europa!

Ons was onlangs op 'n twee week lange reis deur Europa.
Om sonder die kinders net weer 'n slag 'n mens se lyf student te hou was die idee. Om te leef van straatkos en "pubfare" was 'n tweede mikpunt. Ek het lank in Nederland gewoon maar was meer as 'n dekade laas in Europa. Dit was dus vir my 'n soort tuiskoms.

Ons eerste stop was Parys. En ek verloor my hart opnuut. Parys is soos die vroue wat in haar wandel. Sy is effens moody maar nooit vervelig nie. Sy sit en rook Gauloises by 'n straatkafee, stylvol agter haar ontwerpers sonbril en peusel aan haar Tarte Tatin met sterk swart koffie. Sy gesels diep en luister mooi na wat jy sê en gebruik baie handgebare as sy praat met 'n pruilmondjie
Piekniek a la Seine

 Ons koop vars Baguettes en die romerigsteCamembert om langs die Seine rivier mee te piekniek. Ons sit daar met Parysenaars om ons en staar na die bote. Die ding van Parysenaars is dat hulle amper net so erg soos toeriste oor hulle stad is. Hulle hou ook piekniek onder die Eiffel, langs die Seine of in die Luxembourg tuine. Parys is hulle stad en is hulle. Wat ookal hulle doen, of dit eet, gesels, huise bou of net in die straat wandel - doen hulle in absolute stylvolheid. Dis nie 'n snobistiese of "stiff upperlip" stylvolheid soos wat ons hier kry nie. Dis net eenvoudig gestel 'n mooier manier van dinge doen.

Belgiese bier
Oor na Ghent in België en jy kry te doen met 'n heel ander mens. Bietjie meer slordig en verseker nie so stylvol nie. Maar ook amper meer Afrikaans. Hier eet ons spare ribs à volonté!! Wat eintlik maar net beteken dat my vrou vir my sê dat ek nou moet ophou eet want die mense kyk al en" vee tog net jou gesig af". Ek loop in die strate en mense is uitbundig oppad na die talle straatkafees. Almal drink bier en bier is definitief almal se drankie. Oud, jonk, man, vrou, ryk arm - almal drink bier. Om dan nie eens te praat van die wafels en sjokolade nie. In Brugge koop ek op die mark 'n vars gebraaide heel hoender, kaas en vye. Ons sit op 'n bankie tussen die toeriste en smul terwyl die mense wonder wie die bergies is wat so morsig eet!

Gerookde paling
Na Amsterdam en my ou heimat, Utrecht. Hier waai ons deur die grachten op ons swart fietse en stop net vir koffie, poffertjies en pannekoeke. By Volendam eet ek gerookde paling, een van my ou gunstelinge en kibeling - klein happies vis wat in 'n ligte deegie gedompel word en in olie gebraai word. Ons eet heerlike boterhampies en ons smul aan broodjie Mario calzones in Utrecht.


Toe ons moes kies waarnatoe om te gaan was daar allerhande eksotiese plekke om oor te dink. Peru, Marokko, Alaska en die Maldives. Maar op die ou einde loop alle paaie tog maar deur my maag en is my maag maar tog net te Europees!




No comments:

Post a Comment