alles-wat-ek-in-die-yskas-het pasta

Die wat my ken sal weet - ek is swak op 'n Vrydagaand. Vrydagaande haal my 40 jare my in. Dis amper soos wanneer mens 'n lang pad gery het na 'n vreemde plek en die laaste kilometer ry op 'n tweespoor grondpad met die lang grasse vat onder die kar skraap. Die tipe plekke wat jy jou kar se ligte moet aanhou om te sien watter bungalow joune is. Netso is Vrydagaande vir my 'n potluck aand. Ek weet dat ek eintlik nie wil uitgaan nie, uitgaan is net te veel. As ek dan nou moet sal ek iemand nooi, iemand low maintenance. Die tipe vriend wat saam met my in die geselskap aan die slaap kan raak.

Oor die gevoel van Vrydagaande wil ek in die woorde van Umberto Eco uit Foucault's Pendulum aanhaal: "I have understood. And the certainty that there is nothing to understand should be my peace, my triumph.". So daar is niks om te verstaan of om oor te tob nie, jy is moeg maar gryp jou voorskoot, skink die wyn en skuiwe effe nader. Die idee is om 'n alles-wat-ek-in-die-yskas-het-pasta te maak.Wat gebruik ek:

1 pak tagliatelle of penne pasta sal werk
1 medium ui
1 pakkie skouerspek (Vir die veggies, vervang dit met tofu of wilde sampioene)
2-3 knoffelhuisies
'n grypie gedroogde chilli
'n teelepel medium kerrie
1 geel en 1 rooi pepper
1 pakkie sampioene
1 koppie kersie tamaties - in halwes gesny
1 lekker handvol parmesan kaas
250ml room of 3 eetlepels mascarpone kaas
vars origanum en basil (gedroogdes sal ook werk)
sout en peper
200ml brandewyn
Opsioneel: ertjies of mielies of aspersies

Ek begin om alles lekker op te sny. Dan kry ek my uie in die pan aan die gang - met olyfolie natuurlik. My spek sny ek in klein blokkies en rangskik oor 'n bakplaat om lekker goudbruin te rooster in die oond saam met die kersie tamaties. Voeg die kerrie, knoffel, chilli en gesnyde sampioene by die uie en laat stadig aanstap. Nou voeg jy die brandwyn in en draai die hitte op. Vat 'n vuurhoutjie en steek die vloeistof aan die brand terwyl jy nie gebukkend oor die pan staan nie! As jy mense het sal hulle suitably impressed wees terwyl jy nonchalant maak asof die blou vlamme elke dag uit jou panne verrys en nee dis nie rook wat uit jou ooghare trek nie...

Die vlam sal nie hoog wees nie en mettertyd laer brand en doodgaan, dit raak van die alkohol ontslae en die bitter smaak wat daarmee saamgaan.  Verminder die sous tot amper droog. Teen die tyd behoort die tamaties en spek lekker bruin gebak te wees, haal dit uit die oond,voeg by die mengsel en roer deur. Nou kan jy jou room en origanum bysit en die hitte heel af draai, of as jy werk met 'n swaar yster pan dit heeltemal afsit. Onthou jy wil nooit die room laat kook nie.

Kook gou jou pasta - onthou om dit nie pap te kook nie. Dit gebeur soms as die wyn oop is en jy te lekker staan en klets. Ek het my tagliatelle mooi egalig uitgekrap op 'n mooi groot plat bord, die mengsel mooi in die middel geskep, die vars basil blaartjies oorgestrooi , bedruip met bietjie olyfolie en dit saam met chardonay of beaujolais, en vars parmesan op die voorgesit. Vrydagaande kan tog lekker wees.

No comments:

Post a Comment