Prins Butternut


Vir almal wat al moedeloos in 'n yl yskas ingekyk het, opsoek na inspirasie of sommer net platsak, daar is hoop! Vat 'n lekker ou dik 5 randstuk en koop die grootse butternut wat jy kan kry. Skil hom. Sny in langwerpige dik stukke. Moenie te dun maak nie. Stoom dit in bietjie water met neutmuskaat vir so 4-5 minute. Onthou jy wil hom nie gaar maak nie, net so bietjie gereed kry vir wat wag...

Smelt bietjie botter, olyfolie en vars knoffel in 'n souspannetjie en kry jou kwassie gereed. Voorverhit jou oond na so warm 230 grade met grill. Kwas jou groot mote butternut lekker met die bottermengsel en bak in die oond. Jy kan dit ook op 'n rooster braai na die tjops afgehaal is. Die geheim is mooi dik 70% rou mote en gereelde kwaswerk. As jy dit te gaar stoom gaan dit breek of te pap raak as dit ook te klein gesny is.

Gooi 'n grypie sout en peper en vars kruie na smaak oor en sien hou die mense van hulle tjops vergeet.

Butternut is 'n prins, nie 'n stiefkind nie!

Spaghetti Bolognaise


Hierdie is 'n heerlike resep vir daardie Maandag aande wat jy nie krag het vir kosmaak nie. Jy het mense oor die naweek gehad en daar is een chop, 'n stukkie wors en 'n halwe pak maalvleis iewers oor. Jy vat so 3 of 4 geelwortels en vier lote seldery. Gebruik sommer die blare ook. Sny dit alles in repies. Neem 'n halwe rooi ui (of enige ui) en sny dit ook fyn. Kry olyfolie en 'n bietjie botter aan die gang in jou pan. Voeg die wortel, ui, seldery, een gesnyde knoffelhuisie daarin en braai vir 'n paar minute. Maak 'n blik Italiaanse tamaties oop en gooi oor mengsel. Laat dit so bietjie prut. Voer origanum of basil by. Drink 'n glasie wyn en bou bietjie klei saam met jou kinders.

Gooi nou die mengsel in jou menger of gebruik een van daai handmengertjies om dit lekker fyn die maak tot dik vloeistof. Gooi dit terug in die pan en voeg al jou fyngesnyde vleis of maalvleis daarby en laat dit saggies prut tot 'n lekker dik sous. Dit sal aan die begin effens water uitslaan maar dit gee jou kans om nog 'n slukkie wyn te drink en miskien die inkleurboek nader te trek.

Nou kook jy jou spaghetti in lekker sterk snelkokende soutwater tot net reg en dreineer. Roer nou 'n lekker klont botter deur die sous en kry jou parmesan kaas reg. Skep die spaghetti in die borde, skep die sous bo-oor. Gooi 'n paar draaie swartpeper en sout oor na smaak en voeg parmesan oor.

Dra nou die mooi borde na buite, maak die glas vol koue wyn en smul.

Paar tips: Moenie die spaghetti te gaarmaak nie en roer so bietjie olyfolie deur om dit lekker los te maak, voor jy dit opskep. Jy kan ook 'n grypie chilli saam met die mengsel braai, afhangende van hoeveel byt jy wil kry! Ek vat partykeer so 2 heel chillies en braai dit net versigtig saam met die mengsel en haal dit dan weer uit. Op die manier kry jy die geur maar nie al die byt nie. As jy vars kruie het, gooi dit aan die einde oor, dit maak 'n groot verskil aan smaak en laat die bord mooier lyk. Koop parmesan, moenie stingy wees nie - jy kan dit weer gebruik. Moet net nie daardie pakkies gemors fyn parmesan koop nie.

Luister hoe almal slurp aan hulle spaghetti...