oor drukkokers


Hiervoor is die meeste mense doodbang. Ek onthou hoe my ma se bruin bonesop op die plafon gesit het nadat sy vergeet het om die pot stadiger te draai. Mense dink die potte is tydbomme wat, op een of ander manier, lewensgevaarlik is. Wel dit kan seker waar wees maar ek glo steeds daarin.

Ek weet dat die filosoof Martin Versfeld in sy graf sal draai as ek praat oor drukkokers. Ek is jammer oompie Martin, hoewel ek jou boeke al vir die laaste 20 jaar verslind en jou filosofie sien as my filosofie, leef jy nie in ons tyd met my realiteite nie! Ek kan met my drukkoker beesstert of skaapnek heerlik sag, gesond en energie besparend gaarmaak binne 45 minute!

Ek verkies natuurlik steeds om my swartpot oor die oop vuur aan die gang te kry, my pyp op te steek en die glas Beyerskloof Pinotage te toets. My lewe is egter net op die oomblik te vol en ja oompie, ek weet dis nie reg nie.

Die geheim van 'n drukkoker is om die instruksies te lees, en te volg. Jy braai die beessterte of skaapnekkies met uie en knoffel onderin die pot. Nou maak jy die pot so halfvol met vog - water, wyn, aftreksel ens. Draai die deksel volgens die instrukies toe en draai die plaat op hoog. Skink jou eerste glas Beyerskloof. Die meeste drukkokers het 'n stoom uitlaat met so tottermannetjie wat uitstoot as die druk te hoog raak. Amper soos 'n man! Nou delete nog purityne die webadres...

Die ding is, jy moet verstaan dat die pot sy optimale druk bereik en dat jy hom dan DADELIK afdraai na 1 of 2, sodat hy rustig verder kan aanprut. Die potte is egter baie sterk en die duurder potte het nog allerhande ekstra veiligheidsmeganismes. Na die halfuur plus verby is, kan jy die pot afhaal, in die opwasbak sit en die bak vol koue water tap terwyl die pot afkoel. Sy stoom klep of tottermannetjie sal heeltemal sak. Maak die deksel oop en kyk hoe sag is jou vleis. Jy kan nou besluit om groente by te voeg, die pot weer tot op optimale hitte bring en so 5-10 minute later af te haal. Nou is jou beestert gereed en dit op 'n skool aand!

1 comment:

  1. Ek het vandag jou blog ontdek en dis reeds 'n aanwins in my lewe en ek het nog nie eens begin kook nie! Dankie Willie!

    ReplyDelete