nog salm


Salm is net so fantasties dat ek nog en nog daaroor kan skryf. Een van die ander resepte in die blog praat oor 'n salm slaai. Hierdie een gaan oor pangebraaide salm. Dis ryk, geurig, duur, romanties en net hemels lekker. Eet dit saam met iemand spesiaal.

Jy benodig so half kilo vars of bevrore salm. Ek koop die bevrore chileense salm maar as jy 'n woolies beurs het dan is dit eerste prys om die vars salm daar te koop. Plaas die vis voor jou met die velkant onder. Jy sal sien dat die hele boonste strook min of meer ewe dik is en dat die onderste strook so afloop en al hoe dunner word. Sny nou in die lengte van die vis die dun gedeelte af en sny jou vis in die breedte sodat jy twee mooi gelyke mote het. Die dun stukkie sit jy in die yskas vir more se roereier! Kyk net of daar fyn grate is en verwyder met klein messie.

As bykos werk mash lekker (sien resep "mash en watookal") of net 'n lekker braai aartappel saam met 'n groen slaai en aspersies.

As jy vrot panne het gaan dit lol so koop die regte pan, of bel my dat ek jou in die regte gate in Woodstock kan invat om te koop daar waar die chefs koop! Smeer jou vis aan weerskante met olyfolie en gee bietjie sout en peper. Kry nou jou pan aan die gang met nog 'n bietjie olyfolie. Nou sit jy jou salm met die velkant na onder. Moenie lol aan hom nie, as hy reg is sal die pan hom wegdruk sodat jy hom maklik kan omdraai. Die vel raak so lekker crispy! Hy sal amper begin aanbrand, wees versigtig. Voeg jou botter in en lepel oor die mote, draai versigtig om met die vel na bo.

Nou moet jy gou werk, salm moet eintlik minder as medium gaar wees. Moenie nou aan die klets raak op jou telefoon of so iets nie. Skep jou lekker mash aan die een kant, jou groenslaai met asperies aan die ander kant en plaas op elk bord die salm, velkant na bo so half skuins teen die mash. Bedruip met die botter uit die pan so oor en rondom die vis.

Enige wyn kan werk hier - ek het al rooiwyn daarmee saam geniet maar die purityne sal vra vir iets droog en lig. Moenie chardonay gebruik nie, die vis is al klaar ryk. Ek dink sauvignon blanc hehoort te werk. Nou versamel jy jou geliefdes en kyk diep in mekaar se ogies...die lewe is darem partykeer goed.

No comments:

Post a Comment