chilli poppers


Dit gaan effens brand, die volgende oggend ook! Maar hoe saai sal die lewe nie wees sonder chilli poppers nie? Dit is maklik om te maak, goedkoop en dien as wonderlike voorgereg of selfs bykos tot hoofgereg.

Ek maak dit maar op my manier en ek is seker daar is baie ander maniere wat meer eg mexikaans is. Wat jy benodig is: 1 glaspotjie ingelegde groen Jalapeño peppers, (dit is min of meer die grootte van die potte agurkies en sal in dieselfde rak in die winkel gevind word) 'n bakkie roomkaas en 'n rol befrore "puff pastry". Ek het vriendinne wat natuurlik self hulle eie dun deeg sal maak en dis ook goed.

Nou begin jy met jou chilli's. Gebruik 'n lekker skerp klein messie en maak so 1 tot 2 cm snit in die lengte van die chilli. Nou is jy op 'n kruispad. Jy kan die pitte uithaal om die chilli's minder warm te maak of jy kan dit inlos. Vat nou jou roomkaas en vul die chilli se magie met jou vingers. Druk die chilli se magie dan toe. Nou rol jy jou deeg uit en plaas die chilli's op ongeveer 4 cm by 4 cm spasies uitmekaar met die snit na onder. Jy sal sien dat die chilli's steeltjies het, ek los dit gewoonlik aan vir die mooigeit. Sny nou 'n blokkie in deeg rondom die chilli en vou mooi toe met die steeltjie wat buite uitsteek. Druk dit met jou vingers mooi stewig toe en maak seker dat daar niks gate is nie.

Nou die doopsous. Ek gebruik 'n mayonnaise basis waarby ek sommer sweet chilli sous en bietjie kruie inroer. Die sousie moenie brand nie en moet so half romerig en soeterig smaak. Maar hier kan jy imroviseer, ek dink nou dat 'n advokado en suurlemoen mengsel (Guacamole) ook sal werk.

Nou kry jy gewone canola olie in 'n kastrol aan die kook en sit die poppers daarin om te diepbraai. Draai dit voortdurend om en onthou, jy wil net die deeg mooi egalig bruin kry. Dit neem so 2-3 minute. Laat dit so bietjie op kombuis papier rus om ontslae te raak van die oortollige olie.

Plaas op elke bord so 3 poppers met 'n spatsel doopsous. Nou smul jy terwyl die sweet op jou vrinne se voorkoppe loop!

kentucky


Ja, jy het reg gelees - kentucky. Die gevoel van olie wat in jou keel afloop as jy inbyt in 'n hoendervormige ding in 'n kombers van krummelskil...

Ek maak my eie kentucky en hopelik is dit beter as die ander soort. Jy benodig gewone meel, 4 eiers - geklits, kruie (tiemie), 1 suurlemoen en speserye (e het al gemmer en kerrie gebruik) sowel as olie. Gooi so koppie meel in 'n mengbak. Voeg tiemie, sout, fyn suurlemoenskil en peper daarin en meng met jou hande. Neem nou 'n hoenderporsie en woel daarmee in die mengbak todat dit heeltemal met meel bedek is. Stamp die oortollige meel af met jou ander hand. Nou doop jy die porsie in die geklitste eiers en plaas op 'n bord eenkant todat al jou porsies reg is. Voorverhit jou oond solank na 180 grade toe.

Nou diepbraai jy die porsies vinnig soos mens slaptjips maak in canola of sonneblom olie. Doen dit vinning net todat die deeg aan weerskante mooi bruin word. Plaas op kombuis papier om oortollige olie te verwyder. Druk jou suurlemoen se sap uit oor die porsies en sit vir so 15 minute in die oond om deurgaar te kry. Onthou jy wil nie die porsies gaarmaak in die olie nie - dis die oond se job. Op die manier hou jy darem jou hartvate ook oop!

Bedien met lekker vars komkommer, tamatie en blaarslaai.

oor drukkokers


Hiervoor is die meeste mense doodbang. Ek onthou hoe my ma se bruin bonesop op die plafon gesit het nadat sy vergeet het om die pot stadiger te draai. Mense dink die potte is tydbomme wat, op een of ander manier, lewensgevaarlik is. Wel dit kan seker waar wees maar ek glo steeds daarin.

Ek weet dat die filosoof Martin Versfeld in sy graf sal draai as ek praat oor drukkokers. Ek is jammer oompie Martin, hoewel ek jou boeke al vir die laaste 20 jaar verslind en jou filosofie sien as my filosofie, leef jy nie in ons tyd met my realiteite nie! Ek kan met my drukkoker beesstert of skaapnek heerlik sag, gesond en energie besparend gaarmaak binne 45 minute!

Ek verkies natuurlik steeds om my swartpot oor die oop vuur aan die gang te kry, my pyp op te steek en die glas Beyerskloof Pinotage te toets. My lewe is egter net op die oomblik te vol en ja oompie, ek weet dis nie reg nie.

Die geheim van 'n drukkoker is om die instruksies te lees, en te volg. Jy braai die beessterte of skaapnekkies met uie en knoffel onderin die pot. Nou maak jy die pot so halfvol met vog - water, wyn, aftreksel ens. Draai die deksel volgens die instrukies toe en draai die plaat op hoog. Skink jou eerste glas Beyerskloof. Die meeste drukkokers het 'n stoom uitlaat met so tottermannetjie wat uitstoot as die druk te hoog raak. Amper soos 'n man! Nou delete nog purityne die webadres...

Die ding is, jy moet verstaan dat die pot sy optimale druk bereik en dat jy hom dan DADELIK afdraai na 1 of 2, sodat hy rustig verder kan aanprut. Die potte is egter baie sterk en die duurder potte het nog allerhande ekstra veiligheidsmeganismes. Na die halfuur plus verby is, kan jy die pot afhaal, in die opwasbak sit en die bak vol koue water tap terwyl die pot afkoel. Sy stoom klep of tottermannetjie sal heeltemal sak. Maak die deksel oop en kyk hoe sag is jou vleis. Jy kan nou besluit om groente by te voeg, die pot weer tot op optimale hitte bring en so 5-10 minute later af te haal. Nou is jou beestert gereed en dit op 'n skool aand!

soptyd in die boland


die eerste koue is in die lug en ek het al my eerste verkoue ook gehad! Die dokter skud net sy kop en spreek sy simpatie uit met my en die woelige tweeling wat my al die verkoues gee. Pappa kan tog nie ophou soen aan hulle nie. Vir verkoue het ek nie die oplossing nie, maar die naaste ding wat ek aan kan dink is sop.

Sop is eenvoudig, bekostigbaar en gesond. Een van my gunstelinge is my weergawe van die Hollandse "erwtensop" waaroor ek so gevrek het toe ek in Nederland gebly het. Hulle maak die sop en dan bedien hulle dit met 'n sny vars rogbrood waarop hulle "katenspek" sit wat vars vet is!

Vir my resep gebruik ek:
1 Pak bevrore ertjies
1 Hollandse rookwors of 1 pakkie spek of 2 kassler tjops
so 2 liter hoederaftreksel
3 tot 4 aartappels in fyn blokkies gesny
2 seldery stingels
Vars kruie soos origanum, roosmaryn ens
1 ui of preie
klein grypie gemmer en kerrie
'n skoot knoffel

Braai die uie en knoffel in jou pot. Voeg die gemmer en kerrie by. Sny die rookwors of vleis in kleinerige blokkies en voeg by. Jou uie en vleismengsel moet al lekker sterk bruin wees maar moenie brand nie. Skep die vleis uit en sit eenkant. Plaas die aartappels, ertjies en seldery in die pot en braai so bietjie. Bedek met jou 2 of 3 liter hoederaftreksel en laat prut vir so 20 minute. As jy daardie pakkies sop ertjies gebruik kan dit langer neem.

Nou kry jy daai hand zirtser uit die kas, en maak sommer in die pot fyn. Dit is vir jou om te besluit hoe fyn. Ek hou nie daarvan om dit te glad te maak nie want dan verloor jy tekstuur. Voeg nou jou vleismengsel, vars kruie, sout en peper na smaak by, en laat hulle mekaar net bietjie leer ken vir so paar minute. Bedien met 'n stukkie brood. Trek die wolkombers oor jou voete en geniet dit!

risotto


Risotto maak mense bang, of eintlik nie - hulle maak dit net nooit nie! Vir my is dit die perfekte kos vir 'n koue wintersaand. Die enigste nadeel is dat dit redelik tyd neem en jy moet maar by die pot staan. Ek maak 'n bottel wyn oop en ek en vroulief staan maar en gesels terwyl die kleingoed rondom ons peuter.

Koop risotto rys, gewoonlik by die pasta of rys gedeelte in jou supermark. As jy op Bredasdorp bly moet jy maar vir jou vrinne in Somerset Wes kom kuier 'n slag, en dit daar aankoop! Maak 'n lekker groot pot hoender of groente aftreksel, Ina Paarman maak 'n blikkie baie goeie aftreksel of maak jou eie. Dis handig om dit te doen want mens kan dit vries en dit proe net soveel beter is die klein gifblokkies.

'n Eenvoudige resep is lekker bruin sampioene, uie en knoffel onder in jou pot gebraai in olyfolie tot sag. Gooi nou so 250 gram risotto in en braai stadig saam met die mengsel vir so 2 minute terwyl jy dit lekker deurmekaar roer. Nou moet jou aftreksel pot neffens die risotto pot staan. Dit moet nog sterk warm wees maar hoef nie meer te kook nie. Gooi nou een koppie wyn by die rys en kook af. Nou begin die werk. Jy skep met 'n soplepel elke paar minute aftreksel bo-oor die rys wanneer dit begin droog raak. Dit neem so halfuur waartydens jy die hele tyd nog 'n lepeltjie moet oorsit en roer.

Wanneer die rys sag raak, verminder die vog vir die laaste keer en dan kan jy 'n jou gesnyde sampioene, vars origanum, treksel room en handvol parmesan kaas oorgooi en deur roer. Ek vind dat dit ook sonder die room werk omdat die stysel van die rys baie romerig raak. Voeg sout en peper na smaak by. Na ete sal almal trommeldik op die mat gaan uitstrek. Nou kan jy by hulle almal geld leen!

bredie


Ek noem dit bredie want vir my is potjiekos ook maar net bredie, met die verskil dat die potjie op die oop vuur buite gemaak word. Wat ek gebruik:
1 Kg skaap skenkels of nek, of boudchops of bees chuck. Maak seker dat daar nie te veel vet aan is nie. Moenie jou neus optrek vir goedkoper stukke vleis nie, dit is gewoonlik goedkoper omdat dit taaier is maar het definitief meer geur. Daar moet egter bene in wees. Dan gebruik ek gemengde groente - wortels, brussel sprouts, patat, baby marow, uie ens.

Jou vleis gaan langer neem so fokus eers daarop. Braai een ui, fyngesny saam met bietjie knoffel onder in jou swaar pot in olyfolie. Nou voeg jy so 2 tot 3 koppies vloeistof by. Rooiwyn sal ook werk. Voeg nou so paar lekker draaie sout en peper, lourierblare, vars origanum of roosmaryn ens in. Nou sit ek my swaar pot in die oond teen so 180 grade vir 2-3 ure. Gaan stap met die hond. Haal die pot uit en voel of die vleis al sag is. Dit moenie van die bene afval nie maar so 45 minute van sag af wees. Sny jou aartappels, patat, butternut en wortels in skywe of kwarte. Pak eers die wortels, dan aartappels, patat/butternut en heel laaste jou groen groente bo op. Moenie wild aan die roer gaan nie, dis nie herderspastei nie!

Stoom jou rys solank of maak jou couscous. Na ongeveer 45 minute haal die pot uit en toets die vleis. As dit lekker sag is kan jy dit uithaal en solank begin tafel dek. Skep nou die mengsel versigtig bo oor die rys.

Hoender gaan baie dieselde werk, die gaarmaaktyd gaan net korter wees. Wat bestandele betref kan jy amper enige iets gebruik. Jy kan die pot kerrie, jy kan in plaas van water of wyn, coconut melk gebruik saam met vars coriander en thai green kerrie. Die opsies is legio maar die beginsels dieselfde. Die geheim is nie te veel of te min vog nie, nie te veel oopmaak nie, nie roer nie en stadig oor die klippe - jy kan hom nie aanjaag nie.

Geniet dit, die pot is 'n metafoor van ons lewens, soos Martin Versveld geskryf het. Die bestandele moet mekaar vind en as't ware in harmonie met mekaar saam leef/prut. Jou goeie ou swaar pot is jou venster op die lewe, die liefde en smart. Om met iemand so pot te deel is om die bybelse brood te breek. Miskien moet Suid Afrikaners meer saam potjies maak en eet!

salm


Ek weet salm is een van daai fancy en duur artikels wat die meeste mense nie eers in die begin van die maand kan bekostig nie. Maar dat dit wragtig spesiaal is, is nie altemit nie. As jy 'n ligte gerookte forel in die hande kan kry sal dit ook werk, Woolies verkoop hom en die pakkies kos so ongeveer R40 en vir die gereg is dit genoeg vir 4 mense.

Jy benodig 1 medium salm/forel, dit hoef nie gerook te wees nie maar dit sal ook werk. Maak net seker al die grate is verwyder (jy sal by my moet kom kuier dat ek jou kan wys hoe om dit maklik te doen, woolies doen dit egter darem vir jou). 1 bossie rocket, 3-4 suurlemoene, soja sous, growwe sout, peper, olyfolie en 'n lekker advokadopeer.

Haal die vel van jou vis af. Jy draai jou vis met die vel na bo. Met 'n klein skerp messie werk die een kant se punte los, amper asof jy 'n sticker losmaak van die papertjie. Die vel is taai en soos dit wegkom kan jy dit mooi afterk - trek met die een hand en druk die res van die vis met die ander hand plat op die bord. Gee die vel vir die hond. Nou sny jy die gerookte forel/salm in dun repies - so 1cm breed en afhangende van die breedte van jou vis, seker so 5-8cm lank. Gooi dit in 'n mengbak en druk jou suurlemoensap daaroor uit sowel as so twee lekker blertse soyasous. Dit moet die repies heeltemal toemaak. Laat staan vir so 30 minute. Kyk Heidi saam met jou kinders.

Haal jou salm uit die suurlemoensap, dit sal effens witter voorkom want dis eintlik nou gaar! Gooi die salm en rocketblare in 'n slaanbak. Sny die advokadopeer in skywe en plaas op elke bord. Meng jou salm, rocket met genoeg olyfolie, growwe sout en peper. Gebruik jou hande en gee nog so skoppie suurlemoensap ook. Skep op die bord langs die avo. Skink 'n glasie yskoue witwyn. Smul!

ribbes


Nie soos wanneer jou vrou jou in die ribbes pomp met die elmboog nadat jy onvanpaste grappies gemaak het nie. Wel dieselfde ribbes maar verkieslik van 'n vark afkomstig! Skaapribbetjie is ook lekker maar jy moet versigtig wees vir hom, hy het tande in die vorm van vet en sy byt het my al kwaliteit tyd op die groot wit telefoon laat deurbring!

Nee, hier praat ek van die goeie ou "speribs" soos dit in die volksmond uitgebring word. As kind was ek slapeloos opgewonde as my pa net die woorde "MacRib" genoem het. Dan het ons op 'n Vrydagaand gaan sit in die wit en rooi check restaurant en gesmul and porsies ribbetjies wat nader aan kameel as varkrib in grote kon wees.

Ek is nog steeds baie lief daarvoor en ek en vroulief doen dit op 'n vuurtjie of sommer in die oond op 'n Vrydagaand. Die beste is om die ribbes te koop wat nie te reusagtig dik aan die een kant is nie, want dan is daar gewoonlik baie vet aan en kry jy dit nie egalig gaar nie. Ek weet baie mense kook die ribbes eers en braai dit daarna maar dit voel vir my bietjie erg.

Maak jou eie marinade - enige iets soos soyasous, asyn, olyfolie, sout, peper, ander kruie, suiker of heuning ens sal werk. Laat staan die ribbes vir so uur in die sous. Dan bak jy hom rustig in die oond teen 180 grade vir 'n halfuur, afhangende van dikte.

Moenie te veel fancy bykosse maak nie want jy gaan eet met jou vingers en die besigheid gaan te taai wees. Wat lekker werk is net 'n eenvoudige groenslaai, sommer as voorgereg soos die Franse maak. Dan eet jy en jou geliefdes julle lekker blinkvet en daar is nog bene vir Wagter!

maak 'n vark van jouself


Dit verbaas my altyd dat daar heelwat mense is wat so half laggerig raak as daar gepraat word oor varkvleis. Dis asof die vark gesien word as tweederangs. Daar is natuurlik mense wat nie vark wil eet nie vanwee geloofsredes. Daarvoor het ek simpatie. As ek terugdink aan my jongdae en bekenstelling aan varkvleis kan ek nogal verstaan hoekom. Onthou jy nog daai varktjops met die meter vet aan? In die koshuis op Stellenbosch was ek so verhonger dat ek daardie vet gulsig opgevreet het. Daardie vark het mos so half "stink vark" geruik en so wild geproe.

Deesdae is daar egter wonderlike vark produkte te koop. Ek het al geskryf oor varkfillet. Ons eet gereeld varknek tjops omdat dit sappig, gesond en goeie waarde vir geld is. 'n Lekker manier om dit te maak is om dit gewoon in 'n lekker warm oond vinnig te rooster. Gebruik 'n lekker growwe roosmaryn of sage en sout mengsel oor die varkie. Daarmee saam kan jy patat of butternut, wortel en spinasie maak. Wat lekker werk is om al jou groente sos patat, butternut, aartappel en wortel in klein 1cm blokkies te sny. Terwyl jou nektjop in die oond braai kry jy 'n lekker groot pan bo op die plaat warm. Braai bietjie uie en knoffel in olyfolie tot sag. Braai jou blokkies groente lekker vinnig en as dit te droog raak offer bietjie van jou glas se witwyn daarby. Voeg sout en peper na smaak by. Die voordeel van die metode is dat die groente lekker vinnig gaar word. Onthou die groente moenie pap wees nie. Nou kan jy die groente in 'n opdienbak oorgooi en vinning jou spinasie braai met bietjie botter - blitsig, jy wil net die spinasie skrikmaak!

Nou bedien jy jou varkie met die groente blokkies en heerlike krakerige spinasie. Maak jou glas witwyn vol en sit op die stoep met die gereggie.

heel hoender


Ek kan nie heel hoender uitlaat en met 'n goeie skoon gewete die blog skywe nie. Dit sal sonde wees. Heel hoender is die Barbara Streisand van kos in my opinie. Sy kan sing, is mooi van lelikgeit en almal is lief vir haar. My resep hier is eenvoudig. Kry 'n mooi groot plaashoender as jy kan. Smeer haar met bietjie botter en strooi vars tiemie of roosmaryn en sout orals. Druk nou 'n klein suurlemoen in die maag in en druk toe met 'n tande stokkie of twee.

Plaas nou jou hoender in 'n oondbak bo op 4 wortels wat jy onderin in 'n ry pak. Dit laat die warm lug onderdeur die hoender sirkuleer. Sny twee groot uie in dik skywe en strooi rondom saam 'n paar groot halwe artappels. Druk in die oond teen 180 grade. Nou het jy baie tyd - seker so 2-3 ure. Verf iets vir jou vrou.

As die hoender gaar is haal dit uit die oond. Haal die suurlemoen versigtig uit sonder om te prik en gooi dit weg, sy werk is klaar.

Skep die hoender op met die artappels en uie tesame met 'n klein slaaitjie of groen groente soos gestoomde broccoli of spinasie.

Daar is net een Barbara Streisand!

visbakkie


Die ou gebaktevis gereggie is eenvoudig en maklik. Jy benodig eerstens 'n paar mote vis waarvan jy die meeste grate verwyder het. Jy kan enige vis soos stokvis, geelbek/stert en selfs forel gebruik. Net nie daai oranje haddock vis nie! Ek dink selfs visse sal dit nie eet nie. Smeer 'n oondbak met plaasbotter. Plaas die mote onder in. Strooi so paar grype fyn kerrie en gemmerpoeier daaroor sowel as sout en peper na smaak. Strooi 'n handvol mozarella of gewone chedder bo oor. Sny twee piesangs in fyn wiele en pak bo oor die spulletjie.

Plaas in jou voorverwarmde oond teen 180 grade vir so 30-40 minute, afhangende van die dikte van jou vis. Jy kan hierby net 'n kapokartappeltjie in sy skil kook met bietjie slaai of groente van jou keuse. Skep die vis in, snipper bietjie vars pietersielie en stooi bo oor. Druk so een suurlemoen sap uit oor alles. Die geur van die kerrie, sagte vis, soet gebakte piesang met suurlemoenskop en vars petersielie, gaan jou voete onder jou uithaal.

dolmades


Hierdie is 'n maklike ding om te doen as jy toegang het tot wingerdblare. Ek pluk altyd die mooi jong blare wat nog sag en heeltemal groen is.
Blansjeer die blare in 'n groot pot kokende water vir 5 minute. Gooi die water uit en raak onslae van die dik stele en ergste dik are. Druk droog met kombuispapier en sit eenkant. Nou vir die vulsel - alles in die lewe gaan mos maar oor wat binne aangaan!
Die meeste vulsels is rysgebasseerd en hier kan jy lekker eksperimenteer. 'n Lekker resep is om uie, fennel, fyn suurlemoenskil (zest), pine nuts en rys te soteer in olyfolie to sag. Voeg dan 'n halfkoppie hoender of groente aftreksel by en kook weg op lae hitte to rys 3/4 gaar is of eldente soos die Italianers praat. Giet die rysmengsel in 'n mengbak, voeg dill, petersiele, sout en peper by. Laat afkoel. Skink die witwyn en gesels met jou skoonma.

Sit nou jou wingerdblare plat neer op jou werksoppervlakte. Sit 2 teelepels rys naby die einde van elke blaar. Vou die stam gedeelte oor die vulsel, vou beide kante na die middel en rol hom in so sigaartjie. Moenie dit te styf rol nie, want die rys sal nog swel as dit ten volle gaar is. Druk dit liggies in jou handpalm sodat die rol mooi vas sit. Herhaal met al die blare. Plaas dit nou in 'n lekker groot pan met die vouplek na onder, giet nog 'n halwe koppie aftreksel daaroor met so een of twee suurlemoene se sap. Die vloeistof moet so halfpad oor die dolmades kom. Maak die pan toe met 'n deksel en stoom oor baie stadige hitte vir so 30 tot 40 minute todat die dolmades sag is wanneer jy dit met 'n vurk prik. Bedien by kamertemeratuur of koud met 'n glasie wyn en smul! Laat die griek in jou uitkom en dans sommer met jou skoonma op die tafel.

french toast


Nog 'n heerlike treffer vir 'n naweek oggend is french toast. Ek gaan dit definief nie franse roosterbrood noem nie - jammer maar dit klink simpel. Die meeste mense sal dit noem as iets wat hulle baie maak maar ek is nogal seker dat dit iets is wat soms baie sleg gemaak word.

Moenie bruin of volgraan brood gebruik nie, hierdie is nie 'n gereg om mee gesond te wees nie - wel gesond in jou gees want dit is comfort food. Klits so 6 eiers (3 mense) en voeg 'n trekseltjie melk/room by. Giet dit in 'n plat bak en laat die brood daarin dryf. Verder benodig jy brie kaas, cranberry konfyt, sout en peper.

Druk die brood versigtig plat met 'n vurk, draai om en maak seker dat die eier regdeur ingetrek het. Moenie die brood breek nie. Kry 'n pan om medium hitte gereed met 'n bietjie olyfolie en botter. Plaas nou jou brood met 'n spaan daarin en laat stadig braai. Gooi bietjie sout en peper op die rou kant. Draai om as dit lekker goudbruin of amper swart begin raak. Nou sny jy jou brie in skywe. Plaas die skywe brie oor die brood en smeer die cranberry jam bo-oor die kaas. Dit sal begin smelt, haal dit uit die pan as dit gereed is.

Onthou, as jy mense het moet jy ten minste twee snye brood per persoon regkry want almal eet meer as gewoonlik met die tipe ding! As ek baie moet maak, braai ek eers al die brood klaar en sit dit in die lou oond. Daarna sit ek dan die brie en jam oor.

Bedien met lekker koffie.

10 maniere om jou kat te wok


Die titel is bietjie kras. Toe ek in Nederland gebly het, was dit die gebruik van die klomp Suid Afrikaners in ons studentehuis om BAIE stirfries te maak met 'n magdom verskillende tipes groente, vleis, rys, noodles en souse. Een ou het grappend gewys vewys na 'n 10 maniere waarop jy jou kat kan gaarmaak in 'n Wok. Dit verwys natuurlik na die verhale wat mens altyd hoor van die oosterse volkere wat nie verby 'n vars gaargemaakte hond of kat kan loop sonder om te proe nie!

Ons gaan nie hier werk met hond of kat op die spyskaart nie, vryf maar vir Wagter op sy kop...

Waaroor dit wel hier gaan is 'n wonderlike en ekonomiese manier om kos in een tradisionele Japanese pan, genaamd 'n Wok, gaar te maak. Die bestandele is baie maklik - alles wat jy vars het: uie, peppers, broccoli, blaarkool, seldery, wortel, leeks, pynappel ens. Wat vleis betref, gebruik enige van die: spek, vark fillet, skaap tjops, steak, hoenderborsies, wors, vis (kingklip is die beste witvis vir dit), garnale, mossels, oesters, calamari ens.

Die geheim van die ding is die WOK, die souse, spoed van gaarmaak en die kombinasie van bestandele. Ek gebruik 'n dun stainless steel wok met 'n deurskynende deksel - van Duitse maak! Jy koop orals die goed, moet net nie 'n ding koop met 'n dik boom nie, die hele idee is vinnige hitte.

Sny jou hoenderborsies in fyn repies. Sny jou groende ook redelik fyn. Stoom jou basmati of jasmine (of enige wit) rys. Gebruik 'n olie soos canola, olyfolie is te soet en die werwarmingspunt is te hoog. Gooi die olie onderin en maak lekker warm. Voeg hoender, uie, grypie gemmer en kerrie of chilly by. Roer die hele tyd maar moenie die goed stukkend roer nie. Die wok raak vinnig warm en brand gou aan. Voeg die groente by en meng. Spoed is die ding hier. Nou kom die souse. Ek hou van 'n mengsel soos die volgende:

1 tot 2 teelepels sesame olie
1/2 teelepel fyn gesnyde knoffel
1/2 teelepel fyn gesnyde gemmer
1/2 cup hoender aftreksel
1 eetlepel soya sous
1 eetlepel bruin suiker
1/8 teelepel Tabasco
1/2 teelepel sout
1/4 teelepel pepper
1 tot 2 teelepels suurlemoen of lemmetjie sap
1 tot 2 teelepels maizina
1 eetlepel rys wine of sherry

Jy kan ook baie lekker souse koop by jou kruidenierswinkels. Sweet and Sour, Stirfry of enige iets na jou smaak. Die regte een om te koop is 'n maak genaamd "Hasty Tasty".

Gooi jou sous oor en roer deur. Plaas die deksel op en draai baie laag. Gooi wyn in, gee vir Wagter sy kos, dek gou die tafel. Skep die reis op en skep die heerlike mengsel daaroor. Moenie te lank wag nie, die groente moet nog krakerig wees. Versigtig vir sout omdat die soyasous baie sout is. Sit voor en geniet. Wat oorbly gaan die volgende dag in 'n kosblik saam werk toe!