skaapboud


Partykeer kry ek so verlange na die dae toe die skape se boutjies in meer oorvloed was en toe mens gewoond was om gereeld, op 'n Sondag rondom 'n lang tafel, die sagte vleis met gebakte artappels, bone en wortels te eet. Ek weet nie van julle nie maar dit is iets wat ek selde my hande op kry om te maak.

As jy hom wel het moet jy saggies trap, dit is heilige grond die. Die eerste groot fout wat mense baiekeer maak is om die vleis nie ordentlik te laat ontvries nie. Ek neem aan dat die meeste van ons darem so ou boudjie daar in die linker hoek onder in die vrieskas hou vir 'n spesiale geleentheid. Ek sit my vleis voor my neer. Ek dink dat mens hier en daar van die oortollige vet kan afsny maar wees versigtig om minder as een sentimeter vetlaag te los. Wat ek gewoonlik doen is om die vetlaag soos 'n tennis rakket oorkruis te sny todat jou mes raak aan die vleis daaronder. Dit help maar net dat die vet meer wegbraai.

Nou maak ek sulke een sentimeter snitte en druk regoor die boud so hier en daar 'n knoffelhuisie in. Ek hou daarvan om vars roosmaryn en growwe sout te meng en die hele boud te smeer met dit en olyfolie. Dis mos lekker om met jou hande aan 'n boud te vat - al is dit nie 'n beeldskone vrou nie!

Nou kry ek my oond op 180 grade aan die gang. Ek vat my mooi koper bakpan en sit vyf dikkerige geelwortels in 'n mooi ry langs mekaar, met so drie sentimeters tussen elkeen. Ek sit my boud op die wortels neer, dit help vir lugvloei onder die boud. Dan maak ek die bak toe met tinfoelie. Moenie worry oor watter kant na bo nie, dis 'n mite daardie blinkkant bo storie! Sit dit in die oond. Nou kan jy lekker tyd neem om op die mat te sit en koerant lees of met die kleintjies te speel. Ek reken dit neem so drie ure maar dit gaan afhang van die boud.

As jy hou van gebakte aartappels kan jy dit solank skil saam met enige ander groente waarvoor jy lus het. Wat ek deesdae van hou is om mooi jong beet te skil en in 'n aparte bakpannetjie in helftes te neer te sit. Dan gooi ek olyfolie oor, baie balsamic asyn en 'n grypie bruin suiker. As jou boud so twee ure aangestap het haal haar uit, raak ontlae van die foelie en pak jou aartappels en lekker growwe stukke rooi uie rondom haar. Nou sit jy die beet ook op die onderste rak.

Die boud sal nou lekker bruin gebak wees. Haal haar uit om te rus. Nou haal ek die aartappels uit en sit weer terug in die oond om te rooster, draai maar die oond vol oop. Nou vat ek die vog met alles daarin en gooi dit in 'n pan, ek druk die wortels fyn met my masher. Draai die gas oop en laat dit lekker vinnig prut. Voeg nou 'n lekker treksel rooiwyn uit jou glas by en 'n mooi klont plaasbotter. Reduce dit heelwat, nou het jy jou sous. Nou begin jy jou skaapboud opsny en pak dit mooi uit in jou ouma se mooi plat bord en stort die sous mooi daaroor. Nou sit jy jou beet, aartappels en watter ander bykos wat jy het op die tafel saam met die skapie. Dan roep jy jou liefies, sit Stef Bos se weergawe van "suikerbos" op en skink die Shiraz. Ai tog... suikerbos ek wil jou hê, wat ook al jou ma daarvan sal sê...

No comments:

Post a Comment