Ek is in 'n wonderbui. Wat my bekommer is dat ek 'n blog skryf wat eintlik net te doen het met luukshede en lekker dinge. Dinge waaroor ek skryf is nie beskore vir baie mense rondom my nie. My ongerief is nie noodwendig oor dit wat ek geniet en eet nie maar dis dat ek vergeet.
Ek lees die storietjie onlangs van die ou Bedouin man wat eendag 'n klop op sy deur kry. Toe hy die deur oopmaak staan 'n ou vriend, verwese daar. Die man vra hom toe of hy nie by hom geld kan leen sodat hy dringend skuld kan betaal. Die huiseienaar vra toe sy vrou om alles wat hulle het bymekaar te maak. Selfs dit was nie genoeg om die bedrag wat die man skuld te betaal nie. Hy gaan toe en gaan leen by die bure, todat hy genoeg geld bymekaar het om die man se skuld te betaal.
Toe die man weg is met die geld sien die vrou dat haar man sit en huil. "Waarom huil jy? Noudat ons self diep in die skuld is, is jy bang dat ons dit nie sal kan terugbetaal nie?" vra sy. Die man sê toe "Glad nie! Ek huil omdat hy iemand is vir wie ek baie liefhet en nie geweet het hy is in die nood nie. Ek het hom eers onthou toe hy nou aan die deur geklop het om vir geld te vra"
Nou het ek my in 'n hoek geskryf want alhoewel ek op 'n slinkse filosofiese manier dit kan wegredeneer, het ek tog vergeet van baie mense. Mense wat ek ken en nie ken nie. Want sien, die lewe is mos hard en ek moet sorg vir my eie gesin. Wanneer laas het ek kos gemaak vir mense wat dit skraps het, wanneer dek ek vir hulle 'n mooi tafel met blomme op?
Ek dink dit het tyd geword vir so feesmaal, en miskien moet ek my beplanning regkry vir 'n kersete. 'n Feesmaal waar ons Xhosa huishulp, die Zulu tuinier wat een keer per week werskaf in die tuin en my vrou se enkelma assistent van die kaapse vlakte en sommer 'n paar ander naderskuif na 'n tafel van feeskos, nie vergeetkos nie. Wonder of ek daarvan gaan vergeet...daar is hope struikelblokke wat in my guns tel.
No comments:
Post a Comment