dinner al fresco

Dis vir my baie wonderlik om dinge raak te loop wat oor kulture heen dieselfde is. Die pot waarin ons kook het oor die eeue heen nie veel verander nie, miskien in terme van die materiaal en gemak om mee te werk. Miskien is dit ook die doel van reis om halfpad oor die aarde te gaan en te midde van al die verskille tog te sien dat mense almal maar basies dieselde is.

Iets wat ek die afgelope naweek weer besef het is dat daar een wonderlike ding is wat mense saambind oor kulture heen en dit is om buite kos te maak en te eet. Dit staan bekend as "al fresco dining" Die woorde boek gee twee definisies:

located, suited for, or taking place in the open air; "outdoor clothes"; "badminton and other outdoor games"; "a beautiful outdoor setting for the wedding"
outside a building; "in summer we play outside"
out of doors, outdoors, outside

Ek weet nie so lekker van die badminton nie maar hou van die "in summer we play outside"! Ek besef dat die buite kosmakery diep in my are is. Ek hou daarvan om met my versameling swart gebrande potte, panne, houtlepels en roosters om 'n vuurtjie te woel. Ek is geen boekskrywer nie maar ek dink nogal ek kan met julle my lysie deel van wat nodig is om in Suid Afrikaanse styl al fresco kos te maak.

willie's guide to al fresco cooking for dummies
1. Koplig, as jy nie kan sien nie kan jy nie kook nie. Hang dit al om jou nek laatmiddag want as jy te lank wag kan jy nie jou flits in die donker kry nie!
2. 'n  Lekker groot plastiek krat waarin jy al jou ditjies en datjies mooi bymekaar hou
3. Trailmix - kry sommer een van daardie gebruikte robertsons spice botteltjies. Gooi jy in waarvan jy hou maar doen dit proe-proe. Sout, peper, gemengde kruie, kerrie, gemmer, kaneel ens
4. Verstelbare driepoot staanders - jy benodig 'n warm en koud setting en al wat jou dit kan gee is hoogte
5. Opslaan tafeltjie, sodat jy jou goeters lekker kan uitpak
6. Rol jou lekker messe in 'n vadoek toe sodat hulle nie aanmekaar raak nie
7. Houtborde vir sny
8. Natlap en vatlappies
9. Koue witwyn en baie ys
10. Gameplan, moenie te ingewikkeld kook nie. Hoe meer detail hoe meer vure/gas het jy nodig. Neem in elk geval jou gasbottel saam sodat jy 'n alternatief tot hout het. Dit kan jy darem op en afstel!
11. Storm lanterns of lampies sodat jy genoeg beligting in jou kosmaak en eet area het
12. Genoeg hout, sodat jy darem ook vuur kan maak as die mense eet
13. Tyd, moenie haastig wees nie maar gee jouself genoeg tyd en span mense in om jou te help, al sny hulle net die uie, hou die vuur dop en skink jou dop!

Die ding wat al fresco so lekker maak is dat dit 'n mens so half kaalgat uittrek. Jy het nie die luxuries van jou kombuis nie. Mense sit en eet op hulle skote of by 'n rowwe tafel. Maar kyk hoe kinders dit geniet en kyk hoe jolly gaan dit. So neem tyd oor die groot dae om iewers, al is dit in jou agter tuin, so paar pannetjies aan die gang te kry in ware al fresco styl!

risotto met prosciutto, bokmelk kaas en suurlemoen tiemie

Ek kry so elke nou en dan 'n onaanvegbare lus vir risotto. Dit is vir my die beste voorbeeld van kos wat jou gemaklik, vol en warm laat voel. Dis amper soos sjokolade pronutro! As ek dit maak nooi ek graag mense omdat dit nogal werk is, en omdat ek mal is daaroor om te luister na die stilte om die tafel en die krappery wanneer hulle die borde leegmaak.

Hierdie een het ek opgespoor in 'n resepte boek en dit toe Saterdag aand probeer. Jy benodig vir 4 mense min of meer die volgende:

500 gram risotto
'n pot vol hoender of groente aftreksel
so 150 - 200 gram prosciutto (of jy jan enige ander goeie kwaliteit gerookte ham gebruik)
'n goeie handvol suurlemoen tiemie
'n handvol vars parmesan kaas
so 150 gram bokmelk kaas
1 ui, fyngesny
so 4 knoffelhuisies, fyngesny
'n handvol Italiaanse pietersielie
Sout en swart peper

Ek het al die proses van risotto beskryf in April. Hier net weer kortliks. Jy kry 'n lekker swaar pan of pot aan die gang met olyfolie, uie en knoffel. Dan voeg jy jou risotto in en braai stadig todat jy sien die risotto raak effens deurskynend. Nou maak jy die bottel witwyn oop. Skink vir jouself 'n glasie en gooi nog 'n glas wyn by die risotto. Dit sal wegkook, hou aan met roer. Nou hou jy aan met aftreksel oorgooi en roer. Dit sal so ongeveer 20 na 25 minute neem. Maak seker die risotto bly bedek met aftreksel. Gooi jou handvol suurlemoentiemie by.

Sny jou prosciutto in fyn langwerpige repies en plaas eenkant saam met jou pietersielie en 2 tipes kaas. Omdat dit gerook is hoef jy dit nie gaar te maak nie, terloops moenie gerookte vleis ooit gaar maak nie dan word dit geweldig sout. Jou gaste kom nou in en hou hulle maar besig met wyn. Hulle moenie vir jou kwaad word as jy voortdurend jou oog op die pot hou nie. Risotto is 'n high maintenance girlfriend en sy dring aan op aandag.

As jou risoto reg is, laat die laaste hoenderaftreksel bietjie wegkook en roer die parmesan kaas deur sowel as sout en peper na smaak. Skep dit uit die pan uit in elke bord en strooi bo-op elke hopie die pietersielie, nog tiemie, die repies vleis en lekker dun stukkies bokmelk kaas. Skink witwyn, roer jou bestandele lekker deurmekaar en smul. Moenie verbaas wees as jy nie  oorskiet oor het vir Sondag aand se MNET fliek nie!