chilli poppers


Dit gaan effens brand, die volgende oggend ook! Maar hoe saai sal die lewe nie wees sonder chilli poppers nie? Dit is maklik om te maak, goedkoop en dien as wonderlike voorgereg of selfs bykos tot hoofgereg.

Ek maak dit maar op my manier en ek is seker daar is baie ander maniere wat meer eg mexikaans is. Wat jy benodig is: 1 glaspotjie ingelegde groen Jalapeño peppers, (dit is min of meer die grootte van die potte agurkies en sal in dieselfde rak in die winkel gevind word) 'n bakkie roomkaas en 'n rol befrore "puff pastry". Ek het vriendinne wat natuurlik self hulle eie dun deeg sal maak en dis ook goed.

Nou begin jy met jou chilli's. Gebruik 'n lekker skerp klein messie en maak so 1 tot 2 cm snit in die lengte van die chilli. Nou is jy op 'n kruispad. Jy kan die pitte uithaal om die chilli's minder warm te maak of jy kan dit inlos. Vat nou jou roomkaas en vul die chilli se magie met jou vingers. Druk die chilli se magie dan toe. Nou rol jy jou deeg uit en plaas die chilli's op ongeveer 4 cm by 4 cm spasies uitmekaar met die snit na onder. Jy sal sien dat die chilli's steeltjies het, ek los dit gewoonlik aan vir die mooigeit. Sny nou 'n blokkie in deeg rondom die chilli en vou mooi toe met die steeltjie wat buite uitsteek. Druk dit met jou vingers mooi stewig toe en maak seker dat daar niks gate is nie.

Nou die doopsous. Ek gebruik 'n mayonnaise basis waarby ek sommer sweet chilli sous en bietjie kruie inroer. Die sousie moenie brand nie en moet so half romerig en soeterig smaak. Maar hier kan jy imroviseer, ek dink nou dat 'n advokado en suurlemoen mengsel (Guacamole) ook sal werk.

Nou kry jy gewone canola olie in 'n kastrol aan die kook en sit die poppers daarin om te diepbraai. Draai dit voortdurend om en onthou, jy wil net die deeg mooi egalig bruin kry. Dit neem so 2-3 minute. Laat dit so bietjie op kombuis papier rus om ontslae te raak van die oortollige olie.

Plaas op elke bord so 3 poppers met 'n spatsel doopsous. Nou smul jy terwyl die sweet op jou vrinne se voorkoppe loop!

No comments:

Post a Comment