jus



Rooi wyn en rooi vleis. Wat kan beter wees saam?

Ek het onlangs weer begin krap aan die klassieke Franse tegniek van Jus. Dis maar eintlik net 'n manier om soos in dié geval, rooiwyn te reduce na 'n heerlike sous waarmee jy basies selfs jou skoonma kan eet, hoewel steak ook goed is.

Gebruik 'n kombinasie van hoender en vleis aftreksel. Wat jy benodig is:

250 ml rooi wyn, wat jy drink
125 ml vleis aftreksel
125 ml hoender aftreksel
2 knoffelhuisies
1 takkie vars roosmaryn

Nou vat jy 'n klein souspannetjie en sit dit op lae hitte. Druk die knoffel plat met jou mes en gooi in die pannetjie. Gooi jou wyn in en druk die roosmaryn takkie in en laat prut todat helfte van die volume verdwyn - maar moenie te wild kook nie. Nou gooi jy die vleis en hoender aftreksel by saam met so paar draaie peper en laat nog aanstap, todat dit lekker dik onderin die pannetjie is. Onthou jy kan die jus lank voor die tyd soos die vorige aand maak. Hoe stadiger jy dit maak hoe meer gekonsentreerd.

Nou het jy opsies, jy kan room byvoeg, mascarpone kaas of net in die klassieke manier bedruip oor jou skoonma, ek bedoel steak! Druk dit net eers deur 'n fyn siffie om ontslae te raak en werk dan verder. Voila!

No comments:

Post a Comment