leef eet leef eet leef...


Hier oor die vakansiedae het ek soos altyd rondom my gekyk na die mensdom en gewonder waarnatoe alles gaan. Ons eet te veel en drink te diep maar ons het so half en half ons band met dit wat ons eet verloor. Ek het die laaste paar jaar gewerk met Amerikaners en dit is ongelooflik om te ervaar watter geweldige verbruikers hulle is. Ek veralgemeen bietjie grof hier maar dit voel asof hulle dink dat 'n hoender 'n ding is wat jy kan eet van Woolworths se rakke af en solank daai organiese teken op hom staan, impress jy mos darem die ou agter jou in die tou ook...

Daar behoort 'n veel meer nadenkende manier te wees om die kos wat mos eintlik energie is, te gebruik om ten goede ander energie vry te laat in die kosmos om ons. So as jy te vet is eet jy mos meer as wat jy nodig het en sit te min terug vir alles en almal om jou. Aan die een kant het ek die spul vet Afrikaners gesien wat lewe van te veel vleis en bier maar aan die ander kant die Amerikaner wat lief is vir sy uit- seisoen Chileense vrugte en elke jaar 'n nuwe rekenaar koop.

Ek is ook ongelukkig deel daarvan. Maar ek verlang na dae waar ek as kind hoenders moes slag en agter my pa aan tussen die mielies moes loop om vars mielies vir aandete pluk. Ons lewe in 'n tyd van die diepvries...Die ander dag koop ek vir ons huishulp hoender omdat ek weet daar is altyd te veel monde om te voed in haar huis. Ek vra haar toe of ek dit vir haar kan vries sodat sy dit in die toekoms vir haar gesin kan gaarmaak. Sy glimlag toe vir my en voeg so skaam in "dankie maar ons eet dit sommer vanaand".

Ons het goed in die kisvrieskas wat ons partykeer vir maande nie eet nie. Dit voel vir my of ons die konneksie met die natuur aan die verloor is. Mense kan nie meer hulle eie kos jag of oes nie. Ons eet meer as wat nodig is maar ons koop ook kitskos en gebruik kort paaie om by ons etes uit te kom. So kom ek en julle probeer meer die basiese dinge, kom ons plant 'n paar cherry tamatie plante, kom ons begin dink oor daai hoender wat ons te bang is om te slag en kom ons begin meer terugsit in die omgewing om ons, as wat ons uitvat.

Kook met oorgawe, met respek en liefde. Breek brood met vriende, familie en selfs die vreemdeling. Gaan pluk mielies, plant vars kruie en moenie amerikaanse klaargemaakte souse koop nie en los die bleddie kentucky! Kook stadig, want kos is een van ons bande met die goddelike en jy moet daarvoor ook tyd maak omdat jy jouself deur die kos leer ken.