stampkoring is koning

Ek weet nie wat met my aangaan nie maar ek wil die laaste tyd net stampkoring eet. Ek sit agter my lessenaar by die werk. Ek het 'n bordjie met vars tamaties en gisteraand se koue stampkoring wat ek opgedoen het met 'n dash olyfolie, mayonnaise, vars tiemie, feta kaas, sout en swart peper. Dis wonderlik EN cheap! Dis vir my so eienaardig dat 'n mens ou, eenvoudige kosse vergeet en dis nie 'n vergeet gebore uit afgryse nie!

Stampkoring, pearled wheat of pearled barley kos minder as R10 per pakkie en kan heerlik in plaas van rys en selfs pasta geregte gebruik word. Jy spoel dit eers lekker skoon. Maak die pot vol vars water. Jy benodig seker so 3 koppies vars water per koppie koring. Dan bring jy die lotjie tot kookpunt en laat dit dan prut vir so 20-30 minute. As die water begin verdwyn kan jy dit ook so bietjie droog stoom.

Ek het gisteraand 'n heerlike "butter chicken" gemaak wat baie lekker saam met die koring gaan. Dis nou so helwarm hier by ons dat mens nie krag het vir enige iets wat moeite verg nie. Ek grawe toe so halfhartig in die koskas en kom af op 'n amper vergete  pakkie Ina Paarman butterchicken cook-in sousie. Hoenderposies, uie, knoffel en 'n gryp gemmer word dadelik in die pot gebraai. Sny 'n handvol elk van die volgende - wortels, patats en baby marrows (ek het nie 'n clue wat dit in Afrikaans is nie). Sampioene sal ook werk. As jy dalk 'n blikkie borlotti of butterbeans het - gooi dit ook in maar raak net eers van die water ontslae! Iemand vertel my die ander dag hoe sy sommer so blik en water en alles ingooi! Nee man sies.

Die oomblik wat die porsies lekker goudbruin is, gooi jy die groente in en voeg tannie Ina se sousie mooi egalig bo-oor by. Sit die deksel op en laat stadig prut vir so 45 minute. Op daardie stadium is dit so warm in die kombuis dat ek dadelik deur die swembad spring en dit volg deur 'n gallon koue water te drink!

Die huis is nou half donker, die kinders slaap. As jy 'n koue witwyn het, gooi dit in twee glase. Skep die heerlike butterchicken mengsel oor die koring. Eet dat die sweet so loop maar dis tongklap lekker!

Nabetragting: oor die algemeen probeer ek kosmakery nastreef wat fees vier met dit wat basies, lekker, heilsaam en gesellig is. Daar is ook by my 'n soeke na outydse waardes en resepte wat iets meer wil sê van die kok en die eters. Soms, soos gisteraand, is dit egter nodig en selfs lekker om te kyk na wat jy het en dan interesante kortpaaie daarmee te volg. Ek sal meestal sê dat mens byvoorbeeld jou eie kerrie mengsel in die pan moet aanmaak. Maar al wil ek ook hoe graag, kan ek nie altyd uitkom by die klein spesery winkels soos Atlas Trading in die bo-Kaap of Spice Mecca in Durban se dorpskern nie. Dan moet 'n mens bietjie sif deur wat beskikbaar is en daarom voel ek dat Tannie Ina uitstekende, gesonde opsies verskaf om jou net twee keer te laat dink voordat jy Panarotti's bel!

hoenderlewer met 'n chakalaka twist

Oor die afgelope kersvakansie het my suster my bekend gestel aan die lekker gereg. Dit is verslawend lekker en baie maklik. Jy kan die resep ook aanpas afhangende van die stand van jou koskas en beursie. Wat jy benodig is min of meer die volgende:
  • Pakkie hoenderlewer
  • So knertsie brandewyn
  • Groot ui en 'n paar knoffelhuisies, mooi fyn gesny
  • 1 blikkie chakalaka, koop eerder die mild een
  • 1 botteltjie vars room
  • handvol vars fyngesnyde pietersielie, dhania sal ook werk dink ek
  • lekker vars brood, ciabatta werk lekker
  • 'n Grypie sout en peper
Nou braai jy die uie en knoffel in 'n pannetjie met olyfolie. Sny die hoenderlewer so klein bietjie fyner maar moet dit nie omskep in maalvleis nie! Voeg die lewer, brandwyn en chakalaka by en laat dit so bietjie prut terwyl jy jou houtlepel toedien in sirkelformasie. Moenie gaan karwas terwyl jy wag nie maar 'n vinnige stoei met jou laaitie op die mat sal net die regte tyd gee.Voeg die vars room, sout en peper by en maak seker die bakkies is op die tafel met die vars brood op die kant. Maak die wyn oop en skink vir die mense. Skep die sopbakkies so halfvol en gooi vars pietersielie bo oor. Nou breek jy die vars brood en sleep dit so deur die dik sous - chakalekka! Maak seker dat jy genoeg maak en moenie te veel beplan vir jou hoofgereg nie, die ouens gaan hulle knuppeldik eet aan die enetjie. Lewer is nie gewoonlik trendy nie maar ek belowe jou die upstairs mense sal ook hulle borde uitlek!