rose vir liefde


Om kos te maak met blomme is niks nuuts nie. In die Romynse tye was dit hoogmode en dit kan selfs verder terug opgespoor word in die Chinese, Midde Oosterse en Indiense kookkuns. Eetbare blomme was nogal ook die in-ding in die Victoriaanse era, tydens Koningin Victoria se tyd.

Vandag is daar baie innoverende chefs wat hulle kos versier en geur gee met blomme. Die twee belangrike dinge is om te weet dat alle blomme nie eetbaar is nie (as jy dit nie snap nie, sit assblief die mes neer en stap baie stadig by die kombuis uit) en dat jy die blomme goed moet afspoel in ligte seepwater en vars water, om ontslae te raak van die gif wat mense daarop spuit.

Hier gaan dit om rose. Ek is onlangs weer herhinner aan hoe ongelooflike krag liefde in al haar vorme kan wees. Dit kan jou vind net wanneer jy dit nie verwag nie en so moet ons ook vir mekaar kosmaak met liefde. Gebruik bloedrooi rose hiervoor. Alle rose is eetbaar en hoe donkerder die roos, hoe dieper is sy geur. Miskien moet ek net ook noem dat jy nie die stele en blare moet eet nie! As jy so gedink het is dit miskien nodig dat ons 'n meer intense kookles proses binnegaan, waartydens ek eerstens alle skerp messe en gevaarlike voorwerpe uit jou kombuis en yskas sal verwyder!

Dit is maklik om te maak. Bak jou hoender (nes een van my ander resepte hier) in die oond teen 180 grade. Voor jy hom insit, smeer jy hom met plaasbotter en plak as't ware die bloedrooi roosblare reg oor die hoender. Nou gaan jou hoender in die oond in. Moenie al die blare gebruik nie, los meeste vir later.

Die blare op die hoender sal donker word en verkrummel, jy sal dit afskraap en weggooi. Nou vir die roosblaar sous:
2 koppies water, jy kan ook hier bietjie groente aftreksel in oplos
2 eetlepels plaasbotter
2 knoffelhuisies fyngesny
1/2 teelepel anyssaad
6-8 bloedrooi oop rose, blare afgetrek
1 geskilde rooi turksvy of 2 rooi pruime, geskil
Handvol neute - geroosterde amandels of pekan neute sal werk
2 eetlepels heuning
Sout en swart peper
Jou hoender natuurlik!
Olyfolie

Okay, nou doen jy die volgende:

Bak jou hoender. Bring jou water to kookpunt in 'n pot. Terwyl dit gebeur smelt jy die plaasbotter in 'n pan, braai die knoffel en anyssaad saggies vir so paar minute en sit eenkant. Nou gooi jy jou turksvy of pruime saam met die roosblare in jou voedeselverwerker en maak die puree. Gooi dit in die pan saam met die anyssaad mengsel en laat dit stadig aangaan vir so 10 minute. Nou roer jy die heuning, sout en peper by en druk die mengsel goed deur 'n sif todat net die sous en miskien klein stukkies neut in die potjie oorbly. Hou die sous warm.

Op 'n spierwit tafel strooi jy nou van jou oorblywende blare rondom, en sommer orals oor die borde. Laat jou geliefdes aansit by die tafel. Ek sou as agtergrond musiek iets soos Charles Aznavour opsit. Skep die sous oor die wonderlike gebraaide hoender. Kyk baie diep in mekaar se oë...rose is vir liefde en liefde is vol verassings!

No comments:

Post a Comment