Ek bevind my vanoggend in Pathcare. 'n Vastende bloedtoets om my kolesterol te bepaal. Die rede: Spur steakranches. Ok, miskien moet ek die storie van die begin af vertel. Toe ek eerste jaar op Stellenbosch was, was die Spur 'n luuksheid wat ek nie met my karige sakgeld kon bekostig nie. Sederdien hou ek my upstairs want ek hou mos van kosmaak en glo dat die oorgewig massas wat tussen die olierige cheddamelt sous, balonne en karton indiaan vere wriemel, altemit iets mis in die lewe. So ek is 'n snob.
Die universe trek toe mos nou 'n mooi truuk op my. Ek het 'n 3 jarige tweeling. Ek hoef niks meer te verduidelik nie want julle weet mos. Julle weet hoe ek by pathcare uitkom. Ek het gisteraand vir die tweede keer in twee weke by Spur uitgehang. Twee keer na amper 20 jaar van nooit soontoe gaan nie. My kinners hardloop uitbundig rond en spring op die jumping castle wat so taai is dat mens dit kan gebruik om brommers te vang. Ek sit met dieselfde cheddamelt burger en pienk kondensmelk basis sous op my chips waarna ek gesmag het op universiteit. "Jy dink jy's cooler as ekke" van Jack Parow kom by my op.
Gisteraand strompel ek uit die kooi op soek na rennies. The revenge of the mutant cheddamelt is swaar op my 40 jarige sisteem. Patcare...
Ek vra myself af hoekom dit gebeur? Gisteraand kyk ek om my. Die Spur is tjok en blok vol. Dit, in ons ekonomie, en op 'n weeksaand. Ek wil skree: "laat my toe om vir julle almal te kook, dis goedkoper, gesonder en lekkerder" Maar om my sit (oorgewig) paartjies gelate en gesels. Kindertjies speel op die taai kasteel. Voor hulle op die borde is alles toegegooi in pienksous. Mense is seker maar so opsoek na kindervriendelike en daardie "ek weet wat ek kry" gevoel dat hulle nie omgee oor die ghries nie!
En ek? Nee, hemel help my - nooooooooit weer nie. Vergewe my want ek het verkeerd gedoen. Ek wonder hoeveel kos 'n jumping castle?
No comments:
Post a Comment