eenvoud is die vreugde van die lewe

Ant
Dit is net in Suid Afrika waar die Chinese kok van 'n welbekende restaurant (wat ook nogals na hom vernoem is) sy eie restaurant 2 kilometer verder in die straat oopmaak, met presies dieselfde spyskaart. En dan gaan altwee restaurante doodluiters aan met hulle lewens! In elk geval die een waarna ek verwys is in Kaapstad net langs die Gardens inkopie sentrum. Dit was nog altyd een van my gunstelinge, juis omdat die spyskaart so wye reeks kos kulture reflekteer. Chinees, Japanees, Mongolian en Viëtnamees om maar net 'n paar te noem. Dan nog die verskillende hitte grade aangedui met chillies.
 
Gino's
Ek eet nie baie uit nie want ek is 'n onbeskaamde bon vivant sowel as vreeslik suinig om iemand anders te betaal om vir my soms gemiddelde kos te berei. Verder dink ek ook dat soveel mense se saai lewens wentel om baie geld te spandeer in restaurante en dat dit miskien 'n teken is van hoe ons  moderne mense ons lewens inrig. Ons het nie tyd vir "sukkel" nie en ons lewe vir wow ervarings want slegs daarin voel ons dat ons kry wat ons toekom. Ek is natuurlik ook maar deel daarvan en worstel daarmee. Hoe kry ek my kinders om te verkies om onder in ons lapa kaalvoet te sit met 'n worsie op die vuur en heeltemal gelukkig te wees omdat hulle (en ek) teenwoordig is in die oomblik? 
 
Fat Cactus
Chef Pon's Asian Kitchen
Dis egter 'n simpel eienskap van my dat ek altyd in 'n restaurant sit en wonder of dit die geld werd is...miskien juis daarom dat ek nou in my lewe op 'n plek is waarin ek eerder neig na eenvoud. Ek hou van 'n eenvoudige pizza uit 'n hout verwarmde oond of in dié geval sorgsame oosterse kos wat geurig voorberei is.
 
Dis nooit verkeerd om gesellig uit te gaan nie, mits jy dit nie elke week moet doen omdat jy jouself vreeslik jammer kry as jy by die huis sit nie. Ek wonder of mens nie ook aan die ervaring verslaaf kan raak nie?
 
Om jou verder te spaar van myhele lange relaas, doen jouself 'n guns en besoek Chef Pon's Asian Kitchen in Kaapstad, Gino's pizzeria op Stellenbosch, Fat Cactus Mexikaanse restaurant in Mobray, Ant Café in Mellville JHB of  Café Mexicho ook in Mellville. Ek reken dat jy by die (en ander) plekke heerlik, goedkoop en in eenvoud kan eet. Dis as jy nou natuurlik werklik moet uiteet!
Café Mexicho

hoender en rys pilaf surprise

Ek het onlangs met my kookgroep die maklike resep gemaak, of laat ek sê hulle het dit gemaak! Pas die tyd in die oond aan as jou volume hoender meer raak. Maak ook seker dat jou oond lekker voorverwarm word. Wat jy benodig is:
 
4 - 6 hoender porsies (Dit werk ook met vis maar die baktyd is minder en die speserye ietwat anders)
1 koppie gewone mayonnaise
1 koppie broodkrummels
1 koppie gewone witrys of enige ander wat jy het
 3 eetlepels botter
 1 medium ui
 ongeveer 50 - 100g klein gedroogde appelkose per koppie rys
 ongeveer 50 - 100g amandel “flakes” per koppie rys
3 koppies hoender aftreksel – bring sommer Ina Paarman poeier
1 lourier blaar
Vars of gedroogde tiemie
‘n “bunch” vars aspersies (Nee, nie die tipe wat in 'n blik kom nie en wat andersins bekend staan as olifantpuisies)
 
Metode: Onthou jy het drie prosesse, kyk mooi na die kooktyd en rangskik daarvolgens. As jy enige snywerk voor die tyd kllarmaak help dit baie. Iets soos om die tiemie se blaartjies te stroop vat 'n paar minute maar as jy dit, die sny van die uie, die fynmaak van die broodkrummels ens gereed het dan het jy tyd tussen oop vir 'n slukkie wyn of om vir die hond 'n tennisbal te gooi.
1. Mayonnaise hoender
Voorverhit jou oond tot 200 - 220 grade C. Was jou hoender porsies vinnig onder koue lopende water en klad droog met kombuis papier. Smeer die porsies deeglik met mayonnaise, gooi sommer in ‘n sak vol van die broodkummels en skud todat die hoender oortrek is met broodkrummels. Onthou jy kan jou broodkrummels geur met sout en peper en kruie soos tiemie. Plaas die hoender porsies in ‘n oondbak en bak vir ongeveer 40 - 60 minute. Hou net dop dat die krummels nie brand nie.
 
2. Rys pilaf met amandels en appelkose
 
Dié eenvoudige, veeldoelige rys gereg word ondersky deur die metode – jy sauté die korrels vinnig in botter/olie voordat jy vloeistof byvoeg – dit gee baie smaak en help dat die ryskorrels lekker fluffy en apart bly. Rys pilaf is ‘n wonderlike oop boek, jy kan die amandels en appelkose vervang met amper enige iets!
 
Smelt die botter in ‘n pan oor medium hitte, voeg uie by en sauté vir ‘n paar minute todat dit net begin goudkleurig raak.
Voeg die rys by en hou aan om te braai todat al die korrels goed met die botter oortrek is, moenie brand nie!
Nou voeg jy die lourierblaar, fyn amandels en appelkose by en voeg die hoender aftreksel by. Laat dit kookpunt bereik. Draai sagter, voeg bietjie sout en peper by en laat saggies prut met die deksel op totdat die rys sag is en al die vloeistof geabsorbeer is, ongeveer 15 minute.
Sit die plaat af, los die deksel op en laat staan vir so paar minute voordat jy dit opdien.

3. Aspersies

Sny die onderste 1cm van die aspersies af. Kry ‘n pot vol water met ‘n teelepel sout in vinnig aan die kook. Plaas ‘n bak vol yswater net langs die pot. Sit die aspersies vinnig in (maksimum 1 minuut), haal uit en gooi dadelik in die yswater. Haal uit na so 1 minuut en plaas eenkant.

Wanneer al die ander geregte reeds opgeskep is, gooi jy dit vir 30 sekondes in ‘n warm pan met olyfolie, gee so paar draaie en sit dadelik op die bord. ‘n Girtsie sout en peper rond dit af. Onthou oorgaar aspersies is sonde!