vergeetkos

Ek is in 'n wonderbui. Wat my bekommer is dat ek 'n blog skryf wat eintlik net te doen het met luukshede en lekker dinge. Dinge waaroor ek skryf is nie beskore vir baie mense rondom my nie. My ongerief is nie noodwendig oor dit wat ek geniet en eet nie maar dis dat ek vergeet.

Ek lees die storietjie onlangs van die ou Bedouin man wat eendag 'n klop op sy deur kry. Toe hy die deur oopmaak staan 'n ou vriend, verwese daar. Die man vra hom toe of hy nie by hom geld kan leen sodat hy dringend skuld kan betaal. Die huiseienaar vra toe sy vrou om alles wat hulle het bymekaar te maak. Selfs dit was nie genoeg om die bedrag wat die man skuld te betaal nie. Hy gaan toe en gaan leen by die bure, todat hy genoeg geld bymekaar het om die man se skuld te betaal.

Toe die man weg is met die geld sien die vrou dat haar man sit en huil. "Waarom huil jy? Noudat ons self diep in die skuld is, is jy bang dat ons dit nie sal kan terugbetaal nie?" vra sy. Die man sê toe "Glad nie! Ek huil omdat hy iemand is vir wie ek baie liefhet en nie geweet het hy is in die nood nie. Ek het hom eers onthou toe hy nou aan die deur geklop het om vir geld te vra"

Nou het ek my in 'n hoek geskryf want alhoewel ek op 'n slinkse filosofiese manier dit kan wegredeneer, het ek tog vergeet van baie mense. Mense wat ek ken en nie ken nie. Want sien, die lewe is mos hard en ek moet sorg vir my eie gesin. Wanneer laas het ek kos gemaak vir mense wat dit skraps het, wanneer dek ek vir hulle 'n mooi tafel met blomme op?

Ek dink dit het tyd geword vir so feesmaal, en miskien moet ek my beplanning regkry vir 'n kersete. 'n Feesmaal waar ons Xhosa huishulp, die Zulu tuinier wat een keer per week werskaf in die tuin en my vrou se enkelma assistent van die kaapse vlakte en sommer 'n paar ander naderskuif na 'n tafel van feeskos, nie vergeetkos nie. Wonder of ek daarvan gaan vergeet...daar is hope struikelblokke wat in my guns tel.

vispastei

Dis Sondag oggend in ons deurmekaar, tweeling-omgekeerde huis. Ons drink koffie en besluit oor die dag. Kos is hoog op ons lys maar die proviant is laag want maand einde is nog 'n spikkeltjie op die horison. Toe dit kom by kosmaak, grawe ek in die vrieskas. Pakkie "ek en djy" hake - nie mooi nie maar kan werk. Pakkie spek, haal dit ook uit. Dan so twee uie, 3 knoffelhuisies, pakkie sampioene, 'n kop broccoli, 'n vars fennel bol en takkies uit die tuin, sout, peper, suurlemoenskil en wow - 'n driekwart room. Nou is ons in besigheid.

Jy kook eers die aartappels. Terwyl dit gebeur begin jy 'n pan met botter en 'n plassie olyfolie. Braai die uie, die repies fennel bol, knoffel, sampioene, broccoli en blokkies spek lekker. Terwyl dit prut, haal jy die vel van die hake af. Ja, ek weet dis eintlik stokvis maar dit klink vir my te kook en genieterig. Jy kan ander vis ook gebruik, as jou beursie vetterig is sal salm, tuna of ander lynvis lekker werk. Self 'n snoek, sonder grate mind you, sal werk. As jy shrimps of oesters ook het , laat waai. Maak seker die grate is uit en sny dit fyn. Gooi in die pan. Nou voeg jy die suurlemoenskil en miskien bietjie gemmer en kerrie by as jy wil. Braai dit lekker deur. Haal van die hitte af.

Berei jou mash voor op enige manier waarvan jy hou. Bietjie botter, sout en witpeper is sy vriende. Voeg nou die room by die mengsel in die pan en proe voordat jy sout en peper bygooi. Sny die  fennel takkies fyn en voeg ook by. Neem 'n platterige oondbak en skep die vismengsel egalig oor die hele bodem. Smeer die mash egalig bo-oor met die agterkant van 'n lepel. Jy kan as jy wil bietjie parmesan of enige kaas bo-oor rasper. Druk hom nou vir so 15-20 minute in op 180 grade. Maak 'n lekker spinasie dis aan die kant, ek koop die pakke baba spinasie blaartjies en braai dit vinnig in 'n pan met bietjie olyfolie. Die fout wat mense hier maak is om die spinasie te pap te maak. Braai dit vinnig en warm en gee sout en peper na smaak.

Ek weet die kossie is lekker want my dogtertjie het die volgende dag met 'n hele bak daarvan klaargespeel. Mens kan altyd kinders se opinies ernstig opneem, al is hulle drie jaar oud!

ode aan die eier


Ek kan nie voortgaan met die blog sonder om eier op te hemel nie. As ek terugkyk op my nou 40-jarige bestaan besef ek dat daar 'n paar konstante in my lewe is waarvan die nederige eier een is. My pa het nog altyd hoenders gehad en in van my vroegste herhinneringe staan ek met 'n mandjie terwyl hy warm eiertjies onder kloekende hennetjies uithaal en in die mandjie pak.

Die eier was nog altyd 'n simbool van lewe waarbinne alles wat nodig is om 'n wesentjie aan die lewe te hou sommer kant ek klaar is. Vir duisende jare klits, roer, kook en bak mense eiers. Daar was 'n tyd gedurende die 80's waartydens die eier persona-non-grata was. Cholestrol en eiers is a sinoniem gesien en heelparty resepte moes sonder eier towerkragte maar sien kom klaar met allerhande weird goeters wat klein kinnertjies sal bangmaak as plaasvervangers.

Gelukkig hoor ek nie meer so baie van die doemprofete nie. Ek het my in elk geval nooit gesteur daaraan nie. Hoe kan ek my vriend die eier verloën? Hy wat my deur dik en baie dun bygestaan het. Ek gooi die kiekies uit op 'n tafel. Ek is op skool in my ma se kombuis besig om te eet aan die ontbyt tafel (was ek werklik so maer en met so lang kuif?) en my ma se olierige klipharde bakeiers swem in my bord.

Daar is staan ek in my koshuiskamer op Stellenbosch besig om eiers binne in my ketel te kook. Ek en 'n vriend is op 'n surftrip iewers langs die kus, ek staan oor 'n pan met eiers en watookal, ek en vriende eet sondag aand dopeiertjies met visvingers en tee want die geld na studieskuld is min, ek koop eiers en tulpe by die mark in Nederland, ek eet 'n omelet die oggend van my troue saam met vriende en ek sit met my seuntjie op my been en roer 'n eier special op 'n oop vuur in 'n ysterpan.

Daar is net mooi niks pretensie aan 'n eier nie. Natuurlik kan 'n mens dit met 'n geweldige mooi manelpak klee - die smaak van truffle wat in die italiaanse platteland met roereier gemaak word of rondom 'n tafel met 'n bo-kaap gesin waar 'n gaar eier binne in 'n geurige frikadel opgedis word.

Wat gaan ek die naweek doen behalwe agter kleintjies aanhardloop? Ek is nie seker nie, maar waarvan ek redelik seker is, is dat daar iewers 'n roereier, vars fennel en met 'n bietjie gerookte salm sy pad na my croissant sal kry...

o humble egg, how I love thee.

oor feeste en vriendskappe

Epicurus, die griekse filosoof wat tydens 341-270 nc gelewe het, het die volgende oor vriendskap gesê: "die eerbare mens is hoofsaaklik besig met wysheid en vriendskap en van die twee dinge is die eerste een 'n sterflike ding en die tweede 'n onsterflike ding".

Ek dink vriendskap is waarlik onsterflik en het waarskynlik nie die wysheid van 'n ou Griekse filosoof nodig om dit te weet nie. Ek het onlangs 'n mylpaal in my lewe gevier met met vriende vir wie ek kos gemaak het. Dit was ontsettende harde werk maar werklik bevedigend, veral om te sien hoe die mense nog brood deur hulle laaste sous in die borde gevee het.

Ek dink nog wysheid is ook opgesluit in 'n gedeelte van prediker in die bybel waarin gesê word: "gaan dan heen, eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met 'n vrolike hart..."

Dit is wat ek ervaar het terwyl ek om 'n lang tafel met vriende sit. Toe laat dit my ook dink aan die wonderlike film "Babette's Feast" waarin 12 purityne rondom 'n tafel smul aan wonderlike "sondige" kos maar almal gelyktydig besef dat al hulle foute, stryery, woede, haat, twyfel en wantroue oor mekaar soos mis voor die son verwyn aan die hand van diep, ryk sous wat oor hulle sintuie rol. Waaroor het hulle dan verskil en hoekom was hulle dan so kwaad vir mekaar?

Kan ons nie miskien eerder meer tyd spandeer om saam brood te breek as om tyd te mors nie? Die filosoof Kierkegaard skryf: "Dit vereis morele moed om te rou maar moed wat op geloof berus om uitbundig gelukkig te wees. As mens die gedagte werklik aanvaar beweeg dit jou stywe en lewensmoë bene om te dans!

Dis myns insiens eintlik 'n tip vir enige iemand wat hou van kosmaak. Moenie worry oor die detail van wat jy voorsit nie. Kry die mense om die tafel, berei jou kos in eenvoud voor, maak seker daar is genoeg sous sodat hulle die broodjie daardeur kan vee en deel dit met hulle met jou hele hart. Jy hoef niks meer te doen nie. Die kuns van feesvier het niks uit te maak met hoe duur of fancy jy kan kook nie, dis 'n ingesteldheid. Vir my, om te sien hoe veertig plus mense eet, gesels en lag is seker die beste ding wat daar is en ek ag my gelukkig om so iets mee te maak.

gemmer

Gisteraand strompel ek by die huis in en voel sommer net moeg. Ja, ek het 39,95 jare agter die blad en 'n drie-jarige tweeling en het genoeg rede tot stotter. Maar ek moet dit mos op een of ander manier kan aanveg of hoe? Die moegheid meen ek. Ek bedoel nie met chemiese oorlogvoering wat bruistablette en naalde in my boud insluit nie. Die eerste linie van verdediging moet mos per slot van rekening die kos wat ek eet wees.  Feuerbach het gesê "mann is was mann est" waarmee ek heelhartig kan saamstem. As ek by my skoonmense kuier vreet ek te veel vet skaaptjops en moet dan soos 'n skapie in die toilet rond blêr.

Ek was nie werklik gemotiveer om te kook nie. Die besluit is toe bangers en mash met bietjie groente. Maar wat van 'n asian twist hierop, wonder ek toe. Ek kook so paar aartappels en maak 'n lekker mash. In my wok braai ek die varkworsies en groente maar in plaas van die normale uie en knoffel gebruik ek toe die hele reuse knoets gemmer en knoffel. Aan die einde voeg ek my chop suey sous by en meng deur.

Toe smul ons aan romerige mash, met heerlike souserige geurige worsies, groente en lekker sterk gemmer wat jou sommer so bietjie laat snak na jou asem.

En vandag? Ek voel sommer beter en kan sweer dis die gemmer...

stringozzi alle olive

Vegetarians is nie so bad nie. Hulle is mos darem nie eintlik 'n "hulle" nie en wie is "ons" dan nou? Ons is die ouens wat leef van battery hoenders en nie werklik omgee waar ons kos vandaan kom nie. Ek reis onrustig en onseker met my status as vleisvreter. Ook as afrikaans sprekende witman - veral as ek so ongelukkig is om Kurt Darren se musiek te hoor of die mense te sien wat vir die blou bulle skree. Maar nou ja, ek is mos ook darem altemit nie beter as hulle nie en moet ook versigtig waak om myself in 'n klasse diskoers te begewe nie. Dit is hoe meeste van die probleme oorspronklik ontstaan het.

Okay, dis 'n kosblog die en julle soek nie noodwendig my goedkoop wisdompies nie! Hierdie resep is, wat my betref, een van die lekkerste vegetarian pastas wat bestaan.

Jy benodig:
olyfolie
so 250g ontpitte swart olywe
2 knoffelhuisies, fyngesny
so 6 lekker groot bruin sampioene in skywe gesny
1 pakkie gedroogde wilde sampioene, fyngesny - onthou om dit in bietjie water te sit om te rehidreer
so bossie italiaanse pietersielie, fungesny
'n halfkoppie plaasbotter
'n grypie rooi chilli vlokkies of vars chilli (onthou om die pitjies uit te haal as jy bang is vir die skop)
sout en swartpeper
parmesan kaas, fyn gerasper

In jou lekker ou pan maak jy nou die olyfolie lekker warm, voeg die knoffel en sampioene by en braai lekker todat alles mooi bruin is maar moenie brand nie. Nou gooi jy die spulletjie in jou blender of voedselverwerker, voeg die olywe en pietersielie by, vat 'n slukkie wyn, draai die knoppie op 2 en maak fyn. Nou vat jy 'n teelepel en proe. Kort dit sout en peper? Okay, gooi dit in.

Nou is jou basiese sous gereed en kan jy puzzle bou saam met jou kinders of net die lekker boek nog bietjie lees. So 15 minute voor jy wil eet kry jy nou daardie selfde ou pannetjie aan die gang maar die keer met die botter in. As jou botter lekker borrel voeg die konkoksie en die chilli vlokkies by. Laat dit aanstap vir paar minute tewyl jy jou pasta kook. Ek dink 'n pasta soos penne sal lekker werk.

Moenie jou olyfsous laat brand nie. Dreineer die pasta en gooi dit sommer by die sous in die pan en roer dit deur. Nou moet die spannetjie wat sit en wag vir jou hulle sitplekke kry. Skep op in sulke mooi bakkies, strooi die parmesan oor en sit voor. Skink Shiraz in elkeen se glas en eet met oorgawe. Jy kan nou sonder om skuldig te voel die gesprek stuur in die rigting van hoe sleg jy voel oor die lewens van die arme battery hoenders. Ek ken nice vegetarians...