Moussaka


Hierdie resep is lipklap lekker en het so paar "tricks of the trade" in wat hom nog beter maak. Ek weet nie van hoeveelhede nie, jy moet maar self daaraan werk. Ek maak hom gewoonlik vir vier mense en dan eet ek en my ander helfte hom alleen op.

Jy sny die aartappels in lekker skywe, so ook die eiervrug. Die eiervrug moet jy laat lê in sout en afspoel vooraf. Dan deepfry jy die aartappel en eiervrug in olyfolie. Jy pak dan onder in jou gesmeerde oondbak 'n laag artappel skywe gevolg deur die eiervrug. Voorverhit jou oond 180 grade en skink 'n lekker wyntjie. Sny 2 groenpepers op in lang stukke en braai dit ook in die olie. Pak bo-oor die laag eiervrug.

Vat 'n slukkie wyn en staar uit by jou venster. Kry 'n lekker pan aan die gang met uie. Kry'n pakkie gewone maalvleis gereed. Kry 6 varkworsies en sny hulle pensies oop om die maalvleis by die ander maalvleis te voeg. Gooi die derms vir die hond.

Gooi in die pan saam met jou maalvleis mengsel 'n paar grype gerookte parika, 'n koppie rooiwyn, 'n handvol sultanas, 2 heel kaneelstokkies en sout en peper. Onthou dis sinneloos om jou maalvleis OOIT in 'n pan te braai sonder om vog van die begin af by te voeg. Dis mos stupid om iets droog te braai en dan weer te probeer vog insit! As dit gaar is verwyder die kaneel en gooi mengsel eweredig oor ander goeters in die oodbak. Drink nog 'n slukkie wyn en staar weer uit by jou venster.

Dan die ou bechamel sous. Moenie worry nie dis maklik. Kry en so 'n halfkoppie olyf olie aan die gang in 'n souskastrolletjie en voeg geleidelik meel by tot hy sonder klonte is. Voeg dan melk by terwyl jy bly roer, voeg doublecream yogurt by en so 2 hande gerasperde parmesan kaas. As hy lekker dik geword het gooi jy die mengsel mooi eweredig oor die kos wat reeds in die oodbak is.

Sit vir ongeveer 1 uur teen 180 grade in die oond. Haal hom uit en smul!

No comments:

Post a Comment