kookgroep - varkie in 'n jassie met ' twist

Ek het al elders in die blog geskryf oor my kookgroep. Ek was baie huiwerig aan die begin oor selfs die blog, juis omdat ek nie voel dat ek 'n tegnies opgeleide sjef is nie. Maar ek besef toe ook dat die blog eintlik meer my eie memoirs is vir my kinders en hopelik kleinkinders eendag. Maar om myself te begewe in 'n kooklas met mense wat vol verwagtinge met elke geleenheid na my staar...dit het na 'n bietjie van 'n stretch gevoel.

Maar nou ja, my arm is gedraai en hier is ek nou met vier uitsonderlike mense, mense wat passie, durf en humor na die tafel bring. Ons formaat is maklik, ons kom een keer per maand bymekaar, hulle betaal niks, bring hulle eie kookhulpmiddele en bestandele soos per die resep wat ek aan hulle gegee het. Dan kook hulle al vier, ek help, ons lag ons vrek, drink baie wyn en eindig die aand rondom die tafel met heerlike borde kos. Dit is ook vir my so interressant hoe mense se persoonlikhede en hulle manier van kosmaak verskil. Kosmaak vloei baie uit 'n mens se basiese persoonlikheid uit maar die wonderlike verassing is dat in kosmaak mense se alter ego's ook soms uitkom. Die skaam persoon wat kompeteer dat dit bars en die analitiese een van vol kreatiwiteit iets mooi wil voorsit. Dit is eenvoudig "mindblowing" om te observeer.

Dit laat my wonder hoekom kosmaak nie meer gebruik word vir terapie en algemene vaardigheidsontwikkeling nie. Wys my die mens wat aspris slegte kos wil maak of nie haar beste gee agter die panne nie! Ons is nie altyd ewe gemotiveerd om lekker kos te maak nie, om verskeie redes. Tog, probeer ons. As ek die bleddie visvinger vat en ek maak 'n heerlike vars tzatziki met suurlemoen en griekse jogurt moet dit mos lekkerder proe!

Ok, ek dwaal. Ons besluit toe ons gaan 'n spankompetisie ala Masterschef hou. Ek het vir hulle twee mystery bokse gegee met bestandele as volg:

 Bestandele:
2-3 Vark filette
1-2 pakke “streaky” spek
Halwe koppie vars basil blare, grof gesny
Halwe koppie vars mint, fyn gesny
2 vars pruime in baie fyn skywe gesny
Growwe swart peper en sout
1 pynappel, geskil en in ringe gesny
2 lekker groot patats
2 eetlepels heuning
Kaneel vir besprinkel van pynappel
Tandestokkies om spek vas te maak oor fillet
Botter en olyfolie

Metode (hulle het dit nie gekry nie)
Voorverhit oond tot 180 grade C. Klad die fillet droog met kombuispapier. Lê die spek repe langs mekaar op 2 houtborde (genoeg vir 2 filette om in te pas). Meng die basil mint en pruime saam in ‘n mengbak en besprinkel oor die spek repe. Hou klein bietjie van die kruie eenkant vir garnering. Nou sit jy die fillet regoor die spek repe en vou die spek repe oor die fillet, maak die spek bo vas met tandestokkies. Plaas die 2 filette op ‘n bakplaat, sprinkel met bietjie olyfolie en sit in die oond. Vir elke 500g het jy 30 minute plus ‘n ekstra 5 minute nodig. As dit klaar is haal dit uit en laat dit vir 5 minute rus. 

Skil jou patat, sny in wiele en kook vir 3 minute met bietjie water in ‘n pot. Moenie dit sag kook nie! Braai jou patat ringe met bietjie olyfolie in die pan todat dit ‘n mooi bruin kleur het. Smeer dit met bietjie heuning voor die tyd sodat dit lekker karameliseer. Skil jou pynappel, sny in ringe en braai op die griddle pan todat dit mooi egalige donker strepe op het. Besprinkel daarna liggies met kaneel en heuning. Plaas eenkant maar maak seker dat dit warm bly. Kry nou jou 4 borde reg, sny 2-3 wiele vark fillet en plaas op die bord en rangskik die patats en pynappel rondom. Besprinkel met swart peper en die laaste vars kruie. Jy kan ook bietjie fyn pruime en sjerrie/rooiwyn gebruik en 'n lekker reduction sousie maak om bo oor alles te drup net voordat jy dit voorsit.

En toe gebeur die magic, albei spanne sit voortreflike geregte voor. Die beoordeelaars moes werklik hare kloof om die wenner aan te wys! Geluk aan die wondelike vier kokke, ek hoop om nog lank saam aan tafel met julle te sit.

No comments:

Post a Comment