hoendertieties


Die meeste families eet hoender borsies meer as een maal per week. Dit is amper soos blikkies tuna was in my studentedae, goedkoop en gesond. My hele lewe probeer ek "lekker" daarby voeg deur allerhande tricks. Daar is nog net een gereg wat ek nie kon lekker maak nie en dit is boeliebeef wat ek probeer braai het in die pan met vars kruie, uie en speserye. Ek moes dit toe steeds vir die hond gee en die het ook maar snuif-snuif, stywe wang daaraan geproe.

Maar wat hoender borsies betref, glo ek dat dit moontlik is om dit lekker te maak. Iets wat lekker werk is om dit bietjie plat te slaan. Ek plaas my hoenderborsie plat neer, vat die koekroller of 'n wynbottel en tik-tik egalig todat die borsie plat is, maar moenie stukkend maak nie. Maak so 4 borsies op die manier plat sodat hulle min of meer ewe groot is.

Nou kry jy 'n oondbak gereed en voorverhit jou oond teen so 180 grade. Nou maak jy 'n lekker uie en tamatiesmoor, rasper bietjie mozzarella kaas en kry 'n bakkie basil pesto gereed. Ek maak soms my eie maar vind dat tannie Ina Paarman se pakkie pesto goeie waarde vir geld is.

Plaas nou jou eerste borsie plat onderin. Gee 'n paar draaie sout en peper, smeer pesto, lepel bietjie tamatiesmoor bo oor en strooi bietjie kaas. Pak jou tweede borsie en gaan so aan. Bak dit nou in die oond vir so 20 minute. Sny die lae amper soos lasagne en skep in die bord. Bedien met 'n lekker groen slaai en vier die fees van die hoendertiete.

No comments:

Post a Comment