brood vir Luc

Vriende se seuntjie het onlangs 'n nare ongeluk gehad toe kokende tee op hom uitgeval het. Dit terwyl hulle gesin op 'n werk en vakansiebesoek in Skotland is. As pa kry ek hoendervleis om te dink wat deur hulle gedagtes moes gaan te midde van die aaklige ervaring. Wat my hart druk om hierdie broodresep aan klein Luc op te dra is toe ek hoor hoe hy volgens wat sy pa vertel, die hospitaal in Skotland oorgeneem het met sy sonnige persoonlikheid en positiewe energie te midde van hierdie uiters pynvolle ervaring.

Ons grootmense word mos telkens herhinner hoe ongelooflik sterk 'n kind se spirit kan wees. Miskien is dit omdat die sinisme van grootmenswees nog nie sy nare stempel op 'n kind afgedruk het nie? Sy ouers publiseer reeds fotos waar hy sit met 'n lekker toebroodjie en groot glimlag...sommer so deur die verbande deur. Dis nie altemit dat die mannetjie se wortels uit die Swartland is nie, daar waar die mense hou van brood!

So, Luc ek weet jy sit in die vêrre Skotland en miskien verstaan jy nie alles wat met jou gebur nie. Ons almal hier by die huis se hande is afgekap om jou te help. Al wat ek kan doen is om jou pa, ma of ouma se hande te leen vir 'n uur of twee sodat hulle vir jou hierdie spesiale broodjie kan bak in my plek. Dit is propvol goeie dinge wat jou sal help om gesond te word.

 Benodighede:
  • Spray and cook
  • 1 koppie lekker whole wheat meel
  • 1 teelepel bakpoeier
  • halwe teelepel koeksoda (baking soda)
  • kwart teelepel sout
  • 2 fyngedrukde ryp piesangs
  • so derde van 'n koppie romerige grondboontjie botter
  • driekwart koppie bruin suiker
  • kwart koppie plein jogurt
  • 1 groot eier
  • 1 eetlepel canola olie
  • driekwart koppie sjokolade chips
Aanwysings:

Voorverhit jou oond tot 175 grade celcius - ek weet nie van die skotse oonde nie maar dis so 350 F. Spray 'n normale broodpannetjie sorgvuldig met die spray and cook. Whisk die meel, koeksoda en sout in 'n lekker groot mengbak. Vat 'n ander mengbak en roer die piesang, grondboontjie botter, bruin suiker, jogurt, eier en canola olie ordentlik bymekaar - dis 'n Jasper job!

Nou meng jy die piesangmengsel goed in by die meelmengsel. Nadat dit goed gekombineer is, gooi die sjokolade chips by en roer deur. Gooi dit nou mooi egalig met 'n lepel uit in die broodpannetjie. Bak dit in die voorverwarmde oond todat 'n tandestokkie skoon uitkom, ongeveer 40-50 minute. Laat dit staan op 'n rakkie om af te koel.

Sny die brood in skywe. Roep nou vir die jong held en sy boetie en sussie nader. Ons is baie trots op jou Luc! Veilige terugreis seuntjie...

1 comment: