varkie in 'n jassie


Dit is eintlik nie my eie resep nie maar ek het dit bietjie aangepas. Jy koop 'n varkfillet. Hulle is soms maar kleinerig so as jy vir 4 mense moet kook, kyk rond vir 'n groterige een. Kyk na die fillet, jy sal sien dat dit soms so wit sening rondom het. Vat jou klein paring messie en sny/trek dit so weg van die vleis af, van die een kant tot aan die ander. As jy dit oplos, gaan die mense lyk asof hulle kougom kou.

Kry 'n pakkie lang repe spek. Kry 'n klein pakkie gedroogde pruime, haal die pitte uit en laat hulle bietjie rus in so treksel brandwyn of so iets met skop. Dit moet so paar uur sagword. Skil solank een mooi groot patat en laat dit dryf in bietjie water sodat dit nie bruin word nie. Maak seker dat jy vars sage het. Vir iets groen, kry 'n mooi bossie groot vars asperies. Vat die aspersie en buig dit. Sny dit af op die knak. Die punte gaan jy net so bedien en die stele gaan gebruik word vir 'n puree.

Terug na die vark. Sny die filet se maag oop met 'n lank snit van een na die ander kant. Moenie deursny nie. Haal jou pruime uit die bakkie met brandewyn en sny lekker fyn. Vul die vark se maag nou met die pruimedante. Geur die fillet met sout en peper na smaak. Vou dit toe en draai die hele fillet toe met die spek. As jy versigtig werk sal die spek kleef. Plaas dit nou in jou voorverhitte 180 grade oond vir so 18 -20 minute. Skink 'n glasie yskoue pienk wyn - iets soos pinot noir sal werk, net nie soet pienkwyn nie - dis common.

Vat jou skywe patat en braai dit in gesmelte plaasbotter met die vars sage in, sit dit ook in die oond vir 'n paar (5-7 )minute. Kook die asperie punte in soutwater - baie kort - en sit dit in 'n bak met yswater sodat dit lekker hard bly. Maak 'n sampioen witsous met 'n halwe room waarin jy ook die brandwyn van die pruime gooi. Gooi die aspersie stamme in 'n voedselverwerker (tip: jy kan dit skil as jy wil met 'n normale wortel skillertjie dan is dit sagter)tot 'n fyn puree, gooi bietjie room, wat jy oorgehou het van die witsous by. Maak dit warm in 'n pannetjie met sout en peper na smaak. Laat staan eenkant.

Nou het jy hard gewerk maar byt vas, ons is amper daar!

Haal die fillet sowel as die patat uit die oond. Sit mooi spierwit borde reg en haal nog koue pienkwyn uit die yskas. Steek kerse op. Sny die fillet versigtig in wieletjies op sodat die spek mooi rondom bly en sit, so 3 of 4 op elke bord. Op die ander kant sit jy 'n skeppie van die puree neer en sit so 3 of 4 van die aspersie punte daarop neer. Nou skep jy so 4 wiele van die patat op en sit dit ook neer op die bord waar daar 'n mooi spasie is oorkant die vark en aspersies om 'n driehoek te vorm. Vat jou sampioen sous en lepel mooi die sous oor die vark (sonder om te verdrink, jy is nie in die Spur nie!) met sulke groot druppels oor die patat en die oop spasies van die bord. Sit dit voor en smul. Nou kan jy haar vra om met jou te trou. As sy na die effort wat jy ingesit het en die smaak van die gereg, "nee" antwoord is jy beter af sonder haar!

No comments:

Post a Comment