humble pie

Ek het iewers in die blog al geskryf oor hoe belangrike rol die eier in my lewe gespeel het. Dis altyd vir my verassend hoe kos, en veral eenvoudige kos, mens kan terugvat na tye en ervarings in jou lewe. Jy ruik 'n appelkoos of proe kaneel dan is jy in jou eie time machine oppad na jou verlede! So is dit vir my met die "pie"

Wat my hieraan laat dink het is 'n stop die ander dag by Houwhoek padstal net anderkant Grabouw. Hulle maak die mees ongelooflike vars pies. Jy koop die worsrol. Of anders gestel - jy trip die vrou langs jou oppad na die toonbank toe want jy weet sy wil die laaste vier worsrolle vat. Dan koop jy vir jou 'n vars volroom melk want sien pies is the spreekwoordelik "gift that keeps om giving" van sooibrand.

Wat jy nou doen is om te ry met die melk tussen jou bene en die pie in jou hand. Ou pie eters sal dit gemaklik doen. Hulle kry nie van daardie waspapier tussen julle tande nie, hulle verander gemaklik ratte met geselekteerde skoon vingers tussen die pie en melk deur.

Daardie Houwhoek worsrol is vol ongelooflik maalvleis gegeur met uie en kruie. Dit is so lekker dat jy die kwaaikyke van die getripte tannie wat met steak en kidney tevrede moet wees, gemaklik verduur. As jong kind het ek soms saam met my pa op 'n Saterdag as hy moes gaan werk ingegaan stad toe. Dan het ons 'n haircut by die barbier gekry (haircut van hel waaroor ek nou nog met terapeute moet praat) en 'n pie gekoop. Die humble pie is deel van ons kultuurgoedere. Om hom reg te bak is 'n kuns. Die grootmaat pie mense het ongelukkig die kuns verloor. Al veg dit teen Mac Donalds en Steers is dit vir my steeds koning, koning vir die man op straat. Stop volgende keer by Houwhoek padstal en gryp daai worsrol!

springbok boud

Ek is maar soos menige stadsjapie skrikkerig vir wildsvleis. Nie skrikkerig om dit te eet nie maar vir die maakslag. Dit voel net soms asof wild baie werk is. As jy dit boonop nie regkry nie kan dit maar wilderig oneetbaar wees! Ek het al geskryf hieroor in die blog toe ek gepraat het van hoe Leipoldt in sy "polfyntjies vir die proe" en "Cape Cookery" geskryf het oor die snaakste eetbare dieresoorte soos flaminke en seekoeie. Ek vermoed dat daar nie sommer uit my pen 'n seekoei resep sal vloei nie maar ek wil darem 'n springbok boud eetbaar kan voorsit.

Die naweek kry ek die geleentheid om met 'n ontbeende springbok boud te werk. Ek besluit toe dat ek nie lus is vir die lang proses in die oond nie. Nee, ek gaan die boud direk braai op 'n riffel yster plaat ala steak. Dapper of dommerig is die eerste twee woorde waaraan ek kan dink. Die ander uitdaging is dat ek by ander mense se huis met hulle kookmiddele en speserye moet werk.

Dis wat jy doen: Jy maak seker die boud is heeltemal ontvries. Moet tog nie halfbevrore vleis braai nie, dit val vir my in die kategorie van coke oor vleis. Don't go there. Ek maak toe 'n mengsel van wat ek kan vind. Balsamic vinegar, sout, peper, knoffel, chutney, soy sous, olyfolie, tamatiesous en mostertpoeier. Ek meng dit toe saam en gooi dit bo-oor die boud om vir so 2 ure te marineer.

Nou sny ek die ergste senings af en sny die hele boud in min of meer ewe groot stukke. Ai, hoe mis ek my vlymskerp Santoku mes! Min of meer steak porsie grote is wat jy hier wil kry. As jy die mote nie eweredig sny nie sal jou vleis nie eweredig gaarkom nie. Nou maak ek 'n rooiwyn reduksie sous - dis maklik, braai bietjie uie, knoffel en sampioene in 'n pannetjie. Gooi so koppie rooiwyn by en laat stadig prut todat die wyn omtrent 2 derdes minder is. Gooi nou so 200 ml hoenderaftreksel by en laat nog verder baie stadig reduce todat jy so 100 ml lekker stroperige sous het. Plaas eenkant en skink vir jouself 'n werlverdiende glasie Shiraz. So gepraat van Shiraz, ek het my onlangs vergryp aan 'n 2008 Anatu Shiraz. Dis 'n ou skoolvriend van my se wonderlike skepping. Dit proe asof jy 'n stuk Lindt sjokolade in jou mond saam met rooiwyn rondspoel - absoluut wonderlik!

Ek gebruik 'n dik riffel pan wat amper blou warm moet word op 'n gasbrander. Jy kan dit ook op die kole doen, maar sorg dat jy egalige warm kole het. Op die stadium moet jy nie worry oor bykos nie. Myne was net verskeie groente in 'n oondbak op grill met baie vars kruie en olyfolie. Ek sit die stukke vleis neer op die riffel pan en die rook trek behoorlik! Moenie lol aan dit nie, jy los dit en wat gebeur is dat die vleis sal wegtrek van die pan af sodat jy dit kan omdraai. Maak maar net seker dat dit nie te erg brand nie, gelukkig sal die riffel pan dit mooi egalige strepe gee. As die vleis so medium/ rare is (afhangende van jou smaak) haal dit af, en laat rus eenkant. Gee jouself nog tyd vir een van André se lekker glasies Anatu.

Pak die vleis mooi uit op jou ouma se platbord en strooi die dik rooiwyn en sampioen sous so mooi oor alles. Sit aan met jou geliefdes en weet verseker - al is springbok rugby nie jou redding nie sal springbok vleis jou nooit in die steek laat nie!