kosmaak vir grasvreters

Ek het vriende wat vegetarians is. In heelparty kaapse kringe is dit nogals hoogmode om jou teen die gebruik van vleis uit te spreek. Ek reken daar is twee groepe, die eerste is die mode mense wat in elk geval een of ander tyd in die toekoms maar weer salami sal laat deurglip as niemand kyk nie, en die ander wat sterk voel en daarby hou om nie vleis te eet nie. Vir hulle het ek baie tyd juis ook omdat ek dink die meeste van ons vleisvreters baie verwyderd van ons kos se lewe en sterwe is.

In elk geval, dit is altyd vir my 'n lekker uitdaging om vir die spannetjie kos te maak. Weg is daai spek of hoederaftreksel uit die onderbou van jou gereg! Wat nou gemaak? My ervaring van veggies is dat hulle ook meestal besig is met 'n lewenslange strewe om die smaak van vleis sonder die vleis self te probeer inkorporeer in hulle kos. Moenie vir hulle 'n stuk kopkool met witsous voorsit nie.

In elk geval, wat ek die naweek vir my veggie vrinne gemaak het is 'n aartappel gebak wat die basiese au gratin resep insluit, maar met 'n twist omdat ek meer smake en voedingswaarde wou insluit as net die gewone gereg wat gewoonlik as bykos bestem is.

Okay so wat het ek gebruik:
so 10 middelslag aartappels, skilletjies mooi geskrop
1 lekker butternut, geskil en in dun skywe gesny
3 mooi rooi uie
'n handvol grasuie
gerookte kaas of bokmelk kaas
mascarpone kaas
treksel brandewyn
1 liter melk
vars knoffel
Grypie gemmer en chilli poeier
mooi bruin of enige sampioene
potjie olywe, ontpit of capers sal ook werk
'n paar lekker grype gerookte spaanse paprika
sout en peper
Vars groen kruie soos origanum of marjolyn
handvol broodkrummels of fyngekapte chips
As jy wil, 'n handvol lekker chedder kaas aan die einde voor jy dit in die oond sit

Smeer 'n oondbak lekker met botter. Soek jou rasper in die laai. Kyk op sy kant is daar gewoonlik so skuins lem. Jipieee, jy gaan hom nou vir die eerste keer gebruik. Vat nou jou aartappels en maak so rasper aksie oor die lem heen sodat jy fyn skuiwe het. Jy is welkom om dit met 'n mes te sny, solank jou skywe almal gelyk is en nie meer as 2mm dik nie. Dit sal in elk geval te lank neem so gaan koop maar so plastiek een of 'n rasper met so 'n lem.

In 'n pan smelt jy bietjie plaasbotter en olyfolie en soteer jou uie, knoffel, gemmer, chilli en gesnyde sampioene tot sag. Gooi nou so treksel brandwyn of sherry by en reduce die vog weg. Nou pak jy jou aartappels in die onderste laag, (elders beskryf ek die au gratin pakkery in die standaard au gratin resep) en gooi die uiemengsel egalig bo-oor. Gee bietjie sout en peper. Nou pak jy jou skuiwe butternut mooi bo-oor. Gee sout, peper, paprika en 'n dollop marscarpone kaas verspreid hier en daar. Nou pak jy nog 'n laag aartappels en die heel grasuitjies sowel as die fyngesnyde olywe of heel capers egalig bo-oor en gee weer sout, peper en paprika. Pak nog 'n laag aartapels. Maar eers, drink 'n slukkie heerlike BC Kelder 2010 sauvignon blanc, hierdie is dors werk en daardie vars koejawel smaak is net die ding.

Sny nou jou gerookte kaas of bokmelk kaas in klein blokkies en verspei bo-oor, gee sout en peper en pak die laaste laag aartappels. Nou skep jy nog mascarpone oor en gooi jou liter melk versigtig by. Bo-op alles strooi jy nou jou broodskrummels en chedder kaas. Nou sit jy dit in 'n lekker warm oond, so 200 grade sal doen en kuier verder met die Brandvlei. Die gereg sal seker so 1 en half na 2 ure neem. Maak net seker dat jou krummels nie brand nie.

Tip: As 'n reel moet jou melk so net-net raak aan die boonste laag aartapels. As jy te min melk het sal die boonste lae baie droog word. Jy kan die melk ook bietjie aandik met bietjie maizina of meel voordat jy dit ingooi sodat die sous effens dikker word. Jy kan room ook gebruik maar ek vind mascarpone het room in my kombuis vervang, dis meer ekonomies en lekkerder.

Nou maak jy 'n klein slaaitjie aan die kant. Haal die bak uit die oond en strooi die vars kruie bo-oor. Skep die gereggie op. Kyk hoe lekker eet die grasvretertjies...!

sexy raap

Party groente en vrugte is sexy, ander is nie. Aspersie en aarbei is sexy maar wortel, patat en seldery is nie. Ek lees iewers dat sexygeit te doen het met kleur, of is dit smaak, tekstuur of die meisie wat dit op verleidende wyse proe terwyl sy haar lang wimpers knip?

Wat ek wel weet is dat ek nie punte gaan kry as ek bo-aan my liefdesbrief "my klein raap" skryf nie. Maar hoekom is die raap vaal en is die radys 'n verlydster? Ons maak sexy somerslaai met die radys en in Suid Afrika veral, werk ons nie werklik met die raap nie. As jy hom gebruik is dit in sop. Ek het onlangs 'n sakkie "baby turnips" gekoop en moes werklik diep dink om iets te maak daarmee.

Die eerste resep is om dit in 'n pan te braai. Ek moes agter op die pakkie kyk om dit uit te vind! Dit het wel baie lekker gewerk so ek gee dit graag deur met natuurlik 'n paar van my eie insette. Jy benodig die baba rape, hulle is kleiner en soeter as hulle groot susters. Ek braai dit heel in 'n pan stadig in bietjie botter en sit dan die deksel op dat dit sagter word. Haal maar van die hitte af en los bietjie eenkant met die deksel op. In 'n ander pan vat ek 'n eetlepel suiker en 'n eetlepel rooi druiwe asyn en laat dit saggies reduce tot 'n lekker dik stropie. Nou voeg ek bietjie plaasbotter by, bietjie fyn uie, bietjie sampioene en bietjie knoffel en laat dit lekker karameliseer.

Nou voeg ek dit in die pan by die rape en laat dit so lekker stradig mekaar leer ken. Nou kom jou vars origanum of tiemie or marjolyn by. Nou is dit gereed vir konsumpsie.

Die tweede een bring die raap in die sexy kalklig. Dit is 'n slaai. Jy juliene so 5-6 rape - fancy franse term wat maar net beteken lekker dun repies. Dan benodig jy:


so paar lekker lepels goeie mayonaise
A grypie of twee suiker
So 3 blertse lemmetjie sap
Sout en witpeper
Lekker vars grasuitjies

Meng alles goed saam en hou in die yskas todat jy dit gaan gebruik.
Miskien is sy tog sexy as jy haar net eers leer ken?



Hoe hou jy van jou seekoei?

Ek is tans weer aan die lees aan Leipoldt se boeke "Kaapse Kookkuns" en "Polfyntjies vir die proe" in die soeke na my smake se afkoms. Waar leer ons waarvan ons hou? Is dit maar met die lewe waartydens ons verskillende dinge proe en begin liefkry of is daar iets diepers wat spesifieke streekskos en tye in ons lewens met ons laat akkordeer? Ons bly tog per slot van rekening in Suid Afrika en daar is mos dinge wat net deel van ons is. Ons is van die grond en dit wat ons eet ook.

In elke geval, voor ek te filosofies raak, en heel moontlik die draad van die strorie sowel as my leserstal verloor, laat ek eerder gesels oor Leipoldt. My liefde vir Leipoldt het ontstaan danksy my liefde vir Martin Versfeld, en die dat hy so baie na Leipoldt verwys. Ek het my kopie van "polfyntjies vir die proe" raakgeloop in Langstraat in een van daai ou stowwerige boekwinkeltjies. Hier is verhale in waarmee ek my kan vereenselwig. Die wat my ken sal weet dat ek maar altyd worstel met 'n soeke na "my kultuur". Hier en daar vind ek dit in musiek, kuns, stories en unieke mense. Maar oor die algemeen maak Robbie Wessels en kie dit vir my 'n opdraande stryd om die (my) ontwykende kultuur te vind. Ek is ook wat ek is en kan dus nie noodwendig langs klei hutte in Lesotho teregkom nie. Waar ek dit wel opspoor is in kos en die kookkuns. Natuurlik is alle kookkuns op een of ander manier gevorm deur geskiedenis en mense se geografiese bewegings. So is Leipoldt se boeke vol van wonderlike stories oor Maleier kokke se meester geregte in ou kaapse kombuise.

Wat ek wel (uiteindelik) wil vertel is iets wat Leipoldt oor skryf in sy "Kaapse Kookkuns". Hier handel dit oor wild en kamp kosmakery. En dit bewys maar net weer hoe verwyderd ons geraak het van die veld en om te soek na ons kos. Ek dink daar is 'n "hidden field" in een van die Woolworths vorms waarmee jy aansoek doen vir jou kaart. Ek dink dit lui as volg: "Hiermee belowe ek om te glo dat alle kos uit pakkies van Woolies kom en dat dit nooit gejag, geslag of gepluk hoef te word nie". Dan sit ek nou en lees deur Leipoldt se resepte van gestopde Flamink bors, Kameelperd tong en Seekoei boud. Volgens Leipoldt is ystervark crackling ook baie lekker maar is sy gunsteling die zebra. 'n Zebra fillet het geen marinade nodig nie en kan in sy eie vet gebraai word met 'n grypie sout en peper...Verder is olifant voet, gebak in 'n klei oond to die for!

Ek wil dan nie eers verder praat oor sy resep vir skilpad en die cherrie op die koek - gebakte oskop nie! Ek weet dat ek dit nie sommer gaan probeer maak nie maar ek leer iets hier. Ons moet versigtig trap om verwyderd te raak van wat ons gaarmaak. Hoekom is dit so lekker om vars aarbeie te gaan pluk en te sien hoe my dogtertjie die een na die ander in haar bek stop, sommer met blare en al? Vir haar is die aarbei fantasties mooi en vergryp sy haarself met oorgawe aan die smaak. Sy doen dit sonder twyfel of kritiese analise

As kind moes ek baie hoenders slag en was dit altyd moeilik om aan te sit daardie aand vir hoender kerrie. Ons het 'n skewe sensitiwiteit verkry, wat ons nie toelaat om diere en plante se dood vir ons voeding te verstaan nie. En wat nou gebeur is dat die supermarkte dit vir ons makliker maak om meer te koop as wat ons nodig het. Dit lei mos nou na die battery hoender, wat skaars kan loop omdat hy nie eintlik bene het nie. En die organiese beweging probeer moedig (hoewel ek dink baie van hulle is maar net ook wolf in skaapsklere!) om ons te vertel dat die ou hoendertjie se baas vir hom gesing het elke aand alvorens hy sy kop verloor het.

Ek dink dat jy diep respek leer vir al die lewende organismes om jou, as jy te midde van hulle lewe en dood staan en daarmee betrokke is. As jy nie die hoender kan slag nie, het jy dan 'n reg om dit te eet? Ek weet nie...

Wag, ek ruik my seekoei boud in die oond, laat ek gou gaan kyk...

witloof of endive

Ek stap in Pick & Pay tussen die groenterakke die ander dag, op soek na inspirasie vir die Saterdagaand maaltyd. Toe sien 'n pakkie Witloof op die rak. Ewe skielik is ek meer as 'n dekade gelede, terug in die klein studentehuis kombuisie in Utrecht, Nederland. Ek onthou soos gister hoe opgewonde ek die Witloof bebrou het met al wat room, kaas, vars kruie en pancetta - 'n week se kosgeld vir een gereg. En toe, hoe al die vriende om die tafel gesit en kou het en te gemanierd was om die bitter besigheid uit te spoeg! En dit net omdat ek nie geweet het om die bitter gedeeltes uit te sny nie!

So vat ek maar die pakkie met 'n belofte aan myself om nie dieselfde fout te maak nie. Ek besluit toe op 'n oondgebak. Dit kan ook in slaaie gebruik word en werk lekker saam met blaarslaai om bietjie skop te gee aan jou slaai.

Wat ek gebruik het:
3 witloof koppe
blokkie bloukaas
pakkie bruin sampioene
2 knoffel huisies
2 aartappels in klein blokkies gesny
grypie gerookde parika poeier
origanum
sout en swart peper

Nou vat jy jou witloof en sny so sentimeter van die onderste punt by die stingel af. Dan gebruik jy 'n skerp klein messie en hol die stingel uit, jy sal sien dat daar so harde stingel binne die blare is. Jy doen dit so 1 sentimeter diep. Dit is die bitter gedeeltes wat my so gekelder het!

Nou braai jy jou knoffel, aartappel blokkies en sampioene in bietjie olie en soteer jou witlof versigtig in die pannetjie sodat die buitekante net effens begin kleur kry. Voorverhit jou oond op 180 grade. Maak 'n witsous waarin jy die bloukaas oplos en gooi die gerookte paprika hierby. Gooi sout en peper na smaak by die witsous. Nou gooi jy jou sous mooi eweredig oor die witlof en sampioen mengsel in die pan. My pan het 'n staalhandvatsel so ek sit hom direk in die oond maar jy kan dit uitskep in 'n oondbakkie as jy wil.

Terwyl dit aanstap kan jy jou hoender/vis/vleis maak. Wat ek ook al geniet het was so 'n oondgereg met hollandse rookwors wat in skyfies gesny is. Dan het jy 'n eenskottel treffer.

Na so 25 na 30 minute sal die gereggie lekker deurgebak wees en kan jy opskep. Dit is maar 'n ryk besigheid maar ek eindig dit tog af met 'n stukkie brood wat ek deur die sous sleep. Hup Holland!

my kos filosofie

Ons raak soms deurmekaar met die massas advies rondom gesond eet. Ek weet dat my hand bietjie swaar is met plaasbotter. Ek blameer die Larousse Gastronomique (wat ek nog nie besit nie maar al amper deurgelees het in die boekwinkels!) wat my met die franse kookkuns oorweldig het. Dit daar gelaat, maar hoe sorg ons vir ons famlies? Ek dink dis eintlik redelik eenvoudig.

Wanneer jy by jou huis, in jou eie kombuis kook, kan jy mos eintlik op jou beste kook. Is dit nie lekker om jou yskas oop te maak en bietjie mal te gaan met wat daarbinne is nie? En hoe varser en gesonder die bestandele, hoe lekkerder is die kos en hoe beter sal jy voel.

Hier is 'n paar interessante riglyne wat ek by ander chefs geleer het. Dis nie in klip uitgekap nie en julle weet seker al meeste van die goeters:
En o ja, ek preek nie hier nie want ek sukkel ook maar...

1. Familie eerste
Om 'n ete met jou familie te deel is een van die wonderlikste dinge wat julle vir mekaar kan doen. 'n Sterk familie begin daar waar ons bymekaar sit en eet. Daar waar ons lag, huil en deel. Saam is ons sterker as apart. Laat julle liefde vir mekaar jou lei om jou beste in die kombuis te gee.

2. Skip die dieet
Daar is nie so ding soos 'n dieët nie. Ek verstaan dit nie maar dink dis nonsens. Dit gaan oor 'n hele leefstyl. As jy te veel eet en jy verbrand dit nie, raak jy vet. Raak aktief en moenie dink as jy aaklige, geproseseerde en vaal kos eet gaan jy gesond en maer word nie! Daar is geen kitsresep nie, moenie tweekeer skep nie en gaan kap jou hout self! Sit soveel energie in jou lewe in as in jou kosmaak en eet en jy sal fine wees.

3. Koop slim
Feuerbach, 'n Duitse filosoof, het in die mid 1800's gesê dat die man is wat hy eet. Maklik, voed jou enjin goed en hy sal mooi loop. Bly weg van daardie gevaarlike rakke in die supermark. Koop verskillende kleure en geure met soveel as moontlik vars vrugte, groente, neute, vis en jogurt. Ek dink dit werk goed as jy die weke so bietjie vooruit beplan sonder om in die "Dinsdag is visaand" ding te verval!

4. Eet kleure
Moeder natuur maak haar wonderlike verskeidenheid aan ons bekend deur kleure wat ons oog vang. Daardie kleure bevat gesonde pigmente wat ons nodig het. Dink aan die wonderlike groen advokadopeer, die ryp pruim, die geel piesang en die bloedrooi tamatie. Laat jou oog jou lei. Kyk daardie lekker rooi appel...of die blosende appelkoos.

5. Stadige koolhidraat krag
Koolhidrate gee ons die petrol vir ons tenks. Ons kan nie daarsonder nie. Daar is egter baie slegte koolhidrate, veral in kitskos. Die beter koolhidrate is te vinde in volgrane. Ek vind ook dat dit nie nodig is om koolhidrate in die aande te eet nie want dit is wanneer jy gaan slaap. Tensy jy natuurlik ander plannetjies het! Neem elke dag volgraan kos, dit gaan jou volgehoue energie gee en dit gaan jou help om die risiko van hart siektes en nog ander siektes te verminder.

6. Proteïne
Proteïne is die fundamentele boublok van die lewe. Diere, anders as plante, kan nie hulle eie maak nie. Daarom eet ons plante en steak! Maar die vette in rooivleis maak dit 'n gevaarlike ding as jy dit elke aand eet. So gebruik vleis met min vet soos vis en hoender borsies maar kombineer dit ook met heelwat bone, lensies en neute. My vrou hou nie baie van vis nie, so dis maar 'n konstante gesukkel om vis in ons lywe in te kry. Maar ek is mos die kok, so as sy vra vir vis wat "minder visserig proe" is dit my uitdaging!

7. Moeder natuur weet die beste!
Sy sorg dan vir ons op soveel vlakke, hoekom nie ook in hoe ons eet nie. Die industrialis wil ons dwing om by sy groot fabriek te koop. Sy kos is vol van aangepaste kleure en geure. Maar bly by die basiese dinge. Kyk na jou bord. Daar is die wonderlike vars klein cherry tamaties wat in jou tamatie bos groei langs die huis, hier is die rocketblare wat sommer wild agter die huis staan, die vars handgemaakte kaas wat jy by die boer gekoop het en die vis wat nou net van die boot af gekom het! Ek weet dis moeilik, en ek het 'n ernstige probleem met die yuppies en hulle organic woolies kos waarvoor hulle so baie betaal. Maar vind die middeweg en doen net jou beste.

8. Porsies
Ek is hier die laaste een om te praat. Ek onthou van kindsdae af hoe trots ek was om my eerste kilogram, mansize steak te bestel (en toe met maagpyn moes oorleef). Ons is gekondisioneer om soveel as wat ons kan te eet. Daarom is ons 'n maklike teiken vir die supersize beweging! Stadig oor die klippe en laat jou liggaam die wonder van goeie kos geniet. Skep een keer en geniet dit. Moenie toelaat dat jy deel word van die reuse konsumpsie masjien nie. Ek dink een van die groot redes hoekom ek begin kook het was omdat ek siek en sat was vir kos wat lelik en smaakloos was. As jy genoeg kos gehad het, hou op eet en gee vir Wagter daarbuite so lekker verassinkie!

9. Multi Vitamien
Drink maar die ou bruistabletjie, net vir ingeval. Daar is nie 'n geheime wonder wat gesondheid waarborg nie. As jy moeg of keelseer voel, drink imuniteitsboosters en lat looi met die vars vrugte. Jy gaan dalk steeds siek word, maar ek belowe jou jy sal beter herstel. 'n Doktersvriend van my het op 'n keer gesê dat die tablette eintlik maar net duur piepie is. Hy is dalk reg, maar die dilemma is dat ons nie altyd die moeite doen om genoeg vars en gesonde goeters te eet nie, en dalk maar die hulp nodig het. Selfs die beste kokke het maar partykeer gate om toe te stop - hoe praat so bek wat Saterdag vetkoek gehad het!

10. Water
As kos ons petrol is dan is water ons olie. Ek dink nie ek drink genoeg water nie. 6-8 glase is vir my maar moeilik. Maar doen iets kreatiefs, begin om 'n goeie versameling natuulike tees aan te hou. Ek drink graag my Buchu tee en sommer so bitter, sonder suiker en melk. Dit tel darem mos ook vir 'n glas!

11. Liefde en plesier
En dan bo alles - wees lief in jou kosmakery en geniet dit. Nooi jou vriende en maak saam kos. Bak, brou en verbrou met oorgawe en jy sal sien hoe dit oorspoel na ander areas van jou lewe.