mac en cheese


Ek kannie 'n blog oor kos skryf en nie mac en cheese insit nie. Vinnig, gemaklike comfort food. Dit sal jou siel goed laat voel. Daar is duisende maniere om dit te maak maar hier is myne.

Jy benodig 'n pak macaroni, 'n stuk parmesan kaas, 4 lekker tamaties, vars origanum, een eier, 'n handvol fyn plain salted chips (jy kan broodkrummels ook gebruik) en 'n grypie of twee gerookte paprika poeier.

Maak 'n witsous, as dit die begin van die maand is kan jy room ingooi maar jy kan dit ook lekker maak met net melk en maizena. Dit moet 'n lekker lang sous wees. Rasper 'n stuk parmesan kaas, ongeveer 150 gram, in die sous en voeg die paprika poeier, sout en peper na smaak by. Kook jou macaroni en dreineer. Jy moet teen die tyd al weet dat pasta nie pap gekook moet word nie! Gooi dit terug in die pot, voeg bietjie olyfolie oor en roer jou sous sowel as die eier goed deur. Voeg 'n klontjie botter daarby en roer versigtig deur. Voeg 'n handvol vars origanum daarby.

Gooi die mengsel in 'n oodbak. Maak die chips fyn en strooi bo-oor.Sny jou tamaties in skywe en druk dit reg om die kante so halfpad om - jy bou so tamatie muurtjie rondom die macaroni!

Sit in die oond vir so 15 minute teen 180 grade. Bou 'n legkaart saam met jou kinders. Skep op en luister na die stilte en kouery aan tafel. Daar gaan niks oorbly om werk toe te vat nie.

No comments:

Post a Comment