waatlemoen slaai


Hierdie resep het ek gesteel by my gunsteling chef, Michael Smith. Ek het dit al 'n paar keer gemaak en dit is altyd 'n wenner. Ek het natuurlik bietjie daarmee gelol maar die geheim is 'n soet waatlemoen. Wat kan dan nou verder verkeerd gaan?

Ek weet daar is baie yuppie waatlemoenslaaie met allerhande pitte en souse oor maar my ding met iets so wonderlik soos waatlemoen is om dit basies te hou. So baie mense lol met die inhirente karaktereienskappe van 'n tipe kossoort, dat dit vir my soms voel asof dit verlore gaan. Hoekom wil jy dan nie die waatlemoen sien en proe nie?

Ek het onlangs sogenaamde "danish feta" raakgeloop by 'n winkel. Dis 'n neef van die tipiese Griekse weergawe, maar is eintlik heelwat souter maar ook gladder en romeriger. Nou sny jy jou waatlemoen in blokke en probeer soveel as moontlik van die pitte uithaal. Sny die deense feta in blokkies. Gooi jou waatlemoen stukke in die slaaibak, voeg die feta by en gooi lekker growwe sout en peper daaroor. Nou vat jy die beste olyfolie wat jy kan kry en bedruip bo-oor. Meng lekker deur met jou hande maar moenie die hele besigheid versap nie, versigtig soos jy met jou baba werk.

Smul nou aan die wonderlike soet waatlemoen met die sout feta, lekker growwe peper en die olyfolie! Die gereg is basies maar verskriklik lekker. Ek vind dat rocket of watercress ook daarmee saam werk as jy wil. Nou dat ek daaraan dink, wat van 'n bietjie mintblare, suurlemoensap en skil en bietjie fyn gemmer...wow dit kan werk!

No comments:

Post a Comment