hoender en rys pilaf surprise

Ek het onlangs met my kookgroep die maklike resep gemaak, of laat ek sê hulle het dit gemaak! Pas die tyd in die oond aan as jou volume hoender meer raak. Maak ook seker dat jou oond lekker voorverwarm word. Wat jy benodig is:
 
4 - 6 hoender porsies (Dit werk ook met vis maar die baktyd is minder en die speserye ietwat anders)
1 koppie gewone mayonnaise
1 koppie broodkrummels
1 koppie gewone witrys of enige ander wat jy het
 3 eetlepels botter
 1 medium ui
 ongeveer 50 - 100g klein gedroogde appelkose per koppie rys
 ongeveer 50 - 100g amandel “flakes” per koppie rys
3 koppies hoender aftreksel – bring sommer Ina Paarman poeier
1 lourier blaar
Vars of gedroogde tiemie
‘n “bunch” vars aspersies (Nee, nie die tipe wat in 'n blik kom nie en wat andersins bekend staan as olifantpuisies)
 
Metode: Onthou jy het drie prosesse, kyk mooi na die kooktyd en rangskik daarvolgens. As jy enige snywerk voor die tyd kllarmaak help dit baie. Iets soos om die tiemie se blaartjies te stroop vat 'n paar minute maar as jy dit, die sny van die uie, die fynmaak van die broodkrummels ens gereed het dan het jy tyd tussen oop vir 'n slukkie wyn of om vir die hond 'n tennisbal te gooi.
1. Mayonnaise hoender
Voorverhit jou oond tot 200 - 220 grade C. Was jou hoender porsies vinnig onder koue lopende water en klad droog met kombuis papier. Smeer die porsies deeglik met mayonnaise, gooi sommer in ‘n sak vol van die broodkummels en skud todat die hoender oortrek is met broodkrummels. Onthou jy kan jou broodkrummels geur met sout en peper en kruie soos tiemie. Plaas die hoender porsies in ‘n oondbak en bak vir ongeveer 40 - 60 minute. Hou net dop dat die krummels nie brand nie.
 
2. Rys pilaf met amandels en appelkose
 
Dié eenvoudige, veeldoelige rys gereg word ondersky deur die metode – jy sauté die korrels vinnig in botter/olie voordat jy vloeistof byvoeg – dit gee baie smaak en help dat die ryskorrels lekker fluffy en apart bly. Rys pilaf is ‘n wonderlike oop boek, jy kan die amandels en appelkose vervang met amper enige iets!
 
Smelt die botter in ‘n pan oor medium hitte, voeg uie by en sauté vir ‘n paar minute todat dit net begin goudkleurig raak.
Voeg die rys by en hou aan om te braai todat al die korrels goed met die botter oortrek is, moenie brand nie!
Nou voeg jy die lourierblaar, fyn amandels en appelkose by en voeg die hoender aftreksel by. Laat dit kookpunt bereik. Draai sagter, voeg bietjie sout en peper by en laat saggies prut met die deksel op totdat die rys sag is en al die vloeistof geabsorbeer is, ongeveer 15 minute.
Sit die plaat af, los die deksel op en laat staan vir so paar minute voordat jy dit opdien.

3. Aspersies

Sny die onderste 1cm van die aspersies af. Kry ‘n pot vol water met ‘n teelepel sout in vinnig aan die kook. Plaas ‘n bak vol yswater net langs die pot. Sit die aspersies vinnig in (maksimum 1 minuut), haal uit en gooi dadelik in die yswater. Haal uit na so 1 minuut en plaas eenkant.

Wanneer al die ander geregte reeds opgeskep is, gooi jy dit vir 30 sekondes in ‘n warm pan met olyfolie, gee so paar draaie en sit dadelik op die bord. ‘n Girtsie sout en peper rond dit af. Onthou oorgaar aspersies is sonde!

No comments:

Post a Comment