2 minuut noodles


'n Kosbare vriendin het onlangs vir my genoem dat sy: "vanaand sommer net 2 minute noodles gaan eet". Ek dink nie daar is iets fout daarmee nie, maar wonder of mens dit nie bietjie kan opjazz vir haar nie. Kom ek dink bietjie...

Wat het ek hier om my? Daar is 'n suurlemoen, ek vat hom. Ek maak die yskas oop, my vrou se tupperware val almal uit - ek tel dit brom-brom op. Okay, daar is in die hoek so stukkie parmesan kaas, vat dit. Ek kyk in die groentelaai-daar is 'n paar wortels, ek vat dit. Ek spoor ook 'n paar sampioene op. Daar is 'n knoffelhuisie, bietjie plaasbotter en 'n takkie origanum. Daar is ook 'n halwe pakkie rocketblare en 'n oraaiterige halwe advokadopeer. Ek kyk in die kas, a-ha een van die klein botteltjies ansjovis fillets kruip nader! As jy nie ansjovis het nie sal olywe ook doen. Okay, miskien het ons tog vanaand iets om te eet. Wat nog, miskien 'n rooi ui?

Ek kook die 2 minute noodles en ja dit vat maksimum 2 minute! Dreineer goed, gooi in mengbak en gooi blerts olyfolie oor. Nou rasper ek die suurlemoenskil en parmesan oor en meng deur. Nou braai ek gou my uie, dun repies wortel, knoffel en sapioene in die plaasbotter todat dit lekker karameliseer (fancy woord, dit word net soeter!) en gooi by die mengsel. Ek neem so 1 ansjovis filletjie en sny dit baie fyn en meng deur. Onthou dit is baie sout en moenie oorheers nie. Ek gooi dit by saam met die vars origanum blaartjies. Nou skep ek dit in my bord, rangskik die rocket blare en skywe advokadopeer mooi bo op, gee so paar drukke van die suurlemoen se sap, nog 'n blerts olyfolie en 'n paar parmesan vylsels met jou groente skiller. Growwe sout en peper na smaak bo oor. Laat ek dink, ja miskien 'n glas Du Toitskloof Sauvignon Blanc met 'n kaggel wat knetter en siedaar...romanties op 'n budget!

1 comment:

  1. JaJaJa vir die du Toitskloof Sauvignon Blanc as die koejawels in die druppels dans en die ys in die glas klingel!

    ReplyDelete