brood vir Luc

Vriende se seuntjie het onlangs 'n nare ongeluk gehad toe kokende tee op hom uitgeval het. Dit terwyl hulle gesin op 'n werk en vakansiebesoek in Skotland is. As pa kry ek hoendervleis om te dink wat deur hulle gedagtes moes gaan te midde van die aaklige ervaring. Wat my hart druk om hierdie broodresep aan klein Luc op te dra is toe ek hoor hoe hy volgens wat sy pa vertel, die hospitaal in Skotland oorgeneem het met sy sonnige persoonlikheid en positiewe energie te midde van hierdie uiters pynvolle ervaring.

Ons grootmense word mos telkens herhinner hoe ongelooflik sterk 'n kind se spirit kan wees. Miskien is dit omdat die sinisme van grootmenswees nog nie sy nare stempel op 'n kind afgedruk het nie? Sy ouers publiseer reeds fotos waar hy sit met 'n lekker toebroodjie en groot glimlag...sommer so deur die verbande deur. Dis nie altemit dat die mannetjie se wortels uit die Swartland is nie, daar waar die mense hou van brood!

So, Luc ek weet jy sit in die vêrre Skotland en miskien verstaan jy nie alles wat met jou gebur nie. Ons almal hier by die huis se hande is afgekap om jou te help. Al wat ek kan doen is om jou pa, ma of ouma se hande te leen vir 'n uur of twee sodat hulle vir jou hierdie spesiale broodjie kan bak in my plek. Dit is propvol goeie dinge wat jou sal help om gesond te word.

 Benodighede:
  • Spray and cook
  • 1 koppie lekker whole wheat meel
  • 1 teelepel bakpoeier
  • halwe teelepel koeksoda (baking soda)
  • kwart teelepel sout
  • 2 fyngedrukde ryp piesangs
  • so derde van 'n koppie romerige grondboontjie botter
  • driekwart koppie bruin suiker
  • kwart koppie plein jogurt
  • 1 groot eier
  • 1 eetlepel canola olie
  • driekwart koppie sjokolade chips
Aanwysings:

Voorverhit jou oond tot 175 grade celcius - ek weet nie van die skotse oonde nie maar dis so 350 F. Spray 'n normale broodpannetjie sorgvuldig met die spray and cook. Whisk die meel, koeksoda en sout in 'n lekker groot mengbak. Vat 'n ander mengbak en roer die piesang, grondboontjie botter, bruin suiker, jogurt, eier en canola olie ordentlik bymekaar - dis 'n Jasper job!

Nou meng jy die piesangmengsel goed in by die meelmengsel. Nadat dit goed gekombineer is, gooi die sjokolade chips by en roer deur. Gooi dit nou mooi egalig met 'n lepel uit in die broodpannetjie. Bak dit in die voorverwarmde oond todat 'n tandestokkie skoon uitkom, ongeveer 40-50 minute. Laat dit staan op 'n rakkie om af te koel.

Sny die brood in skywe. Roep nou vir die jong held en sy boetie en sussie nader. Ons is baie trots op jou Luc! Veilige terugreis seuntjie...

penne met gerookde salm en roomkaas

Hierdie resep is 'n variasie op 'n resep wat ek reeds gedeel het. Dis die "go-to" resep as jy met jou hande in jou hare sit, jou skoonma kom kuier of jy wil die meisie impress met jou vaardigheid in die kombuis.

Bestandele vir 4 mense:

1 pak penne pasta
1 koppie sagte roomkaas, jy kan dit effens opwarm sodat dit makliker smelt
1 fyngekap handvol dill
'n koppievol jong ertjies
4 groen uitjies, fyngesny
1 suurlemoen se sap sowel as die skil (zest)
1 eetlepel dijon mostert
'n lekker handvol capers
so 200 gram gerookde salm, in langwerpige strokies gesny
'n grypie of twee sout en swartpeper
so bakkie vars parmesan kaas as jy het

Kook jou penne pasta in lekker baie sout water. Nie te pap nie asseblief! Skep so paar lepels van die styselagtige pasta water uit en hou eenkant. Gooi sommer die ertjies by vir so 3 minute voor jy die pasta afhaal. Dryneer die pasta en gooi terug in die pot. Skep die pasta water wat jy eenkant gehou het (so 200ml) weer terug in die pot. Gooi al die bestandele by die pasta behalwe die salm. Roer versigtig deur todat die roomkaas 'n sous vorm. Op die laaste oomblik roer jy jou salm by, sprinkel sout en peper na smaak oor met 'n gooisel parmesan en 'n paar druppeltjies olyfolie. Skink bietjie wyn en smul. Eet redelik vinnig as jy kan want die ander mense gaan al die seconds opvreet!