kaas fondue

Kaas fondue is wonderlik, maklik om te maak en gesellig om te eet. Wees gewaarsku dat dit ryk is, ek het in die baie donker oggend ure van Sondag oggend die prys betaal vir my hedonisme. Ek sal dit weer doen!

Wat ek gebruik het:
  • 600g kaas - ek het 'n mengsel van Gruyere, Emmental en Camembert gebruik en dit in klein blokkies gesny
  • 300ml witwyn - die res drink jy
  • 3 teelepels Maizena
  • 3 eetlepels brandwyn - die ware Jacob is eintlik Kirsch maar ek was te stingy om dit spesiaal te koop
  • 1 geskilde heel knoffelhuisie
  • 'n paar lekker draaie swart peper
  • 'n goeie grypie neutmuskaat
  • lekker vars brood in blokkies gesny
  • enige vars groente - ek het blomkool, broccoli, aspersies, wortels, klein slaai mielietjies vinnig in die pan gestoom om net effens sagter te word
  • ek het bockworst en stukkies van daai gekrummelde hoender bites ook gehad.
  • enige iets anders, behalwe jou ouma, wat jy wil dip
Nou moenie dieselfde fout as ek maak en vergeet om  blou sprits te koop nie want dan gaan jy (soos ek moes maak) jou voorskoot moet uitrek en winkel toe ry in die koue. Gooi jou blokkies kaas in die pot saam met die wyn en bring tot by kookpunt. Die kaas sal smelt. Tip: sny die skilletjie van die Camembert af want dit sal nie smelt nie. Roer gereeld en proe-proe aan die wyn wat oorgebly het. Draai die pot af tot baie stadig. Nou voeg jy jou Maizena en die brandwyn in 'n mengbeker saam en roer tot opgelos. Gooi dit saam met die heel knoffelhuisie in die pot en roer. Voeg die swartpeper en neutmuskaat by en sit die pot op jou fondue brandertjie. Kyk nou hoe lekker dip ons. Dis dip en gesels, dip en gesels...