couscous


Ek is mal oor kos wat van van die vroegste dae af kom. Couscous is so iets. En van die vroegste geskrewe verwysings daarna kom van 'n anonieme 13de eeuse Spaanse Hispano-Moslem kookboek, Kitāb al-tabǐkh fǐ al-Maghrib wa'l-Andalus (Arabies) of in Engels vertaal: die kookboek van die Maghreb en Al-Andalus, met 'n resep vir couscous wat regoor die wêreld bekend was.

Dink net, hier staan jy nou in jou kombuis, jy is moeg, die kinders is stout, jou man het jou lanklaas in die nek gesoen en net soms wonder jy of dit nou maar jou storie is...Maar in jou hand is dieselfde bestandele wat in die 13de eeu deur gevaarlike Berber donkeroog swaardvegters geniet is om die kampvuur. Weg is al die geluide. Jy is geklee in spierwit linne klere wat wapper in die woestynwind. Jy gooi die couscous in die snelkokende water met 'n grypie sout, sit die deksel op en haal af van die hitte. Laat hom staan vir so 2 minute.

Nou braai jy verskillende kleure peppers, sampioene, rooi uie en knoffel in 'n pan. Sny vars grasuie en kruie fyn. Maak jou couscous pannetjie oop en sit 'n lekker lepel botter daarin en sit dit terug op lae hitte. Voeg jou mengsel daarby en roer lekker deur terwyl die botter smelt. Nou skep jy dit uit en strooi jou vars groen mengsel daaroor. Hier kom jou Berber prins by die tentflap in...

No comments:

Post a Comment