mexican omelet


Jy is moeg, jy het die hele naweek mense gehad. Dit is Sondag oggend, 7 uur. Almal slaap nog behalwe die kleingoed - vir hulle het jy darem Pronutro gegee. Jy staan voor die yskas. Daar is wors en tjops van gisteraand. Jy het eiers, jy het kaas, jy het 'n blik italiaanse pruimtamaties, daar is so paar takkies vars pietersielie en origanum en 'n advokadopeer in die spens. Jou resep staar jou in die gesig!

'n Mexikaanse omelet is niks anders nie as 'n pizza waarvan die basis gemaak word met eier. Jy klits so 8-10 eiers (4-6 mense). Vir die gereg moet jy 'n plat pan gebruik wat in die oond kan gaan. Smeer die bak met botter. Sny nou alles wat jy in die yskas kan vind in blokkies - vleis, peppers, sampioene ens. Rasper so twee hande kaas. Voorverhit die oond met die grill, lekker warm. Begin jou brood, lemoensap, koffie ensovoorts regkry. Kry die mense aan die kuier rondom die tafel. Giet die eier mengsel, vleis,blik tamaties vars kruie ens in die plat pan. Strooi die kaas bo-oor. Draai die swartpeper en growwe sout meul daaroor.

Die eier sal gou begin rys. Moenie dit laat brand nie.. Dit kaas sal lekker begin borrel. As jy dink dis reg, haal die hele pan uit en sit op die tafel. Voeg nou jou fyngesnyde advokadopeer in fyn snye bo-oor. Luister na die oehs en aahs terwyl hulle die omelet met die spaan op hulle brood uitskep en smul.

kerrie


Ek het 'n passie vir kerrie. Ek was onlangs in Durban by die Spice Emporium. Dit is 'n winkel wat my soos 'n kind laat rondhardloop het. Ek kon kies tussen 50 soorte kerrie om nie eers te praat van ander speserye, bone, lensies, ingemaakte lemmetjies, rys, potte en panne nie! Tipies wat met my gebeur in so winkel is dat ek skarrel en uitstap met net helfte van wat ek wou koop omdat ek nie kan besluit nie. Ek koop toe maar "butter chicken masala" en "garlic and ginger masala".

Kerrie is iets wat diep onder in jou gereg moet wees. Daar waar die hoender en uie braai moet hy in. My kerrie filosofie is 'n mengsel tussen Asiatiese kerries en ons Indiese/Maleise Kerries wat ons hier in die Kaap kry. So dit is nie vir die purityne nie. My hele blog is nie vir hulle nie, noudat ek daaraan dink!

Jy gooi bietjie olie in jou pot. Gooi 3-4 lepels kerrie (minder as dit die warm "mother-in-law's-tongue" kerrie is!)op medium hitte met uie en soteer. Voeg dan jou hoender (vleis of vis ook) daarin en braai lekker. Die kerrie sal so begin vassit teen die hoender en die bodem. Gooi dan so halwe glas witwyn in sodat die kerrie kan loskom van die pot se bodem af en prut. Voeg nou bietjie patat, wortels of engige ander groente waarvan jy hou in. Halfte vleis, halfte groente. Stoom solank jou basmati rys.

Die wyn sal begin wegkook, voeg nou een blik coconut melk/room by. Strooi 'n gryp sout en growwe swart peper by. Sit nou jou pot in die oond met die deksel op teen 180grade. Die bottel witwyn is mos darem nou al oop. Gaan spring trampolien met jou kinders.

Na so 45 - 50 minute kan jy die pot uithaal, vir rooivleis soos skaapnek sal dit langer wees. Sny vars koriander. Skep die rys met die lekker lang hoender kerrie sous daarop, strooi bietjie vars koriander blare bo oor en siedaar.

Die fout wat mense maak is om te dink dat kerrie jou moet brand dat dit bars. In sommige Durbanse kombuise gaan dit wel die geval wees maar as jy werk met byvoorbeeld "butter chicken masala" sal jy oorval word deur die wonderlike diep geur wat eintlik glad nie brand nie - ag miskien net so bietjie!

steak


Dit bly maar vir my die koning van vleis. As jy dit reg gaarmaak natuurlik. Miskien is dit vir my so lekker omdat ek dit net kan bekostig aan die begin van elke maand as die pay in is en die aftrekorders nog nie af is nie! Dis in daardie vensterperiode van die 25ste van elke maand, waarbinne ek my steak maak. Ek gaan nou nie eens probeer om te skrywe oor braaigeregte nie. Hierdie blog gaan nie oor braai nie(Dus praat ek van steak in die pan of op 'n griddle) maar is geskryf vir die vrou of man wat moeg, met skreeuende kinders elke aand iets wil optower wat opnuut die romanse kan inspireer. Goeie kos met kerse en wyn is volgens my die resep vir partners om mekaar weer te begin vind. Maar as jy nie die vullis sakke uitsit nie, moenie dink steak gaan jou red nie!

Terug na die steak. Fillet is nie steak nie, dis 'n sagte ding wat jou baie geld kos met bitter min karakter. Steak vir my is rib eye, rump of sirloin. Maak seker dat die slagter vir jou die steaks sny in so ongeveer 3cm skywe met so stukkie vet aan die kant. Dit is lekker om dit te maak saam met varsgemaakte patat of aartappel skyfies en slaai. Daaroor gaan ek nie praat nie. Vat jou lekker pan. Gooi olyfolie in en maak BAIE warm. Maak die vensters en deure oop en moenie met jou beste hemp staan ek kook nie. Sit die steak in die pan. Moenie skrik as dit raas en rook nie. Moenie lol met die steak nie, gee hom so 3 minute. Die vleis sal karameliseer en wegtrek van die pan af. Draai dit om en wag weer so 3 minute. As jy well done steaks wil eet, doen dit om vadersnaam net nie in my geselskap nie. Moenie die hitte afdraai nie en gee vir die brandweermanne by die deur 'n glas koeldrank.

Haal jou steaks uit en laat rus op jou snybord vir so 5 minute. Moenie dadelik eet nie en moenie opwarm nie, jy gaan die gereg opmors. As jy sous oor die vleis wil eet kan jy dit gou maak. Gooi vars sout en peper oor die vleis of in die sous.

Gooi die wyn, skep die chips en slaai op die borde. Sit die steak op die borde. Steek gou die kerse aan. Kyk in jou partner se ogies. Geniet!

arsenaal


Mense vra my altyd "nou wat moet mens altyd in 'n koskas aanhou?". Dit is moeilik om te antwoord want elke mens leef verskillend met sy of haar kos. Ek het byvoorbeld niks nodig om 'n skaapkop te versorg nie want ek gaan dit nooit maak nie! 'n Ander probleem is dat dit nie net bestandele is wat jy benodig nie, maar ook bykomstighede soos kombuis gereedskap en allerhande lekker ekstras. Dit kan jou beursie lelik seermaak!

In my opinie is die belangrikste bestandeel of hulpmiddel in 'n kombuis egter jou ingesteldheid. As jy met sorg, tyd en liefde kook sal die eenvoudigste roereier proe soos souffle, of die vars broodrollejie met 'n stukkie kaas en tamatie soos pizza.

So hier is my lys van "goeters" wat ek graag byderhand sal wil sien: Dis nou uitgesluit die vars bestandele
1. goeie pan en pot - ek gebruik deesdae koper met vlekvrye staal aan die binnekant want dit werk lekker vinning met die gas. Jou pot moet lekker swaar wees - Le Creuset as jy die beursie het
2. goeie messe, ek het 'n wusthoff chefs mes en 'n klein paring knife
3. olyfolie, growwe swartpeper,growwe seesout, knoffel, botter, kruie en speserye (gemmer, kerrie, gerookde paprika, origanum, basil, tiemie, marjlyn, pietersielie - vars is beter maar mens kry dit mos nie op Mariental nie so gebruik gedroogde kruie)
4. suurlemoene
5. pakke pasta
6. parmesan
7. soy sous, chop soy, blatjang, coconut milk, tamatie puree
8. maizena
9. goeie koffie, gooi die nescafe weg
10. verskillende rys - basmatie is duur, ek gebruik Jasmine
11. gereedskap om suishi te maak - dis maklik
12. blender, voedselverwerker - daai hand mengertjies (zirtser) werk ook goed
13. wyn, wyn, wyn - lekker sauvignon blanc of chardonnay, ek dink ook chenin blanc is baie goeie waarde vir geld. Deesdae begin Voignier ook by my te spook. Rooi- ek verkies Shiraz of natuurlik Pinotage
14. Liefde - maak kos met liefde - staan met jou ander helfte in die kombuis met 'n glasie wyn eerder as om voor die tv te sit!

Dan moet jy maar sorg dat jy die regte dinge in jou ys en vrieskas aanhou. Dinge soos hoederborsies, spek, goeie maalvleis, skaapnek, shin, hoenderporsies, geelbek/stert. Gebruik hope vars kruie, moenie bang wees om met vrugte en groente te eksperimenteer nie. Goeie bestandele verseker lekker kos en jy hoef nie eers veel daarmee te doen nie.

As jy wil geld spaar sou ek voorstel dat jy sondag aande rondom 'n dop eiertjie sit en resepte kortliks neersryf vir elke aand. So koop mens wat jy nodig het en kry die kos so vars as moontlik in. As jy bly op 'n onherbergsame plek, bly weg van die bevrore groente - begin 'n groentetuin of koop en blansjeer jou groente self voordat jy dit vries. Hierdie projek van my is juis so poging om maar die dinge wat ek graag maak te verewig - veral vir my eie gebruik (maar ook julle sin).

Kry jou basiese kookruimte gereed en spandeer bietjie geld daaraan, dit sal jou geregte beter maak sowel as jou genieting daarvan. Die maak van kos is net so belangrik as die eet daarvan!

Le vrai philosphe n'attend rien des homes, et il leur fait tout le bien don't il est capable : The true philosopher expects nothing from others and offers them the best he can give them. - Voltaire.

mac en cheese


Ek kannie 'n blog oor kos skryf en nie mac en cheese insit nie. Vinnig, gemaklike comfort food. Dit sal jou siel goed laat voel. Daar is duisende maniere om dit te maak maar hier is myne.

Jy benodig 'n pak macaroni, 'n stuk parmesan kaas, 4 lekker tamaties, vars origanum, een eier, 'n handvol fyn plain salted chips (jy kan broodkrummels ook gebruik) en 'n grypie of twee gerookte paprika poeier.

Maak 'n witsous, as dit die begin van die maand is kan jy room ingooi maar jy kan dit ook lekker maak met net melk en maizena. Dit moet 'n lekker lang sous wees. Rasper 'n stuk parmesan kaas, ongeveer 150 gram, in die sous en voeg die paprika poeier, sout en peper na smaak by. Kook jou macaroni en dreineer. Jy moet teen die tyd al weet dat pasta nie pap gekook moet word nie! Gooi dit terug in die pot, voeg bietjie olyfolie oor en roer jou sous sowel as die eier goed deur. Voeg 'n klontjie botter daarby en roer versigtig deur. Voeg 'n handvol vars origanum daarby.

Gooi die mengsel in 'n oodbak. Maak die chips fyn en strooi bo-oor.Sny jou tamaties in skywe en druk dit reg om die kante so halfpad om - jy bou so tamatie muurtjie rondom die macaroni!

Sit in die oond vir so 15 minute teen 180 grade. Bou 'n legkaart saam met jou kinders. Skep op en luister na die stilte en kouery aan tafel. Daar gaan niks oorbly om werk toe te vat nie.

varkie in 'n jassie


Dit is eintlik nie my eie resep nie maar ek het dit bietjie aangepas. Jy koop 'n varkfillet. Hulle is soms maar kleinerig so as jy vir 4 mense moet kook, kyk rond vir 'n groterige een. Kyk na die fillet, jy sal sien dat dit soms so wit sening rondom het. Vat jou klein paring messie en sny/trek dit so weg van die vleis af, van die een kant tot aan die ander. As jy dit oplos, gaan die mense lyk asof hulle kougom kou.

Kry 'n pakkie lang repe spek. Kry 'n klein pakkie gedroogde pruime, haal die pitte uit en laat hulle bietjie rus in so treksel brandwyn of so iets met skop. Dit moet so paar uur sagword. Skil solank een mooi groot patat en laat dit dryf in bietjie water sodat dit nie bruin word nie. Maak seker dat jy vars sage het. Vir iets groen, kry 'n mooi bossie groot vars asperies. Vat die aspersie en buig dit. Sny dit af op die knak. Die punte gaan jy net so bedien en die stele gaan gebruik word vir 'n puree.

Terug na die vark. Sny die filet se maag oop met 'n lank snit van een na die ander kant. Moenie deursny nie. Haal jou pruime uit die bakkie met brandewyn en sny lekker fyn. Vul die vark se maag nou met die pruimedante. Geur die fillet met sout en peper na smaak. Vou dit toe en draai die hele fillet toe met die spek. As jy versigtig werk sal die spek kleef. Plaas dit nou in jou voorverhitte 180 grade oond vir so 18 -20 minute. Skink 'n glasie yskoue pienk wyn - iets soos pinot noir sal werk, net nie soet pienkwyn nie - dis common.

Vat jou skywe patat en braai dit in gesmelte plaasbotter met die vars sage in, sit dit ook in die oond vir 'n paar (5-7 )minute. Kook die asperie punte in soutwater - baie kort - en sit dit in 'n bak met yswater sodat dit lekker hard bly. Maak 'n sampioen witsous met 'n halwe room waarin jy ook die brandwyn van die pruime gooi. Gooi die aspersie stamme in 'n voedselverwerker (tip: jy kan dit skil as jy wil met 'n normale wortel skillertjie dan is dit sagter)tot 'n fyn puree, gooi bietjie room, wat jy oorgehou het van die witsous by. Maak dit warm in 'n pannetjie met sout en peper na smaak. Laat staan eenkant.

Nou het jy hard gewerk maar byt vas, ons is amper daar!

Haal die fillet sowel as die patat uit die oond. Sit mooi spierwit borde reg en haal nog koue pienkwyn uit die yskas. Steek kerse op. Sny die fillet versigtig in wieletjies op sodat die spek mooi rondom bly en sit, so 3 of 4 op elke bord. Op die ander kant sit jy 'n skeppie van die puree neer en sit so 3 of 4 van die aspersie punte daarop neer. Nou skep jy so 4 wiele van die patat op en sit dit ook neer op die bord waar daar 'n mooi spasie is oorkant die vark en aspersies om 'n driehoek te vorm. Vat jou sampioen sous en lepel mooi die sous oor die vark (sonder om te verdrink, jy is nie in die Spur nie!) met sulke groot druppels oor die patat en die oop spasies van die bord. Sit dit voor en smul. Nou kan jy haar vra om met jou te trou. As sy na die effort wat jy ingesit het en die smaak van die gereg, "nee" antwoord is jy beter af sonder haar!