middel van die week vissie

So kruip ek die ander dag by die huis in. Eers by die deur in en toe op met die trappe. Dis deadlines in ons depot en dit gaan wild. So wild dat ek 3 uur die middag skaars tyd kry om te gryp na 'n stukkie brood met 'n mengsel van sandwich spread en redro op. Dis bleddie sleg maar keer dat ek flouword! Ons hardloop so dat ons vergeet om te eet. By die huis gekom is my beter helfte met iets besig wat lekker ruik. Om myself nie hier onder sensuur te plaas nie maar darem tog die konteks te skep - sy hou nie van kos maak nie. Sy hou nog minder van vis. Sy is 'n boerenooi en vir haar moet jy aan die kant 'n rolletjie wors en 'n chop braai.

Tog eet sy eet vreeslik sushi maar om een of ander rede is witvis en "god forbid" die vel daarvan, nie hoog op die lys nie. So kyk ek oor haar skouer en sien sy is besig met 'n pakkie stokvis. Nou wat stokvis betref, hy is nie myns insiens meer edel as pilchards nie. Om die waarheid te sê pilchards proe na meer. Maar stokvis is amper soos snoek in die kaap, armansvis en verdien daarom tog ons respek.

Sy vertel my oor die resep en ek is maar te bly om die teuels oor te gee vir die aand. Ek doen die meeste kookwerk in ons huis maar vanaand wil ek net stort, 'n lekker whisky on the rocks ingooi en met my tweeling puzzle bou.

Hier is haar basiese resep. Sy vat die stokvis, doop in meel (waarin sy verskeie speserye gegooi het), dan in die geklitste eier en dan in fyngemaakde chips. Plaas dit dan op 'n plat oondbak. Die chips was, as ek reg onthou, sommer gewone Lays sour cream and chives geur en was nie te fyngemaak nie. Jy kan dit sommer in die pak druk met jou hande. Sy het die oondbak goed met olyfolie gesmeer voor die tyd.

Nou bak sy die vis so 10-15 minute teen 200 grade. Vir bykos maak sy 'n lekker mash van patat en aartappel gemeng en bedien dit saam met die vis met die mash gevorm in 'n nessie gevul met lekker ertjies. Ons eet nou lekker. 'n Happie vis wat so lekker kraak, danksy die chips met die sagte geurige mash en ertjies. Ai, dis darem lekker om eenvoudig en smaaklik te eet! Dankie my liefie vir die bederf.

No comments:

Post a Comment