verskil. Kosmaak vloei baie uit 'n mens se basiese persoonlikheid uit maar die wonderlike verassing is dat in kosmaak mense se alter ego's ook soms uitkom. Die skaam persoon wat kompeteer dat dit bars en die analitiese een van vol kreatiwiteit iets mooi wil voorsit. Dit is eenvoudig "mindblowing" om te observeer.

Dit laat my wonder hoekom kosmaak nie meer gebruik word vir terapie en algemene vaardigheidsontwikkeling nie. Wys my die mens wat aspris slegte kos wil maak of nie haar beste gee agter die panne nie! Ons is nie altyd ewe gemotiveerd om lekker kos te maak nie, om verskeie redes. Tog, probeer ons. As ek die bleddie visvinger vat en ek maak 'n heerlike vars tzatziki met suurlemoen en griekse jogurt moet dit mos lekkerder proe!

Ok, ek dwaal. Ons besluit toe ons gaan 'n spankompetisie ala Masterschef hou. Ek het vir hulle twee mystery bokse gegee met bestandele as volg:

 Bestandele:
2-3 Vark filette
1-2 pakke “streaky” spek
Halwe koppie vars basil blare, grof gesny
Halwe koppie vars mint, fyn gesny
2 vars pruime in baie fyn skywe gesny
Growwe swart peper en sout
1 pynappel, geskil en in ringe gesny
2 lekker groot patats
2 eetlepels heuning
Kaneel vir besprinkel van pynappel
Tandestokkies om spek vas te maak oor fillet
Botter en olyfolie

Metode (hulle het dit nie gekry nie)
Voorverhit oond tot 180 grade C. Klad die fillet droog met kombuispapier. Lê die spek repe langs mekaar op 2 houtborde (genoeg vir 2 filette om in te pas). Meng die basil mint en pruime saam in ‘n mengbak en besprinkel oor die spek repe. Hou klein bietjie van die kruie eenkant vir garnering. Nou sit jy die fillet regoor die spek repe en vou die spek repe oor die fillet, maak die spek bo vas met tandestokkies. Plaas die 2 filette op ‘n bakplaat, sprinkel met bietjie olyfolie en sit in die oond. Vir elke 500g het jy 30 minute plus ‘n ekstra 5 minute nodig. As dit klaar is haal dit uit en laat dit vir 5 minute rus. 

Skil jou patat, sny in wiele en kook vir 3 minute met bietjie water in ‘n pot. Moenie dit sag kook nie! Braai jou patat ringe met bietjie olyfolie in die pan todat dit ‘n mooi bruin kleur het. Smeer dit met bietjie heuning voor die tyd sodat dit lekker karameliseer. Skil jou pynappel, sny in ringe en braai op die griddle pan todat dit mooi egalige donker strepe op het. Besprinkel daarna liggies met kaneel en heuning. Plaas eenkant maar maak seker dat dit warm bly. Kry nou jou 4 borde reg, sny 2-3 wiele vark fillet en plaas op die bord en rangskik die patats en pynappel rondom. Besprinkel met swart peper en die laaste vars kruie. Jy kan ook bietjie fyn pruime en sjerrie/rooiwyn gebruik en 'n lekker reduction sousie maak om bo oor alles te drup net voordat jy dit voorsit.

En toe gebeur die magic, albei spanne sit voortreflike geregte voor. Die beoordeelaars moes werklik hare kloof om die wenner aan te wys! Geluk aan die wondelike vier kokke, ek hoop om nog lank saam aan tafel met julle te sit.

tuisgemaakde tamatiesous

My spannetjie is redelik swaar op tamatiesous. As hy kon sou my seuntjie dit by sy Pronutro meng. Tamatie en piesang geur gaan mos lekker saam! Synde dit so belangrike deel van  my kinders se lewens is, het ek gewonder of 'n mens nie jou eie tamatiesous vars kan maak nie. Ek het, eg aan my aard, te wyd gaan lees en verlore geraak in een van Malcolm Gladwell se essays waarin hy breedvoerig ondersoek doen oor wat nou die perfekte "ketchap" is en hoekom dit so is. Heel filosofies. Gelukkig het ek my pad terug gevind en die resep is die gevolg. Dit is maklik, die spannetjie in my kookgroep het almal foutlose tamatiesous gemaak binne 'n uur. Die sous hou ook lekker lank en word amper lekkerder in die yskas.

Wat jy benodig vir 'n redelik trekseltjie is:

1 blik tamaties
1 klein blikkie of pakkie tamatie puree
1 groot ui, gesny
1 koppie rooi wyn asyn
‘n halwe koppie suiker
‘n halwe koppie olyfolie
2 eetlepels neutmuskaat
‘n halwe teelepel allspice
2 lourierblare
‘n grypie sout en swart peper

Instruksies:

Gooi alles in 'n lekker groot souspan en bring oor medium hitte tot prut. Hou aan daarmee, roer van tyd tot tyd deur todat die vloeistof ongeveer met die helfte verminder het. Hier is 'n wenk hoe om dit te bepaal. Sit jou houtlepel in die begin agterstevoor in om die vol vlak te bepaal en dan merk dit die lepel rooi. Dan kan jy weer meet as dit halfpad is. Dit behoort so 30 minute te vat.

Laat die vloeistof goed afkoel tot kamer temperatuur (kokende vloeistof kan ontplof as jy dit dadelik bewerk) Gooi die mengsel minus die lourierblare in jou versapper en maak 'n puree. 

Nou soek jy slaptjips om daarin te dip!

eenvoud is die vreugde van die lewe

Ant
Dit is net in Suid Afrika waar die Chinese kok van 'n welbekende restaurant (wat ook nogals na hom vernoem is) sy eie restaurant 2 kilometer verder in die straat oopmaak, met presies dieselfde spyskaart. En dan gaan altwee restaurante doodluiters aan met hulle lewens! In elk geval die een waarna ek verwys is in Kaapstad net langs die Gardens inkopie sentrum. Dit was nog altyd een van my gunstelinge, juis omdat die spyskaart so wye reeks kos kulture reflekteer. Chinees, Japanees, Mongolian en Viëtnamees om maar net 'n paar te noem. Dan nog die verskillende hitte grade aangedui met chillies.
 
Gino's
Ek eet nie baie uit nie want ek is 'n onbeskaamde bon vivant sowel as vreeslik suinig om iemand anders te betaal om vir my soms gemiddelde kos te berei. Verder dink ek ook dat soveel mense se saai lewens wentel om baie geld te spandeer in restaurante en dat dit miskien 'n teken is van hoe ons  moderne mense ons lewens inrig. Ons het nie tyd vir "sukkel" nie en ons lewe vir wow ervarings want slegs daarin voel ons dat ons kry wat ons toekom. Ek is natuurlik ook maar deel daarvan en worstel daarmee. Hoe kry ek my kinders om te verkies om onder in ons lapa kaalvoet te sit met 'n worsie op die vuur en heeltemal gelukkig te wees omdat hulle (en ek) teenwoordig is in die oomblik? 
 
Fat Cactus
Chef Pon's Asian Kitchen
Dis egter 'n simpel eienskap van my dat ek altyd in 'n restaurant sit en wonder of dit die geld werd is...miskien juis daarom dat ek nou in my lewe op 'n plek is waarin ek eerder neig na eenvoud. Ek hou van 'n eenvoudige pizza uit 'n hout verwarmde oond of in dié geval sorgsame oosterse kos wat geurig voorberei is.
 
Dis nooit verkeerd om gesellig uit te gaan nie, mits jy dit nie elke week moet doen omdat jy jouself vreeslik jammer kry as jy by die huis sit nie. Ek wonder of mens nie ook aan die ervaring verslaaf kan raak nie?
 
Om jou verder te spaar van myhele lange relaas, doen jouself 'n guns en besoek Chef Pon's Asian Kitchen in Kaapstad, Gino's pizzeria op Stellenbosch, Fat Cactus Mexikaanse restaurant in Mobray, Ant Café in Mellville JHB of  Café Mexicho ook in Mellville. Ek reken dat jy by die (en ander) plekke heerlik, goedkoop en in eenvoud kan eet. Dis as jy nou natuurlik werklik moet uiteet!
Café Mexicho

hoender en rys pilaf surprise

Ek het onlangs met my kookgroep die maklike resep gemaak, of laat ek sê hulle het dit gemaak! Pas die tyd in die oond aan as jou volume hoender meer raak. Maak ook seker dat jou oond lekker voorverwarm word. Wat jy benodig is:
 
4 - 6 hoender porsies (Dit werk ook met vis maar die baktyd is minder en die speserye ietwat anders)
1 koppie gewone mayonnaise
1 koppie broodkrummels
1 koppie gewone witrys of enige ander wat jy het
 3 eetlepels botter
 1 medium ui
 ongeveer 50 - 100g klein gedroogde appelkose per koppie rys
 ongeveer 50 - 100g amandel “flakes” per koppie rys
3 koppies hoender aftreksel – bring sommer Ina Paarman poeier
1 lourier blaar
Vars of gedroogde tiemie
‘n “bunch” vars aspersies (Nee, nie die tipe wat in 'n blik kom nie en wat andersins bekend staan as olifantpuisies)
 
Metode: Onthou jy het drie prosesse, kyk mooi na die kooktyd en rangskik daarvolgens. As jy enige snywerk voor die tyd kllarmaak help dit baie. Iets soos om die tiemie se blaartjies te stroop vat 'n paar minute maar as jy dit, die sny van die uie, die fynmaak van die broodkrummels ens gereed het dan het jy tyd tussen oop vir 'n slukkie wyn of om vir die hond 'n tennisbal te gooi.
1. Mayonnaise hoender
Voorverhit jou oond tot 200 - 220 grade C. Was jou hoender porsies vinnig onder koue lopende water en klad droog met kombuis papier. Smeer die porsies deeglik met mayonnaise, gooi sommer in ‘n sak vol van die broodkummels en skud todat die hoender oortrek is met broodkrummels. Onthou jy kan jou broodkrummels geur met sout en peper en kruie soos tiemie. Plaas die hoender porsies in ‘n oondbak en bak vir ongeveer 40 - 60 minute. Hou net dop dat die krummels nie brand nie.
 
2. Rys pilaf met amandels en appelkose
 
Dié eenvoudige, veeldoelige rys gereg word ondersky deur die metode – jy sauté die korrels vinnig in botter/olie voordat jy vloeistof byvoeg – dit gee baie smaak en help dat die ryskorrels lekker fluffy en apart bly. Rys pilaf is ‘n wonderlike oop boek, jy kan die amandels en appelkose vervang met amper enige iets!
 
Smelt die botter in ‘n pan oor medium hitte, voeg uie by en sauté vir ‘n paar minute todat dit net begin goudkleurig raak.
Voeg die rys by en hou aan om te braai todat al die korrels goed met die botter oortrek is, moenie brand nie!
Nou voeg jy die lourierblaar, fyn amandels en appelkose by en voeg die hoender aftreksel by. Laat dit kookpunt bereik. Draai sagter, voeg bietjie sout en peper by en laat saggies prut met die deksel op totdat die rys sag is en al die vloeistof geabsorbeer is, ongeveer 15 minute.
Sit die plaat af, los die deksel op en laat staan vir so paar minute voordat jy dit opdien.

3. Aspersies

Sny die onderste 1cm van die aspersies af. Kry ‘n pot vol water met ‘n teelepel sout in vinnig aan die kook. Plaas ‘n bak vol yswater net langs die pot. Sit die aspersies vinnig in (maksimum 1 minuut), haal uit en gooi dadelik in die yswater. Haal uit na so 1 minuut en plaas eenkant.

Wanneer al die ander geregte reeds opgeskep is, gooi jy dit vir 30 sekondes in ‘n warm pan met olyfolie, gee so paar draaie en sit dadelik op die bord. ‘n Girtsie sout en peper rond dit af. Onthou oorgaar aspersies is sonde!