tuisgemaakde tamatiesous

My spannetjie is redelik swaar op tamatiesous. As hy kon sou my seuntjie dit by sy Pronutro meng. Tamatie en piesang geur gaan mos lekker saam! Synde dit so belangrike deel van  my kinders se lewens is, het ek gewonder of 'n mens nie jou eie tamatiesous vars kan maak nie. Ek het, eg aan my aard, te wyd gaan lees en verlore geraak in een van Malcolm Gladwell se essays waarin hy breedvoerig ondersoek doen oor wat nou die perfekte "ketchap" is en hoekom dit so is. Heel filosofies. Gelukkig het ek my pad terug gevind en die resep is die gevolg. Dit is maklik, die spannetjie in my kookgroep het almal foutlose tamatiesous gemaak binne 'n uur. Die sous hou ook lekker lank en word amper lekkerder in die yskas.

Wat jy benodig vir 'n redelik trekseltjie is:

1 blik tamaties
1 klein blikkie of pakkie tamatie puree
1 groot ui, gesny
1 koppie rooi wyn asyn
‘n halwe koppie suiker
‘n halwe koppie olyfolie
2 eetlepels neutmuskaat
‘n halwe teelepel allspice
2 lourierblare
‘n grypie sout en swart peper

Instruksies:

Gooi alles in 'n lekker groot souspan en bring oor medium hitte tot prut. Hou aan daarmee, roer van tyd tot tyd deur todat die vloeistof ongeveer met die helfte verminder het. Hier is 'n wenk hoe om dit te bepaal. Sit jou houtlepel in die begin agterstevoor in om die vol vlak te bepaal en dan merk dit die lepel rooi. Dan kan jy weer meet as dit halfpad is. Dit behoort so 30 minute te vat.

Laat die vloeistof goed afkoel tot kamer temperatuur (kokende vloeistof kan ontplof as jy dit dadelik bewerk) Gooi die mengsel minus die lourierblare in jou versapper en maak 'n puree. 

Nou soek jy slaptjips om daarin te dip!