soptyd in die boland


die eerste koue is in die lug en ek het al my eerste verkoue ook gehad! Die dokter skud net sy kop en spreek sy simpatie uit met my en die woelige tweeling wat my al die verkoues gee. Pappa kan tog nie ophou soen aan hulle nie. Vir verkoue het ek nie die oplossing nie, maar die naaste ding wat ek aan kan dink is sop.

Sop is eenvoudig, bekostigbaar en gesond. Een van my gunstelinge is my weergawe van die Hollandse "erwtensop" waaroor ek so gevrek het toe ek in Nederland gebly het. Hulle maak die sop en dan bedien hulle dit met 'n sny vars rogbrood waarop hulle "katenspek" sit wat vars vet is!

Vir my resep gebruik ek:
1 Pak bevrore ertjies
1 Hollandse rookwors of 1 pakkie spek of 2 kassler tjops
so 2 liter hoederaftreksel
3 tot 4 aartappels in fyn blokkies gesny
2 seldery stingels
Vars kruie soos origanum, roosmaryn ens
1 ui of preie
klein grypie gemmer en kerrie
'n skoot knoffel

Braai die uie en knoffel in jou pot. Voeg die gemmer en kerrie by. Sny die rookwors of vleis in kleinerige blokkies en voeg by. Jou uie en vleismengsel moet al lekker sterk bruin wees maar moenie brand nie. Skep die vleis uit en sit eenkant. Plaas die aartappels, ertjies en seldery in die pot en braai so bietjie. Bedek met jou 2 of 3 liter hoederaftreksel en laat prut vir so 20 minute. As jy daardie pakkies sop ertjies gebruik kan dit langer neem.

Nou kry jy daai hand zirtser uit die kas, en maak sommer in die pot fyn. Dit is vir jou om te besluit hoe fyn. Ek hou nie daarvan om dit te glad te maak nie want dan verloor jy tekstuur. Voeg nou jou vleismengsel, vars kruie, sout en peper na smaak by, en laat hulle mekaar net bietjie leer ken vir so paar minute. Bedien met 'n stukkie brood. Trek die wolkombers oor jou voete en geniet dit!

No comments:

Post a Comment