eet kreef!

Ek is pas terug van 'n wonderlike surftrippie deur Transkei via Jeffreys Baai en Oos Londen. Dit was wonderlik, wonderlik om 'n vuilbaard te kan groei, om nie agter kinders aan te hardloop nie, om te slaap, eet en natuurlik te surf net wanneer ek wil. So gepraat van eet, ek het wonderlike ervarings gehad in Mdumbi. Ons het gebly in die Mdumbi Backpackers so neffens Kofi Baai. Jy ry jouself in 'n koma in om daar te kom, ons het amper die hele dag gery vanaf Oos Londen. Die rede is, potholes, bokke, skape, beeste, honde, taxis ens. Jy het nie 'n 4x4 nodig nie, net geduld.


Die Mdumbi Backpackers is meer as net 'n besigheid - dit is 'n gemeenskapsbesigheid, bestuur deur mense wat omgee vir wat om hulle aangaan. Hulle gee jou allerhande raad hoe om met die plaaslike mense interaksie te hê en moedig dit aan. 

Ek vind my toe alleen op die strand een oggend so net na 5 met 'n sonsopkoms swem. Met die afdroog kom 'n ou visserman nader na my gestap. Sy kreukelgesig glimlag tandloos en hy vra my in gebroke Engels of ek wil vis koop. Een van die riglyne is om seker te maak dat die persoon wat aan jou die vis verkoop, 'n lisensie het en dat die vis die regte grootte en in seisoen is. Toe hy sy sak oopmaak, lê daar 2 reuse groot wriemelende krewe. Gelukkig is ek 'n ou hand met kreef uithaal so ek kon dadelik sien dat die knewels groot genoeg was. Sy lisensie het hy trots uitgehaal en so is die transaksie beklink.


So hoe werk jy met die krewe? Daar is baie maniere, afhangende van wat jy tot jou beskikking het. Wat ek toe gedoen het is maar die algemene kaapse manier. Baie mense gooi die krewe in kookwater soos hulle dit kry, ek het hulle eerder gou met 'n vinnige mes deur die rugstringetjie doodgemaak. Ek kry toe kookwater aan die gang en in met hulle!


Hulle word na so 7 -10 minute mooi rooi en dan kan jy hulle uithaal. Wat ek toe doen is om die kreef neer te sit op sy maag soos wat hy natuurlik lyk. Toe sny ek hom heeltemal in die lengte deur in twee helftes(sien die foto). Ek haal die witvleis uit en spoel die bruin gemors af (terloops, die geharde manne noem dit kreefmayonaise maar ek is seker nie gehard genoeg om dit te eet nie!) dan is jy gereed. 'n Blerts mayonaise op die bord, dan is dit dip en smul, dip en smul...terwyl jy oor die see staar en die beeste om jou loop.


NS: As jy kan is dit baie lekker om die helftes vinnig op 'n rooster oor 'n oop vuur te braai met botter en suurlemoen. Lekker yskoue witwyn in jou glas en eet dat die botter teen jou ken afloop!