rose vir liefde


Om kos te maak met blomme is niks nuuts nie. In die Romynse tye was dit hoogmode en dit kan selfs verder terug opgespoor word in die Chinese, Midde Oosterse en Indiense kookkuns. Eetbare blomme was nogal ook die in-ding in die Victoriaanse era, tydens Koningin Victoria se tyd.

Vandag is daar baie innoverende chefs wat hulle kos versier en geur gee met blomme. Die twee belangrike dinge is om te weet dat alle blomme nie eetbaar is nie (as jy dit nie snap nie, sit assblief die mes neer en stap baie stadig by die kombuis uit) en dat jy die blomme goed moet afspoel in ligte seepwater en vars water, om ontslae te raak van die gif wat mense daarop spuit.

Hier gaan dit om rose. Ek is onlangs weer herhinner aan hoe ongelooflike krag liefde in al haar vorme kan wees. Dit kan jou vind net wanneer jy dit nie verwag nie en so moet ons ook vir mekaar kosmaak met liefde. Gebruik bloedrooi rose hiervoor. Alle rose is eetbaar en hoe donkerder die roos, hoe dieper is sy geur. Miskien moet ek net ook noem dat jy nie die stele en blare moet eet nie! As jy so gedink het is dit miskien nodig dat ons 'n meer intense kookles proses binnegaan, waartydens ek eerstens alle skerp messe en gevaarlike voorwerpe uit jou kombuis en yskas sal verwyder!

Dit is maklik om te maak. Bak jou hoender (nes een van my ander resepte hier) in die oond teen 180 grade. Voor jy hom insit, smeer jy hom met plaasbotter en plak as't ware die bloedrooi roosblare reg oor die hoender. Nou gaan jou hoender in die oond in. Moenie al die blare gebruik nie, los meeste vir later.

Die blare op die hoender sal donker word en verkrummel, jy sal dit afskraap en weggooi. Nou vir die roosblaar sous:
2 koppies water, jy kan ook hier bietjie groente aftreksel in oplos
2 eetlepels plaasbotter
2 knoffelhuisies fyngesny
1/2 teelepel anyssaad
6-8 bloedrooi oop rose, blare afgetrek
1 geskilde rooi turksvy of 2 rooi pruime, geskil
Handvol neute - geroosterde amandels of pekan neute sal werk
2 eetlepels heuning
Sout en swart peper
Jou hoender natuurlik!
Olyfolie

Okay, nou doen jy die volgende:

Bak jou hoender. Bring jou water to kookpunt in 'n pot. Terwyl dit gebeur smelt jy die plaasbotter in 'n pan, braai die knoffel en anyssaad saggies vir so paar minute en sit eenkant. Nou gooi jy jou turksvy of pruime saam met die roosblare in jou voedeselverwerker en maak die puree. Gooi dit in die pan saam met die anyssaad mengsel en laat dit stadig aangaan vir so 10 minute. Nou roer jy die heuning, sout en peper by en druk die mengsel goed deur 'n sif todat net die sous en miskien klein stukkies neut in die potjie oorbly. Hou die sous warm.

Op 'n spierwit tafel strooi jy nou van jou oorblywende blare rondom, en sommer orals oor die borde. Laat jou geliefdes aansit by die tafel. Ek sou as agtergrond musiek iets soos Charles Aznavour opsit. Skep die sous oor die wonderlike gebraaide hoender. Kyk baie diep in mekaar se oë...rose is vir liefde en liefde is vol verassings!

couscous


Ek is mal oor kos wat van van die vroegste dae af kom. Couscous is so iets. En van die vroegste geskrewe verwysings daarna kom van 'n anonieme 13de eeuse Spaanse Hispano-Moslem kookboek, Kitāb al-tabǐkh fǐ al-Maghrib wa'l-Andalus (Arabies) of in Engels vertaal: die kookboek van die Maghreb en Al-Andalus, met 'n resep vir couscous wat regoor die wêreld bekend was.

Dink net, hier staan jy nou in jou kombuis, jy is moeg, die kinders is stout, jou man het jou lanklaas in die nek gesoen en net soms wonder jy of dit nou maar jou storie is...Maar in jou hand is dieselfde bestandele wat in die 13de eeu deur gevaarlike Berber donkeroog swaardvegters geniet is om die kampvuur. Weg is al die geluide. Jy is geklee in spierwit linne klere wat wapper in die woestynwind. Jy gooi die couscous in die snelkokende water met 'n grypie sout, sit die deksel op en haal af van die hitte. Laat hom staan vir so 2 minute.

Nou braai jy verskillende kleure peppers, sampioene, rooi uie en knoffel in 'n pan. Sny vars grasuie en kruie fyn. Maak jou couscous pannetjie oop en sit 'n lekker lepel botter daarin en sit dit terug op lae hitte. Voeg jou mengsel daarby en roer lekker deur terwyl die botter smelt. Nou skep jy dit uit en strooi jou vars groen mengsel daaroor. Hier kom jou Berber prins by die tentflap in...

skaapboud


Partykeer kry ek so verlange na die dae toe die skape se boutjies in meer oorvloed was en toe mens gewoond was om gereeld, op 'n Sondag rondom 'n lang tafel, die sagte vleis met gebakte artappels, bone en wortels te eet. Ek weet nie van julle nie maar dit is iets wat ek selde my hande op kry om te maak.

As jy hom wel het moet jy saggies trap, dit is heilige grond die. Die eerste groot fout wat mense baiekeer maak is om die vleis nie ordentlik te laat ontvries nie. Ek neem aan dat die meeste van ons darem so ou boudjie daar in die linker hoek onder in die vrieskas hou vir 'n spesiale geleentheid. Ek sit my vleis voor my neer. Ek dink dat mens hier en daar van die oortollige vet kan afsny maar wees versigtig om minder as een sentimeter vetlaag te los. Wat ek gewoonlik doen is om die vetlaag soos 'n tennis rakket oorkruis te sny todat jou mes raak aan die vleis daaronder. Dit help maar net dat die vet meer wegbraai.

Nou maak ek sulke een sentimeter snitte en druk regoor die boud so hier en daar 'n knoffelhuisie in. Ek hou daarvan om vars roosmaryn en growwe sout te meng en die hele boud te smeer met dit en olyfolie. Dis mos lekker om met jou hande aan 'n boud te vat - al is dit nie 'n beeldskone vrou nie!

Nou kry ek my oond op 180 grade aan die gang. Ek vat my mooi koper bakpan en sit vyf dikkerige geelwortels in 'n mooi ry langs mekaar, met so drie sentimeters tussen elkeen. Ek sit my boud op die wortels neer, dit help vir lugvloei onder die boud. Dan maak ek die bak toe met tinfoelie. Moenie worry oor watter kant na bo nie, dis 'n mite daardie blinkkant bo storie! Sit dit in die oond. Nou kan jy lekker tyd neem om op die mat te sit en koerant lees of met die kleintjies te speel. Ek reken dit neem so drie ure maar dit gaan afhang van die boud.

As jy hou van gebakte aartappels kan jy dit solank skil saam met enige ander groente waarvoor jy lus het. Wat ek deesdae van hou is om mooi jong beet te skil en in 'n aparte bakpannetjie in helftes te neer te sit. Dan gooi ek olyfolie oor, baie balsamic asyn en 'n grypie bruin suiker. As jou boud so twee ure aangestap het haal haar uit, raak ontlae van die foelie en pak jou aartappels en lekker growwe stukke rooi uie rondom haar. Nou sit jy die beet ook op die onderste rak.

Die boud sal nou lekker bruin gebak wees. Haal haar uit om te rus. Nou haal ek die aartappels uit en sit weer terug in die oond om te rooster, draai maar die oond vol oop. Nou vat ek die vog met alles daarin en gooi dit in 'n pan, ek druk die wortels fyn met my masher. Draai die gas oop en laat dit lekker vinnig prut. Voeg nou 'n lekker treksel rooiwyn uit jou glas by en 'n mooi klont plaasbotter. Reduce dit heelwat, nou het jy jou sous. Nou begin jy jou skaapboud opsny en pak dit mooi uit in jou ouma se mooi plat bord en stort die sous mooi daaroor. Nou sit jy jou beet, aartappels en watter ander bykos wat jy het op die tafel saam met die skapie. Dan roep jy jou liefies, sit Stef Bos se weergawe van "suikerbos" op en skink die Shiraz. Ai tog... suikerbos ek wil jou hê, wat ook al jou ma daarvan sal sê...

chicken a la king


Die meeste van ons ken die gereg van ons jong dae af, maar snaaks genoeg is dit iets wat mens nie meer baie maak nie. Ek vind myself op 'n Dinsdag aand met hoederborsies, 'n groen en rooi peper, halfpakkie sampioene, takkie tiemie en 'n potjie mascarpone kaas. Dan dink ek: "Thai green curry" of "butter chicken" en gaan aan. Maar eintlik is die goeie ou chicken a la king so gewone en lekker ding dat ons miskien versigtig moet wees om ons self te fancy te hou.

Die ding is dat heel eenvoudige resepte wonderlik kan wees as ons net bietjie inspirasie bygooi. Die chicken a la king van my jeug was weliswaar verskriklik boring en het maar na room geproe. Daar is tips wat mens kan gebruik om dit lekkerder te maak.

Hoenderborsies kan met fynvleis van 'n heelhoender vervang word om meer sappig te wees en veral vars groen kruie kan die gereg baie lekkerder maak. En met bruin porcini sampioene kan mens ook jou ou tekkies opvreet!

Wat ek maak is om grasuie, knoffel, biejie vars chili wat fyngesny en ontpit is, klein bietjie kerrie en 'n grypie gemmer in 'n pan te laat aanstap. Dan voeg ek my hoender by en braai saggies. Nou voeg ek die fyngesnyde groen en rooi pepers en die porcini (of enige sampioene) by. O ja, voor ek dit opdrink, net so halwe glas witwyn. Laat hulle met mekaar kennis maak en sit die pot se deksel op. Kook solank jou rys en maak 'n kaggelvuur. Doen gou jou facebook updates.

Alles is nou gaar, nou moet ons net die sous bietjie laat reduce. Haal die deksel af en draai bietjie vinniger. As die sous minder raak, gooi jy jou room of mascarpone kaas by en laat dit stadig prut. Gooi 'n lepel plaasbotter by. Die geheim van franse kookkuns is mos botter, botter en botter! Nou kan jy jou vars tiemie, origanum, marjolyn ens oorstrooi. Wat ook lekker werk is om nou bietjie suurlemoen skil of zest oor te rasper. Growwe sout en peper na smaak en siedaar. Kyk om jou hoe almal hulle laaste rys en die sous met hulle poeding lepels opeet!

waatlemoen slaai


Hierdie resep het ek gesteel by my gunsteling chef, Michael Smith. Ek het dit al 'n paar keer gemaak en dit is altyd 'n wenner. Ek het natuurlik bietjie daarmee gelol maar die geheim is 'n soet waatlemoen. Wat kan dan nou verder verkeerd gaan?

Ek weet daar is baie yuppie waatlemoenslaaie met allerhande pitte en souse oor maar my ding met iets so wonderlik soos waatlemoen is om dit basies te hou. So baie mense lol met die inhirente karaktereienskappe van 'n tipe kossoort, dat dit vir my soms voel asof dit verlore gaan. Hoekom wil jy dan nie die waatlemoen sien en proe nie?

Ek het onlangs sogenaamde "danish feta" raakgeloop by 'n winkel. Dis 'n neef van die tipiese Griekse weergawe, maar is eintlik heelwat souter maar ook gladder en romeriger. Nou sny jy jou waatlemoen in blokke en probeer soveel as moontlik van die pitte uithaal. Sny die deense feta in blokkies. Gooi jou waatlemoen stukke in die slaaibak, voeg die feta by en gooi lekker growwe sout en peper daaroor. Nou vat jy die beste olyfolie wat jy kan kry en bedruip bo-oor. Meng lekker deur met jou hande maar moenie die hele besigheid versap nie, versigtig soos jy met jou baba werk.

Smul nou aan die wonderlike soet waatlemoen met die sout feta, lekker growwe peper en die olyfolie! Die gereg is basies maar verskriklik lekker. Ek vind dat rocket of watercress ook daarmee saam werk as jy wil. Nou dat ek daaraan dink, wat van 'n bietjie mintblare, suurlemoensap en skil en bietjie fyn gemmer...wow dit kan werk!

nog salm


Salm is net so fantasties dat ek nog en nog daaroor kan skryf. Een van die ander resepte in die blog praat oor 'n salm slaai. Hierdie een gaan oor pangebraaide salm. Dis ryk, geurig, duur, romanties en net hemels lekker. Eet dit saam met iemand spesiaal.

Jy benodig so half kilo vars of bevrore salm. Ek koop die bevrore chileense salm maar as jy 'n woolies beurs het dan is dit eerste prys om die vars salm daar te koop. Plaas die vis voor jou met die velkant onder. Jy sal sien dat die hele boonste strook min of meer ewe dik is en dat die onderste strook so afloop en al hoe dunner word. Sny nou in die lengte van die vis die dun gedeelte af en sny jou vis in die breedte sodat jy twee mooi gelyke mote het. Die dun stukkie sit jy in die yskas vir more se roereier! Kyk net of daar fyn grate is en verwyder met klein messie.

As bykos werk mash lekker (sien resep "mash en watookal") of net 'n lekker braai aartappel saam met 'n groen slaai en aspersies.

As jy vrot panne het gaan dit lol so koop die regte pan, of bel my dat ek jou in die regte gate in Woodstock kan invat om te koop daar waar die chefs koop! Smeer jou vis aan weerskante met olyfolie en gee bietjie sout en peper. Kry nou jou pan aan die gang met nog 'n bietjie olyfolie. Nou sit jy jou salm met die velkant na onder. Moenie lol aan hom nie, as hy reg is sal die pan hom wegdruk sodat jy hom maklik kan omdraai. Die vel raak so lekker crispy! Hy sal amper begin aanbrand, wees versigtig. Voeg jou botter in en lepel oor die mote, draai versigtig om met die vel na bo.

Nou moet jy gou werk, salm moet eintlik minder as medium gaar wees. Moenie nou aan die klets raak op jou telefoon of so iets nie. Skep jou lekker mash aan die een kant, jou groenslaai met asperies aan die ander kant en plaas op elk bord die salm, velkant na bo so half skuins teen die mash. Bedruip met die botter uit die pan so oor en rondom die vis.

Enige wyn kan werk hier - ek het al rooiwyn daarmee saam geniet maar die purityne sal vra vir iets droog en lig. Moenie chardonay gebruik nie, die vis is al klaar ryk. Ek dink sauvignon blanc hehoort te werk. Nou versamel jy jou geliefdes en kyk diep in mekaar se ogies...die lewe is darem partykeer goed.

2 minuut noodles


'n Kosbare vriendin het onlangs vir my genoem dat sy: "vanaand sommer net 2 minute noodles gaan eet". Ek dink nie daar is iets fout daarmee nie, maar wonder of mens dit nie bietjie kan opjazz vir haar nie. Kom ek dink bietjie...

Wat het ek hier om my? Daar is 'n suurlemoen, ek vat hom. Ek maak die yskas oop, my vrou se tupperware val almal uit - ek tel dit brom-brom op. Okay, daar is in die hoek so stukkie parmesan kaas, vat dit. Ek kyk in die groentelaai-daar is 'n paar wortels, ek vat dit. Ek spoor ook 'n paar sampioene op. Daar is 'n knoffelhuisie, bietjie plaasbotter en 'n takkie origanum. Daar is ook 'n halwe pakkie rocketblare en 'n oraaiterige halwe advokadopeer. Ek kyk in die kas, a-ha een van die klein botteltjies ansjovis fillets kruip nader! As jy nie ansjovis het nie sal olywe ook doen. Okay, miskien het ons tog vanaand iets om te eet. Wat nog, miskien 'n rooi ui?

Ek kook die 2 minute noodles en ja dit vat maksimum 2 minute! Dreineer goed, gooi in mengbak en gooi blerts olyfolie oor. Nou rasper ek die suurlemoenskil en parmesan oor en meng deur. Nou braai ek gou my uie, dun repies wortel, knoffel en sapioene in die plaasbotter todat dit lekker karameliseer (fancy woord, dit word net soeter!) en gooi by die mengsel. Ek neem so 1 ansjovis filletjie en sny dit baie fyn en meng deur. Onthou dit is baie sout en moenie oorheers nie. Ek gooi dit by saam met die vars origanum blaartjies. Nou skep ek dit in my bord, rangskik die rocket blare en skywe advokadopeer mooi bo op, gee so paar drukke van die suurlemoen se sap, nog 'n blerts olyfolie en 'n paar parmesan vylsels met jou groente skiller. Growwe sout en peper na smaak bo oor. Laat ek dink, ja miskien 'n glas Du Toitskloof Sauvignon Blanc met 'n kaggel wat knetter en siedaar...romanties op 'n budget!

3 bone slaai


Hierdie is 'n eenvoudige wenner wat jy 'n aand of twee voor die tyd kan maak en vir 'n paar dae hou. Ek gebruik:
1 blikkie botter bone
1 blikkie canellini bone
1 blikkie chickpeas
1 groen peper
1 rooi ui
grypie bruinsuiker
grypie vars knoffel
1 suurlemoen
grypie gemmer
vars petersielie
grypie gerookte paprika
growwe sout en peper
halfkoppie wyn asyn
halfkoppie goeie olyf olie

Onthou jy kan eksperimenteer, jy kan lensies bygooi of ander bone - belowe my net dat jy nie baked beans bygooi nie, dit is wat my betref saam met haddock en sandwich spread die aakligste goed beskikbaar!

Dreineer jou bone goed en spoel af. Sny die ui in fyn ringe. Sny jou groen peper in klein blokkies. Rasper versigtig die suurlemoen se zest (buitekant van die skil alleenlik). Gooi dit alles sowel as die sap van die suurlemoen, die knoffel en parika in 'n mengbak en meng goed. Moenie die bone breek nie. Voeg nou jou paprika, suiker, asyn, olyfolie en gemmer by. Meng, proe, meng proe - jy soek 'n balans tussen suur, sout en soet. Jy kannie kos berei sonder om te proe nie. Ek brand my mond permanent van proe oor die potte! Voeg sout en peper na smaak by en plaas in die yskas. Net voor jy dit opdien, strooi jou vars petersielie en miskien nog so blerts olyfolie oor. Hy moet maar bietjie staan om op sy lekkerste te wees. Bedien saam met enige iets of net op sy eie. Dis baie gesond maar moenie kla as jy vir die eerste span winde kan los nie! Dis mos alles deel van die ding.

my lewe in wyn


Oor die eeue heen is kos en wyn as sinoniem met mekaar aangebied. Die edelvrug se sappies is per slot van rekening die opgan en ondergang van vele mense. Ek moet hier herken dat ek in die regte hardebaard wynhelde se geselskap maar 'n lammetjie is, so moenie my vra oor taniene en "smooth finish" nie.

Wat ek wel weet is van proe. My smaak is myne en niemand anders sin nie. Ek moet bieg my smaak in wyn het waarskynlik darem oor tyd verbeter. Hierdie is so half 'n rekord van wyne wat op een of ander manier 'n negatiewe of positiewe rol in my lewe gespeel het. Diegene wat dink ek is 'n suiplap is verkeerd, hierdie onderonsies het my juis perspektief gegee.

Ons begin met 'n familie vakansie en toer deur die wynlande. Ek is 13, rof, onbeskof en geheimsinnig. My pa laat my toe om ruim te proe aan Delheim se Edelspatz. Ek gedra my swak en begin wyn op die kelder vloer uit te spoeg in my dronkenskap. Die familie sug, een van vele. Ons stap aan na 17 jaar oud. Ek en 'n vriend kry deur sy pa gratis kaartjies om 'n film premier te gaan kyk. Ons is besig met eksamen, die drank is gratis. Hier ontmoet ek die prins van kelders - of soos hy bekendstaan: Kelderprins. Dit gaan swak en ek verloor meeste van die wyn met die loop van die nag. Die volgende dag slaap ek op my arms in die klas.

Nou word ek eerstejaar op Stellenbosch. Ons speel matie proewe en daarna spreek Dok Craven ons toe en maak hulle die matieklub oop vir gratis drankies. Ek drink 'n paar biere, net vir die dors, want sien ons is op pad na Finlays om te gaan vier. Daar gekom drink ons nog 'n paar biere, net om dinge in perspektief te plaas. Toe stap twee ander vabonde my lewe in. Die eerste, van onsekere portugese oorsprong is Graca. Sy vriend, en bestem om my vriend te word tydens my arm studente dae, heet Tassenberg, of tassies soos hy ook bekend staan. Om 'n lang storie kort te maak, my arme kamermaat se splinternuwe rooi mat het dit ontgeld, die rooi het 'n wortel spikkel bygekry.

Daardie ervarings was genoeg, tesame met 'n fantastiese hoveelheid hereksamens in my eerste jaar om my te laat wakker skrik. Met die mensword het ek begin besef dat ek wyn moet leer ken en moet respekteer. Ek kan nou nog nie Graca drink nie.

Nou spring ons na my meer gekultiveerde nagraadse studies toe. Jy doen 'n M graad, jy is steeds bleddie arm maar jy het opinies en dra corduroy. En daar stap ek die pad met Chateau Libertas of soos ons hom genoem het: Chateau Collapso. Nederland volg en ek drink lekker, rowwe en goedkoop Chileense vino so tussen die witbier deur. Dis grof en ongenaakbaar maar vol siel. Ek beleef Brunello en Grappa in Toskane en my ogies gaan oop. Duitsland gee vir my werklike riesling soos hy moet proe.

Mettertyd het my vrees vir witwyn, ondanks Graca, begin kwyn en word ek deur middel van my skoonpa se KWV kwota, 'n liefhebber van swaar, gehoute Chardonnay. Dit waai oor tydens my dae in die fancy swart pakkie-korporatiewe omgewing en bring my by Durbanville Hills se Grasgroen Sauvignon Blanc en die wonderlike Life from Stone van Springfield, waarin jy amper die klip proe waarop die wingerd groei. Nou drink ek graag rooi Shiraz, Pinotage, Voignier versnit en wonderlike pienk vonkelwyn wat so droog is dat die stof in jou mond spat, tesame met soveel andere lekker wyne wat hier om my beskikbaar is.

Saam met kos wat met sorg voorberei word, geselskap wat jou tuis laat voel en 'n atmosfeer van liefde en geborgenheid is die wyn edel en kan ek beswaarlik my lewe daarsonder sien.

Wat ek wel weet is dat balans in die ding, soos ander dinge in die lewe die eintlike pad na verheldering is. As ek te veel wyn drink verloor ek die edelheid daarvan, verloor ek die smaak van gras of swart bessies...en sit ek met daai aaklige skeelhoofpyn.

Kom ons klink 'n glasie op mekaar, vier ons lewens met al die kronkeldraaie daarin, en wees net lief...

jus



Rooi wyn en rooi vleis. Wat kan beter wees saam?

Ek het onlangs weer begin krap aan die klassieke Franse tegniek van Jus. Dis maar eintlik net 'n manier om soos in dié geval, rooiwyn te reduce na 'n heerlike sous waarmee jy basies selfs jou skoonma kan eet, hoewel steak ook goed is.

Gebruik 'n kombinasie van hoender en vleis aftreksel. Wat jy benodig is:

250 ml rooi wyn, wat jy drink
125 ml vleis aftreksel
125 ml hoender aftreksel
2 knoffelhuisies
1 takkie vars roosmaryn

Nou vat jy 'n klein souspannetjie en sit dit op lae hitte. Druk die knoffel plat met jou mes en gooi in die pannetjie. Gooi jou wyn in en druk die roosmaryn takkie in en laat prut todat helfte van die volume verdwyn - maar moenie te wild kook nie. Nou gooi jy die vleis en hoender aftreksel by saam met so paar draaie peper en laat nog aanstap, todat dit lekker dik onderin die pannetjie is. Onthou jy kan die jus lank voor die tyd soos die vorige aand maak. Hoe stadiger jy dit maak hoe meer gekonsentreerd.

Nou het jy opsies, jy kan room byvoeg, mascarpone kaas of net in die klassieke manier bedruip oor jou skoonma, ek bedoel steak! Druk dit net eers deur 'n fyn siffie om ontslae te raak en werk dan verder. Voila!

aspersie pasta


Ek hou baie daarvan om lekker pasta soos penne of spaghetti te maak waarin ek net aspersies en parmesan gebruik. Die ou waarheid van goeie bestandele wat die maaltyd maak is hier waar. In Europa het ek vars aspersies amper daagliks gebruik omdat dit so beskikbaar is. Hier moet jy nogal mooi kyk, maar as jy hom volgende keer op die rak sien - gryp hom en bel my!

Die ou groot dikkes is nie waarvoor jy hier soek nie, maar ook nie die heel dun pieperiges nie. Sny so 1-2 cm van die onderste stele af. Kry 'n lekker pot met kokende water en twee grype sout reg. Kook vinnig - 3 minute maksimum, en haal uit. Gooi bietjie yswater in 'n mengbak en gooi die aspersies daarin om weer lekker styf te staan. En ek gaan nie nou hier 'n onvanpaste grappie van styfstaan en yswater maak nie!

Hou die water van die aspersies en kook jou pasta daarin. Dreineer. Gooi nou olyfolie, swartpeper, aspersies, vars origanum en 'n lekker handvol gerasperde parmesan kaas oor en meng lekker deur. Skep op elke bord en gebruik jou groente skillertjie om 'n paar fyn parmesan skille op elke hopie te sit - dit moet mos mooi ook lyk.

Geniet die eenvoudige kos met 'n lekker chenin blanc en onthou die kerse, jy gaan haar impress met die eenvoud waarmee jy die goeters sommer so "saamgooi" en nog lekker ook maak.

patat


My resepte sal nie volledig wees as ek nie oor patat skryf nie. Ek het al 'n geruime tyd gelede oor butternut geskryf wat prins is. Indien dit waar is, is patat die beeldskone halfsuster...

Ek het gisteraand weer my pan-patat gemaak en sjoe, dis darem lekker! Vat twee medium langerige patats en skil dit. Sny dit in medium skywe en stowe in bietjie water tot effens sag maar nie pap nie. Nou gooi jy bietjie plaasbotter en olyfolie in 'n pan. Nou vir bo oor die patats: ek het eendag per ongeluk op iets afgekom in my speserye rak (wat iemand eendag persent gegee het). Dis 'n grindertjie met growwe suiker, koffiebone en skokolade pitte van een of ander fancy deli. Dit, saam met bietjie fyn kaneel is fantasties oor patat.

Braai die skywe stadig en strooi die mengsel van koffiebone, sjokolade, growwe suiker en kaneel aan beide kante. Die patat sal goudbruin verkleur en selfs effens aanbrand. As jy jou patat te pap gekook het is jy in die moeilikheid.

Nou gee jy die steak vir die hond en eet net die patat, dis so lekker. Ek dink ook dis 'n romantiese gereg, so bietjie soos Robin Hood - van arm afkoms maar edel en stout!

vispot


Ek hou daarvan om die gereg te maak as ek baie mense het omdat dit so lekker is en binne die meeste smake val.

Ek gebruik:
500g garnale, geskil of nie
500g mossels
500g Kingklip in blokkies gesny
Potjie room of mascarpone kaas
Vars fennel
2 uie
genoeg knoffel
grypie gemmer
grypie chilli
pakkie sampioene
twee suurlemoene
'n handvol gerookte spek
basmati of enige ander witrys.
Witwyn - droog natuurlik.

In jou groot pot braai jy nou jou uie in bietjie olyfolie en botter tot sag en voeg nou jou gemmer, knoffel, chilli, spek en sampioene by. Laat hulle mekaar eers leer ken terwyl jy 'n slukkie wyn vat en 'n paragraaf of twee van jou lekker boek lees. Voeg nou jou Kingklip en garnale by. Let wel, dit moenie half gevries wees nie want dan sit jy met 'n gemors. Gooi so glas witwyn by en laat stadig aanstap. Maak solank jou rys gaar.

Na so 10 minute kan jy die mossels (nog in hul halfdop) byvoeg. Moenie te veel woel in die pot nie, jaag mense weg wat wil roer. Nou kan jy jou room of mascarpone, die skil (zest) van twee suurlemoene en die vars gesnyde fennel by en gee so paar minute om bietjie af te reduce. Kry die spulletjie bymekaar. So ruk gelede het ek die gereg gemaak vir 'n dierbare vriendin op haar groot partytjie (en nee, ek doen NIE catering nie!). Met al die gewoel het ek heeltemal vergeet om die mossels wat doodrustig in die yskas was, by te voeg. Al wat ek toe doen is om die mossels in die pot by te gooi nadat almal hulle eerste porsie gehad het! Toe het ons 'n mosselpot vir seconds.

Nou skep jy jou heerlike, romerige vispot oor die warm stomende basmatie rys, klink glasies met jou vriende en sleep so stukkie vars brood deur die sous...

ode aan die snoek


My gesin is nie vreeslik erg oor vis nie. In my studentedae op Stellenbosch was die geld te min vir braaivleis. Maar goeie, getroue snoek het my deur dik en dun bygestaan. Ja, jy moet met jou hande eet en jy kry soms die sogenaamde meelsnoek wat nie so lekker afgaan nie. Ten spyte hiervan is daar vir my iets edels en kaaps aan die snoek. Hy word geniet in nederige huisies sowel as kastele.

Die ding is, baie mense probeer die vis smaak minder visserig maak deur allerhande souse ensovoorts. As jy nie van vis hou nie moenie dit probeer bewerk of proe na iets anders nie. My basiese benadering tot vis bly dieselfde: goeie medium kole, gesmelte plaasbotter, vars fennel, origanum of lemongrass, sout, peper en natuurlik suurlemoen. Vis en suurlemoen sal in die hiernamaals saam bo die wolke sweef.

Ek draai nie om aan my snoek nie, maar soms is die kole te wild en die vis te dik dan kan mens hom net so vinnig aan die vleiskant toast. Maar moenie die snoek omdraai as jou sous op is nie. Wat belangrik is, is om uit te vind of die snoek gesout is, ek hou in elk geval daarvan om my vis af te spoel en windroog te laat word voordat ek dit gaarmaak.

Verf nou jou vis met botter, en hou daarmee aan. Die snoek sal so wit begin word en vlek as hy reg is. My ervaring met 'n medium vis is so 20 minute om gaar te maak op lekker sagte, egalige kole. En moenie my enige iets vra oor 'n Weber nie, dis 'n engelsman se braai en jy sal vir raad na 'n engelsman moet gaan.

Reg aan die einde, strooi jou vars kruie oor, draai die sout en peper oor na smaak en bedien. Dit werk lekker saam patats, slaai en growwe brood. En natuurlik 'n lekker riesling of sauvignon blanc.

roereier


In my jong dae het ek in 'n gastehuis as 'n soortvan allesdoener gewerk. Die eienaars was baie weg en ek moes die personeel, besprekings en die kombuis bestuur. Dink jou in, 14 Duitsers sit aan vir ontbyt, een vra vir poached eggs, die ander gebak, omelet en enige iets anders onder die son. Die Duitse eienaar wys my toe hoe om die "German special" te maak en dit te probeer verkoop aan die gaste sodat ons die orders vinniger kon deurkry.

Jy breek so 4 tot 6 eiers in 'n mengbak en skep so 3 tot 4 klontjies plaasbotter daarby. Dan maak jy jou pan warm met 'n treksel olyfolie onderin. Nou giet jy jou eiers in die pan. Jy moenie dit enigsins klits nie. Nou wag jy biejie, vat so slukkie koffie en lees die Burger so hoof opskrifte. Neem jou spaan en trek die eier stadig heen en weer. Die idee is dat die wit en geel nie soos in tradisionele roereier onherkenbaar deurmekaar raak nie. Moenie te droog maak nie. 'n Lekker idee is om jou spek eerder in die oond te bak todat dit amper stokstyf staan. Nou smeer jy jou plaasbrood met botter (ek het 'n plaasvriendin wat tog te lekker bak- haar brood sal hier werk), skep die eier bo oor, gee paar draaie sout en peper en miskien vars grasuie bo oor. Sit nou jou stywe spekkies op die eier neer. Gooi die koffie in, vat die koerant en smul aan die romerige eier.

krummelpap


Ek weet mense gaan nou begin fluister "willie se resepte raak nou min, nou neuk hy met krummelpap...". Dit is net dat ek sekere dinge soos hoe om goed mieliepap te maak sien as uiters nodig in ons land - 80% van ons samelewing eet dit daagliks. Ek het in Europa "polenta" teegekom wat 'n klassieke Italiaanse gereg is. Dit het vir my na niks anders as "slap pap" gelyk nie maar is tog wel van 'n baie goeie kwaliteit meel gemaak en is heerlik. Jy kan hier ook polenta koop in sommige spesialiteits winkels.

In elk geval, hier gaan dit om krummelpap. As jy toegang het tot growwe meel is dit die beste, maar die "braaipap" van Pick en Pay werk ook.

Kry nou jou ouma se groot ou pot aan die gang, dik yster is waarvoor jy hier soek. Vir elke koppie water, twee koppies meel en vir elke koppie meel, een mens. As jy baie mense het neem die koppies meel per kop af. As jy te veel maak sal die hond ook nog jou beste maat wees want hy sal sy pens dik vreet.

Gooi 'n paar grype sout in die kokende water en gooi jou meel versigtig in die pot. Moenie roer nie, gooi die meel om 'n tipe hopie in die middel te vorm. Sit die deksel op en laat so 30 minute stadig prut. Nou haal jy die deksel af, en begin die pap met die agterkant van jou houtlepel te roer. Dit vorm nou sulke knoetse. Nou vat jy 'n vurk en gaan woes tekere om dit nog fyner te maak. Doen dit met tussenposes sodat dit nie te droog kook nie. Hoe harder jy woel, hoe meer krummels het jy. Jou pot gaan onderin aanbrand so hou dit dop, as die brand te erg raak sal die hond nog meer pap kry. Nou kan jy dit as bykos bedien met tamatiesmoor of lekker ontbtkos met melk, plaasbotter en suiker.

mash en watookal


Ek vra weereens nederig om verskoning, ek het geen idee wat mash in Afrikaans is nie en wil ook nie weet nie. Dis mash, dis sag, romerig, kom van aartappel af en gaan sit so lekker neffens jou pankreas teen jou werwels, en maak dit onmoontlik om vinnig te beweeg.

Ek gee nie spesifiek om wat jy daarmee maak nie, pangebraaide salm, lekker skaap tjoppies en oxtail is almal kandidate. Kook jou aartappels en haal die skille af. Gryp jou mash drukker en druk jou mash lekker sag. Voeg nou 1 eetlepel plaasbotter, 1eetlepel gladde roomkaas en 'n paar grype vars kruie by. Roer deur en gooi vars olyfolie, sout en peper na smaak by. Moenie die artappels te fyn maak nie, party mense hou daarvan om die zirtser te gebruik wat die mash baie glad maak en dis ook goed. Jou klassieke manier vereis egter bietjie stukkies.

Strooi bietjie vars kruie oor en bedien met daardie lekker stukkie salm...of natuurlik as dit in die middel van die maand is, net so!

minestrone sop


Ek het 'n Duitse chef vriend gehad wat my aan minestrone bekend gestel het. Die kuns hiervan is om nie jou sop te zirts nie, so dis 'n helder sop maar met genoeg stukke in dat my vrou nie kla oor die "waterige" sop nie.

My minestrone sop verskil ook amper elke keer maar die basiese dinge is:
3 groot wortels
1 groot ui
4 seldery stamme
1 groot blerts olyf olie
2 knoffelhuisies, fyngemaak
2 groot aartappels, in fyn blokkies gesny
1 klein blikkie tomatie purée - daai heel kleintjies is genoeg
2 liter groente aftreksel - as jy nie jou eie maak nie is tannie Ina se produk goed
400g blik gesnyde Italiaanse tamaties
400g blik botter of cannellini bone
120g pasta stukkies, daardie klein halwe macaroni's werk goed
1⁄2 kop blaarkool, fyngesny
Sout en and pepper na smaak

In jou ou groot yster pot sny jy nou die wortels, uie en seldery by die knoffel in die lekker warm olie, en braai dit lekker saam tot sag. Roer die tamatie stukke by en laat so bietjie prut. Nou roer jy die tamatie purée, pasta en groente aftreksel by en bring tot kookpunt, draai hom stadiger en laat dit so bietjie kuier in die pot en gooi dan die bone en kool by vir laaste 3 minute. Nou in die volgorde: sout, peper, rooiwyn, familie/vriende, growwe brood en eet!

potato au gratin


Hierdie klassieke Franse gereg is een van my gunstelinge en as jy bietjie tyd het is dit 'n absolute wenner.

Jy benodig so 7-10 lekker groot artappels in baie fyn skywe gesny - so 2-3 mm. Die klasieke Franse manier is om dit te skil maar ek los my skille aan. Nou pak jy die skywe mooi (soos die foto)en gooi na elke laag bietjie sout en peper en as jy bietjie vars kruie het, soos marjolyn of origanum. Nou kan jy witsous maak van melk en Maizeina waarin jy lekker parmesan kaas rasper. Die sous moet die lae amper heeltemal bedek en moet dus 'n lange eerder as 'n dikke wees! As jy so 3 of 4 lae gepak het giet jy jou sous oor. Nou strooi jy twee handevol fyn broodkrummels oor en top die besigheid af met nog 'n gooisel kaas. Sit hom nou in 'n voorverhitte oond teen 180 grade vir so uur. Haal uit en geniet as hoofgereg of bykos. Vive le France!

salm pasta


My vrou sal my kwalik neem as ek hierdie pasta nie ingooi nie. Ons gebruik graag hiervoor die strukkies pasta (farfalle), daardie pakkies off-cuts salm, dill, room of mascarpone kaas, parmesan, uie, knoffel en suurlemoenskil.

Braai bietjie uie en knoffel in bietjie botter en olyfolie tot sag. Voeg jou salm en room by. Sny nou jou dill lekker fyn en strooi ook oor. Laat baie stadig prut. Kook jou pasta, dreineer en roer bietjie olyfolie deur sodat die pasta lekker los van mekaar sit. Giet jou room en salm mengsel oor en meng versigtig deur. Rasper jou suurlemoenskil ook nou oor en draai sout en growwe peper oor. Skep op elke bord en rasper jou parmesan oor. Gooi koue witwyn in jou glas en smul heerlik aan die romerige kossie.

hoendertieties


Die meeste families eet hoender borsies meer as een maal per week. Dit is amper soos blikkies tuna was in my studentedae, goedkoop en gesond. My hele lewe probeer ek "lekker" daarby voeg deur allerhande tricks. Daar is nog net een gereg wat ek nie kon lekker maak nie en dit is boeliebeef wat ek probeer braai het in die pan met vars kruie, uie en speserye. Ek moes dit toe steeds vir die hond gee en die het ook maar snuif-snuif, stywe wang daaraan geproe.

Maar wat hoender borsies betref, glo ek dat dit moontlik is om dit lekker te maak. Iets wat lekker werk is om dit bietjie plat te slaan. Ek plaas my hoenderborsie plat neer, vat die koekroller of 'n wynbottel en tik-tik egalig todat die borsie plat is, maar moenie stukkend maak nie. Maak so 4 borsies op die manier plat sodat hulle min of meer ewe groot is.

Nou kry jy 'n oondbak gereed en voorverhit jou oond teen so 180 grade. Nou maak jy 'n lekker uie en tamatiesmoor, rasper bietjie mozzarella kaas en kry 'n bakkie basil pesto gereed. Ek maak soms my eie maar vind dat tannie Ina Paarman se pakkie pesto goeie waarde vir geld is.

Plaas nou jou eerste borsie plat onderin. Gee 'n paar draaie sout en peper, smeer pesto, lepel bietjie tamatiesmoor bo oor en strooi bietjie kaas. Pak jou tweede borsie en gaan so aan. Bak dit nou in die oond vir so 20 minute. Sny die lae amper soos lasagne en skep in die bord. Bedien met 'n lekker groen slaai en vier die fees van die hoendertiete.

hamburgers


Is jy moegerig en voel jy nie geliefd deur jou familie nie? Dan is dit tyd om hamburgers te maak. Ek maak sommer my eie patty's met maalvleis. Jy kan deesdae ook lekker patty's koop wat nie te veel donkie bevat nie. Kyk na my resep vir frikadelle - jy maak dieselfde ding, jy druk hulle net plat.

Koop lekker vars broodrolletjies, vra die antie agter die counter vir "hamburger buns" dan sal sy jou daardie sagte wit sooibrandbomme gee. Nou benodig jy uie, vars blaarslaai en tamaties, agurkies, kaas en 'n souserigheid.

Ons maak nooit chips by die burger nie, juis vanwee die geveg teen sooibrand maar jy kan dit bymaak as jy wil. Nou braai jy jou patty tot so net oor halfgaar en haal uit die pan uit. Sny jou uie in ringe en braai tot lekker soet en bruin maar moenie brand nie. Gebruik plaasbotter hiervoor. Sny jou agurkies in skyfies, smeer jou buns, en kry jou sous gereed. Ja, jy kan maar spur se 1000 island sous gebruik, ek maak maar 'n mengsel van mayonaise, tamatiesous en waarop ek my hande kan sit.

Nou bak jy 'n eier en sit die patty's terug in die pan om net warm te word. Smeer jou brood, sit die blaarslaai onder, dan die kaas, die patty, die agurkies die uie, die sousie en top dit af met die eier.

Pak nou jou messegoed terug in die laai, kry sommer 'n lekker natlap gereed en gooi jou glas coke in. Ek weet dis ongesond maar die siel het ook van tyd tot tyd hulp nodig. Nou kyk jy om jou rond terwyl jou familie met groot bekke vol, druppend van sous, lipklap lekker eet - voel geliefd want jy is!

frikadelle


Wat vir 'n naam is 'n "frikadel"? "Meatball" maak tog meer sin. Ten spyte van die naam is dit goeie, eerlike kos. Ek spot altyd met my vrou as sy vir ons frikadelle maak omdat sy letterlik alles waarop sy haar hande kan sit, ingooi by die maalvleis. Maar, ten spyte daarvan is haar frikadelle altyd heerlike padkos, aandete, kosblik kos of sommer net peuselkos.

Dit is dus onmoontlik om haar resep hier in te sit omdat die hele blog dan slegs toegewy sal moet word aan frikadelle! Daar is egter 'n paar basiese dinge waarop jy moet let as jy frikadelle maak en ek sal dit neerpen met 'n basiese resep.

Kry so 1kg goeie maalvleis wat nie te veel vet inhet nie. Maak seker dis ordentlik ontvries of vars. Gooi dit in 'n mengbak. Kyk in die kas vir 'n pak chips. Ek het al nicknaks gebruik omdat dit al was wat ek kon kry, so moenie te veel worry watter soort dit is nie, maar los asseblief die prawn cocktail chips. Nou maak jy so paar handevol chips lekker fyn en gooi by maalvleis. Breek so 2 eiers oor die vleismengsel. Braai 2/3 uie en knoffel met 'n paar grype kerrie of chili en gemmer tot lekker sag en gooi ook by mengsel. Voeg so paar lekker blertse soja sous by. Nou moet jy jou hande vuil kry. Meng goed deur tot alles mekaar lekker leer ken het. Voeg nog origanum, sout en peper by en meng weer deur.

Nou sit jy jou oond op 180 grade en begin om met jou hande golfbal groot balletjies te vorm. Onthou om dit hehaaldelik styf te druk tussen jou twee hande. Plaas die frikadelle op 'n bakplaat en in die oond vir so 10-15 minute.

As 'n wenk, moenie die frikadelle te gaar maak nie en draai dit halfpad om. As dit uit die oond kom sal jy hande moet piets wat sommer gou-gou die lekker kos wil op peusel!