spaghetti carbonara

Daar is baie stories oor hoe die dis sy ontstaan gehad het. Sommiges verwys na die steenkoolmyners of Carbonari se liefde hiervoor en ander praat weer oor die liefde wat Amerikaanse soldate gedurende WO2 vir spek en eiers gehad het en dit toe sommer saam met spaghetti begin eet het. Nietemin is dit een van ons gesin se gunstelinge. Dit is vinnig, heerlik en altyd 'n wenner om die tafel.

Die enigste truuk met die dis is om kop te hou wanneer jy die eiermengsel aan die einde byvoeg. Ek het ook gevind dat ek nogal 'n paar keer gesukkel het om dit net reg te kry. Die lekker ding is dat hy nooit eintlik flop nie, net soms beter werk as ander kere. Tipies Italiaans is daar natuurlik heelwat maniere om dit te maak. In Suid Afrika vind ek een van die grootste uitdagings rondom spek. Ons spek is oor die algemeen massa geproduseerde en 'n waterige besigheid. Ek gebruik maar gewone spek maar as jy beter in die hande kan kry doen dit!

Okay so waar is ons...o ja, bestandele vir 4 mense:

500g  spaghetti - asseblief tog nie pap gekook nie, al dente
200g "streaky" spek in blokkies gesny
'n halfkoppie vars pecorino kaas, gerasper
'n lekker treksel olyfolie
4 eiergele plus 1 heel eier
so halfkoppie witwyn, die res is vir jou om te drink
1 ui, in klein blokkies gesnipper
so 2 eetlepels growwe swart peper

Gooi die eiergele en die een vol eier in 'n mengbak. Meng met jou hand klitser terwyl jy stadig jou pecorino kaas byvoeg. Hou bietjie van die kaas vir later se oorstrooi en moenie die mengsel te droog laat raak nie. Gooi jou growwe peper by en klits tot lekker romerig. Laat rus eenkant.

In jou pan braai jy nou die ui en die spek. Ek gooi die halfkoppie witwyn daarby maar laat dit net goed reduce. Kook sommer ook jou pasta to net reg en dreineer. Roer die spek mengsel by die pasta en roer goed deur. Moenie die pasta breek nie. Nou drink jy 'n slukkie witwyn en begin die eters bymekaar kry om die tafel. Nou is ons naby!

Roer nou jou eier mengsel deur die warm pasta, weg van die plaat se hitte af. Moenie dit te droog laat raak nie, jy wil juis nie pasta en roereier eet nie! Die uiteinde moet 'n lekker romerige souslaag oor die pasta laat. Dis nie nodig vir room nie, enige italianer sal jou goed skel as jy dit nou hier ingooi!

Nou skep jy op en strooi die oorblywende kaas bo oor. Skink die lekker witwyn en as jy kan, dra sommer die tafel na buite onder die boom. Eet die heerlike pasta en kuier met gawe mense om die tafel. Eenvoud is mos die vreugde van die lewe!

viva le spania!

Ek kan tog seker nie iets van Spanje uitlaat met dié dat hulle so wonderlik gedoen het om die sokker te wen nie!

Paella is seker een van die eerlikste geregte wat ‘n mens kan maak. Daar is niks snobisties oor paella nie, inteendeel dit is tradisioneel arbeiderskos in Spanje. Gemaak in groot panne oor ‘n oop vuur waarna almal saam sit en met hout lepels uit dieselfde pan eet. Omdat seekos skaars was in die binneland het die mense gebruik gemaak van hoender, haas, eend en slakke in hulle paella.

So as jy langs ‘n tannie met french manicured naels sit en luister hoe sy vertel dat paella net met die beste en duurste vis gemaak moet word, staan maar eerder op en stap ‘n draai in die tuin. Dit behoort nie te duur te wees om te maak nie, jy kan vir baie mense kos gee en dit is relatief eenvoudig om te maak. Die enigste ding daarmee is dat jy maar bietjie hard gaan werk. Wat lekker is daarvan is dat dit die vorige dag gemaak kan word en net verbeter oor ‘n paar dae.

‘n Paella is aanpasbaar so jy kan lekker rondspeel met die bestandele. Die ding wat dieselde bly is die basiese stappe. Al wat dit interessant maak is dat jy amper nes met Risotto, werk met rou rys en aftreksel.

In Spanje gebruik hulle ‘n groot ronde, plat pan genaamd ‘n paellera. Al wat ek het wat so groot is, is my ou betroubare skottelskaar nog van studente dae. Maar ek wil hier eerder werk met panne en 'n oondbak. Jy kan speel met die volgende bestandele maar hier is my resep vir so 10 mense:

Halwe koppie olyfolie
10 – 12 mossels in doppe – maar moet skoongemaak wees
500 gram kingklip in blokkies gesny
1 pakkie spek in klein blokkies gesny
1 eetlepel fyngesnyde knoffel
2 groot rooi uie, fyngesny
1 blikkie tamaties
1 groenpepper, 1 geelpepper en 1 rooipepper, in fyn repies gesny
6 hoenderborsies (sonder vel) in blokkies gesny
sout en peper na smaak
1 teelepel paprika
halwe teelepel gedroogte roosmaryn
halwe teelepel gedroogde tiemie
‘n grypie komijn
So 500 gram shrimps, haal maar uit die dope
So 500 gram gewone wit rys
So 3 koppies hoender of visaftreksel
2 chorizo worsies, in repies gesny
2 koppies ertjies
1 lepel borrie poeier ( as jy ryk is kan jy safraan gebruik)

Suurlemoen skyfies om op elke bord te sit.

Daar is verskillende manier om dit te maak maar die beste is eintilk om jou verskillende tipe goeter in verskillende panne gaar te maak. Anders gaan jy ‘n massiewe pan en baie goeie hitte nodig kry om dit te doen. Ek het dit al so gedoen op die oop vuur maar glo my ek het gesweet om alles gaar te kry!

Ok, so ek braai my spek, uie, knoffel, peppers in bietjie olyfolie en sit eenkant as dit gaar is. In ‘n ander pan braai die hoender met die paprika, roosmaryn, tiemie, komijn, sout en peper to mooi bruin en haal uit die pan. In dieselfde pan braai jy jou viskos ook vinnig en laat rus eenkant. Voorverhit solank jou oond tot 200 grade.

Nou gooi jy olyfolie in ‘n pan en soteer die rou rys tot dit deurskynend begin raak. Roer die borrie goed deur, gooi die hoender of vis aftreksel by en roer. Roer suster roer, dis die kuns van die ding! Nou gooi jy die varkmengsel by terwyl jy die hele tyd roer. Gooi die rys en varkmengsel oor in ‘n groot paella pan of oondbak. Nou gooi jy die res by sowel as die tamaties, capers en ertjies. Roer goed deur en bak oop vir so 20 minute in die oond todat alle vog geabsorbeer is.

Haal uit die oond, gooi die mossels wat nie oopgegaan het nie weg. Skink jou lekker sauvignon blanc, miskien iets met lekker sterk mineraal smaak soos Springfield se Life from Stone. Skep vir elkeen op die bord met ‘n suurlemoen skyfie aan die kant. Nou kan ons aansit. Buen apetito soos die Spanjaarde sê!

herderspastei vir mats

Hierdie is seker een van die mees eerlike resepte wat mens kan maak. Die engelse noem dit "cottage pie" maar die basiese idee is 'n vleis en groente mengsel met mash en kaas bo oor. Ek het onlangs die geluk gehad om "fynvleis" by my vriendin uit die Karoo te kry. Fynvleis word van die bene van die wild afgekook, dan gedreineer en siedaar - gereed vir pasteie ensovoorts. Ek is nie vreeslik behendig met wildsvleis nie, gewoon omdat ek nooit baie daarvan het nie. Wat ek wel weet is dat die smaak redelik "wild" is en dat dit ook maklik droog kan raak.

Vir my weergawe van die herderspasty gebruik ek:
1 kg fyn springbok vleis
6 varkworsies
so 6 geelwortels in ringe gesny
2 uie
1 knoffelhuisie
2 hande ertjies
Sout, swart peper, gemmer en kerrie
so 8 kapok aartappels, gekook en geskil
so driekwart bottel rooiwyn
1 blik ingemaakte tamaties - jy kan ook vars tamaties gebruik maar hulle moet ryp wees
so paar stywe lepels blatjang
3 hande vol gerasperde chedderkaas

Braai jou uie, knoffel, tee lepel gemmer en tee lepel kerrie in bietjie olie tot lekker sag. Nou gryp jy chirurgies in op die varkworsies deur hulle pensies oop te sny en al die maalvleis uit te druk. Gooi die lee derms vir die hond. Voeg die varkmaalvleis by die uie en soteer verder. Maak nou jou botteltjie rooiwyn oop en skink heel eerste vir jouself 'n glas. Proe en tuur by jou venster uit.

Voeg nou jou fynvleis by die mengsel en roer bietjie deur. Gooi nou ten minste half van die bottel rooiwyn in en laat stadig prut. Jy sal sien dat fynvleis gieriger as jy is en nog gaan vra. Voeg maar by, jy wil net nie die besigheid te souserig maak nie maar ook nie droog nie. Voeg jou wortels en ertjies ook nou by. As jy nie wyn wil gebruik nie kan jy vleisaftreksel ook gebruik.

Intussen kan jy jou aartappels kook, skil en mash. Plaas dit eenkant. As jou wortels gaar is sal alles reg wees. Voeg nou jou sout, peper, blik tamaties en blatjang by na smaak en laat hom nog so bietjie stadig stap. Kry 'n groot plat oondbak gereed en voorverhit jou oond op grill so om en by 200 grade. Nou smeer ek 'n  laag aartappel onder in en teen die kante op. Lepel nou die die vleismengsel daaroor en voltooi met die res van die aartappel. Smeer dit met 'n lepel mooi egalig sodat niks van die vleis uitsteek nie. Gebruik 'n vurk om die aartappel te hark sodat die oppervlak bietjie lyk na 'n Zen garden. Gee nog bietjie sout en peper na smaak, gooi die gerasperde kaas egalig bo oor. In die oond vir so 15 minute. Maak jou reg, jy gaan te veel eet, dan gaan jy werk toe in 'n kosblik vir nog ten minste 2 dae weer daarvan vat!

dankie vir die fynvleis mats!

my hart is in die karoo

Ons het onlangs gekuier in die karoo. Eers was ons in Prins Albert omgewing en toe annerkant Carnavon op liewe vriende se plaas. Dis wye wêreld die. Mense ry gou oor vir 'n kuier op 60km grondpad! Hulle hou van kosmaak, kuier en hulle leef baie naby aan die natuur. Jy kom van die jagveld af terug met 13 springbokke en dan begin die vleiswerk. Maar eers moet die nuweling jagters die peertjies eet. Ek, wat dit meer as 30 jaar gelede meegemaak het vir die eerstemaal, kry nou nog reflux as ek dink aan hoe moeilik daardie "peertjie" afgegaan het!

Ek weet die gejagtery val nie in almal se kraal nie, en ook nie in myne as dit gaan oor sportsmaak nie. Hier was my ervaring weereens van hoeveel respek en liefde die karoomense oor die algemeen het vir diere. As die veld sukkel en die reen nie val nie, raak dit hulle direk. Die vleiswerkery word noukeurig gedoen en geen stukkie gaan verlore nie. Die aand rondom die vuur word as voorgerig gesmul aan suigbeentjies wat niks anders as die ribbes van die bokke waarvan alle moontlike vleis gesny is nie. Die amper kaal bene word dan vinnig gebraai en leeg "gesuig" rondom die vuur. Verder word die springbokstertjies ook as voorgereg bedien.

Nou is ek al redelik galsterig en die hoofmaal het nog nie begin nie. Die hoofmaaltyd is eenvoudig: 2 reuse bakke dik skaap saddle tjops, 1 bak wors, roosterkoeke met konfyt en o ja, daar onder in die hoek van die tafel 'n bakkie slaai.

Na ete verskoon ek my vinnig, waar is my rennies?