gebed van 'n kok

Ek was onlangs by die KKNK in 'n show van Lise Beekman waar sy die wonderlikste wense vir die gehoor in die vorm van 'n liedjie gesing het. Dit laat my toe dink aan die emosies wat in my hart aangaan wanneer ek (veral) vir spesiale mense kook. Hoe verwoord mens dit? Jy sny uie, haal die skilletjies van die knoffel af of rol die tuna in peperkorrels terwyl jy die heeltyd dink hoe dit gaan proe en hoop dat die mense dit geniet. Dis so suiwer en eintlik intiem om die basiese brandstof vir ons bestaan voor te berei vir mense. Jy sorg op die manier so fundamenteel vir iemand en jy kan dit boonop sonder woorde doen. Maar hier is my lomp woorde om te probeer beskryf wat ek voel as ek kook.

ek staan voor my snybord, effens moeg van die dag
dis 'n altaar vir die goddelikheid binne my
wat kreatief sorg dat die aarde se krag deur my hande gemanifesteer word
ek staan met my voete gemaklik uitmekaar geplant, my rug reguit my skouers terug
ek hou die mes saggies maar ferm, nes my skepper my vashou
soos wat dit voorentoe en agtertoe gly oor blare en stammetjies
rooies en groenes
rondes en dunnes
binnes en buites
ek ruik neut en koljander
wortels en seldery
en voel growwe meel en maalvleis
sagte gedroogte pruime en mielie baarde
beelde van mooi klei borde en tafels vol kaas
wynglase en blomme en boere se markte
dans in my kop en ek droom
van vars lug  en sonskyn en kinders se laggies
die kos is nektaar van die hemel wat ons gees vervul
en ons liggame verkwik en
ek is dankbaar
amen

No comments:

Post a Comment