krummelpap


Ek weet mense gaan nou begin fluister "willie se resepte raak nou min, nou neuk hy met krummelpap...". Dit is net dat ek sekere dinge soos hoe om goed mieliepap te maak sien as uiters nodig in ons land - 80% van ons samelewing eet dit daagliks. Ek het in Europa "polenta" teegekom wat 'n klassieke Italiaanse gereg is. Dit het vir my na niks anders as "slap pap" gelyk nie maar is tog wel van 'n baie goeie kwaliteit meel gemaak en is heerlik. Jy kan hier ook polenta koop in sommige spesialiteits winkels.

In elk geval, hier gaan dit om krummelpap. As jy toegang het tot growwe meel is dit die beste, maar die "braaipap" van Pick en Pay werk ook.

Kry nou jou ouma se groot ou pot aan die gang, dik yster is waarvoor jy hier soek. Vir elke koppie water, twee koppies meel en vir elke koppie meel, een mens. As jy baie mense het neem die koppies meel per kop af. As jy te veel maak sal die hond ook nog jou beste maat wees want hy sal sy pens dik vreet.

Gooi 'n paar grype sout in die kokende water en gooi jou meel versigtig in die pot. Moenie roer nie, gooi die meel om 'n tipe hopie in die middel te vorm. Sit die deksel op en laat so 30 minute stadig prut. Nou haal jy die deksel af, en begin die pap met die agterkant van jou houtlepel te roer. Dit vorm nou sulke knoetse. Nou vat jy 'n vurk en gaan woes tekere om dit nog fyner te maak. Doen dit met tussenposes sodat dit nie te droog kook nie. Hoe harder jy woel, hoe meer krummels het jy. Jou pot gaan onderin aanbrand so hou dit dop, as die brand te erg raak sal die hond nog meer pap kry. Nou kan jy dit as bykos bedien met tamatiesmoor of lekker ontbtkos met melk, plaasbotter en suiker.

No comments:

Post a Comment