aspersie pasta


Ek hou baie daarvan om lekker pasta soos penne of spaghetti te maak waarin ek net aspersies en parmesan gebruik. Die ou waarheid van goeie bestandele wat die maaltyd maak is hier waar. In Europa het ek vars aspersies amper daagliks gebruik omdat dit so beskikbaar is. Hier moet jy nogal mooi kyk, maar as jy hom volgende keer op die rak sien - gryp hom en bel my!

Die ou groot dikkes is nie waarvoor jy hier soek nie, maar ook nie die heel dun pieperiges nie. Sny so 1-2 cm van die onderste stele af. Kry 'n lekker pot met kokende water en twee grype sout reg. Kook vinnig - 3 minute maksimum, en haal uit. Gooi bietjie yswater in 'n mengbak en gooi die aspersies daarin om weer lekker styf te staan. En ek gaan nie nou hier 'n onvanpaste grappie van styfstaan en yswater maak nie!

Hou die water van die aspersies en kook jou pasta daarin. Dreineer. Gooi nou olyfolie, swartpeper, aspersies, vars origanum en 'n lekker handvol gerasperde parmesan kaas oor en meng lekker deur. Skep op elke bord en gebruik jou groente skillertjie om 'n paar fyn parmesan skille op elke hopie te sit - dit moet mos mooi ook lyk.

Geniet die eenvoudige kos met 'n lekker chenin blanc en onthou die kerse, jy gaan haar impress met die eenvoud waarmee jy die goeters sommer so "saamgooi" en nog lekker ook maak.

No comments:

Post a Comment