my lewe in wyn


Oor die eeue heen is kos en wyn as sinoniem met mekaar aangebied. Die edelvrug se sappies is per slot van rekening die opgan en ondergang van vele mense. Ek moet hier herken dat ek in die regte hardebaard wynhelde se geselskap maar 'n lammetjie is, so moenie my vra oor taniene en "smooth finish" nie.

Wat ek wel weet is van proe. My smaak is myne en niemand anders sin nie. Ek moet bieg my smaak in wyn het waarskynlik darem oor tyd verbeter. Hierdie is so half 'n rekord van wyne wat op een of ander manier 'n negatiewe of positiewe rol in my lewe gespeel het. Diegene wat dink ek is 'n suiplap is verkeerd, hierdie onderonsies het my juis perspektief gegee.

Ons begin met 'n familie vakansie en toer deur die wynlande. Ek is 13, rof, onbeskof en geheimsinnig. My pa laat my toe om ruim te proe aan Delheim se Edelspatz. Ek gedra my swak en begin wyn op die kelder vloer uit te spoeg in my dronkenskap. Die familie sug, een van vele. Ons stap aan na 17 jaar oud. Ek en 'n vriend kry deur sy pa gratis kaartjies om 'n film premier te gaan kyk. Ons is besig met eksamen, die drank is gratis. Hier ontmoet ek die prins van kelders - of soos hy bekendstaan: Kelderprins. Dit gaan swak en ek verloor meeste van die wyn met die loop van die nag. Die volgende dag slaap ek op my arms in die klas.

Nou word ek eerstejaar op Stellenbosch. Ons speel matie proewe en daarna spreek Dok Craven ons toe en maak hulle die matieklub oop vir gratis drankies. Ek drink 'n paar biere, net vir die dors, want sien ons is op pad na Finlays om te gaan vier. Daar gekom drink ons nog 'n paar biere, net om dinge in perspektief te plaas. Toe stap twee ander vabonde my lewe in. Die eerste, van onsekere portugese oorsprong is Graca. Sy vriend, en bestem om my vriend te word tydens my arm studente dae, heet Tassenberg, of tassies soos hy ook bekend staan. Om 'n lang storie kort te maak, my arme kamermaat se splinternuwe rooi mat het dit ontgeld, die rooi het 'n wortel spikkel bygekry.

Daardie ervarings was genoeg, tesame met 'n fantastiese hoveelheid hereksamens in my eerste jaar om my te laat wakker skrik. Met die mensword het ek begin besef dat ek wyn moet leer ken en moet respekteer. Ek kan nou nog nie Graca drink nie.

Nou spring ons na my meer gekultiveerde nagraadse studies toe. Jy doen 'n M graad, jy is steeds bleddie arm maar jy het opinies en dra corduroy. En daar stap ek die pad met Chateau Libertas of soos ons hom genoem het: Chateau Collapso. Nederland volg en ek drink lekker, rowwe en goedkoop Chileense vino so tussen die witbier deur. Dis grof en ongenaakbaar maar vol siel. Ek beleef Brunello en Grappa in Toskane en my ogies gaan oop. Duitsland gee vir my werklike riesling soos hy moet proe.

Mettertyd het my vrees vir witwyn, ondanks Graca, begin kwyn en word ek deur middel van my skoonpa se KWV kwota, 'n liefhebber van swaar, gehoute Chardonnay. Dit waai oor tydens my dae in die fancy swart pakkie-korporatiewe omgewing en bring my by Durbanville Hills se Grasgroen Sauvignon Blanc en die wonderlike Life from Stone van Springfield, waarin jy amper die klip proe waarop die wingerd groei. Nou drink ek graag rooi Shiraz, Pinotage, Voignier versnit en wonderlike pienk vonkelwyn wat so droog is dat die stof in jou mond spat, tesame met soveel andere lekker wyne wat hier om my beskikbaar is.

Saam met kos wat met sorg voorberei word, geselskap wat jou tuis laat voel en 'n atmosfeer van liefde en geborgenheid is die wyn edel en kan ek beswaarlik my lewe daarsonder sien.

Wat ek wel weet is dat balans in die ding, soos ander dinge in die lewe die eintlike pad na verheldering is. As ek te veel wyn drink verloor ek die edelheid daarvan, verloor ek die smaak van gras of swart bessies...en sit ek met daai aaklige skeelhoofpyn.

Kom ons klink 'n glasie op mekaar, vier ons lewens met al die kronkeldraaie daarin, en wees net lief...

No comments:

Post a Comment