hoenderlewer met 'n chakalaka twist

Oor die afgelope kersvakansie het my suster my bekend gestel aan die lekker gereg. Dit is verslawend lekker en baie maklik. Jy kan die resep ook aanpas afhangende van die stand van jou koskas en beursie. Wat jy benodig is min of meer die volgende:
  • Pakkie hoenderlewer
  • So knertsie brandewyn
  • Groot ui en 'n paar knoffelhuisies, mooi fyn gesny
  • 1 blikkie chakalaka, koop eerder die mild een
  • 1 botteltjie vars room
  • handvol vars fyngesnyde pietersielie, dhania sal ook werk dink ek
  • lekker vars brood, ciabatta werk lekker
  • 'n Grypie sout en peper
Nou braai jy die uie en knoffel in 'n pannetjie met olyfolie. Sny die hoenderlewer so klein bietjie fyner maar moet dit nie omskep in maalvleis nie! Voeg die lewer, brandwyn en chakalaka by en laat dit so bietjie prut terwyl jy jou houtlepel toedien in sirkelformasie. Moenie gaan karwas terwyl jy wag nie maar 'n vinnige stoei met jou laaitie op die mat sal net die regte tyd gee.Voeg die vars room, sout en peper by en maak seker die bakkies is op die tafel met die vars brood op die kant. Maak die wyn oop en skink vir die mense. Skep die sopbakkies so halfvol en gooi vars pietersielie bo oor. Nou breek jy die vars brood en sleep dit so deur die dik sous - chakalekka! Maak seker dat jy genoeg maak en moenie te veel beplan vir jou hoofgereg nie, die ouens gaan hulle knuppeldik eet aan die enetjie. Lewer is nie gewoonlik trendy nie maar ek belowe jou die upstairs mense sal ook hulle borde uitlek!

No comments:

Post a Comment