frikadelle


Wat vir 'n naam is 'n "frikadel"? "Meatball" maak tog meer sin. Ten spyte van die naam is dit goeie, eerlike kos. Ek spot altyd met my vrou as sy vir ons frikadelle maak omdat sy letterlik alles waarop sy haar hande kan sit, ingooi by die maalvleis. Maar, ten spyte daarvan is haar frikadelle altyd heerlike padkos, aandete, kosblik kos of sommer net peuselkos.

Dit is dus onmoontlik om haar resep hier in te sit omdat die hele blog dan slegs toegewy sal moet word aan frikadelle! Daar is egter 'n paar basiese dinge waarop jy moet let as jy frikadelle maak en ek sal dit neerpen met 'n basiese resep.

Kry so 1kg goeie maalvleis wat nie te veel vet inhet nie. Maak seker dis ordentlik ontvries of vars. Gooi dit in 'n mengbak. Kyk in die kas vir 'n pak chips. Ek het al nicknaks gebruik omdat dit al was wat ek kon kry, so moenie te veel worry watter soort dit is nie, maar los asseblief die prawn cocktail chips. Nou maak jy so paar handevol chips lekker fyn en gooi by maalvleis. Breek so 2 eiers oor die vleismengsel. Braai 2/3 uie en knoffel met 'n paar grype kerrie of chili en gemmer tot lekker sag en gooi ook by mengsel. Voeg so paar lekker blertse soja sous by. Nou moet jy jou hande vuil kry. Meng goed deur tot alles mekaar lekker leer ken het. Voeg nog origanum, sout en peper by en meng weer deur.

Nou sit jy jou oond op 180 grade en begin om met jou hande golfbal groot balletjies te vorm. Onthou om dit hehaaldelik styf te druk tussen jou twee hande. Plaas die frikadelle op 'n bakplaat en in die oond vir so 10-15 minute.

As 'n wenk, moenie die frikadelle te gaar maak nie en draai dit halfpad om. As dit uit die oond kom sal jy hande moet piets wat sommer gou-gou die lekker kos wil op peusel!

No comments:

Post a Comment