roereier


In my jong dae het ek in 'n gastehuis as 'n soortvan allesdoener gewerk. Die eienaars was baie weg en ek moes die personeel, besprekings en die kombuis bestuur. Dink jou in, 14 Duitsers sit aan vir ontbyt, een vra vir poached eggs, die ander gebak, omelet en enige iets anders onder die son. Die Duitse eienaar wys my toe hoe om die "German special" te maak en dit te probeer verkoop aan die gaste sodat ons die orders vinniger kon deurkry.

Jy breek so 4 tot 6 eiers in 'n mengbak en skep so 3 tot 4 klontjies plaasbotter daarby. Dan maak jy jou pan warm met 'n treksel olyfolie onderin. Nou giet jy jou eiers in die pan. Jy moenie dit enigsins klits nie. Nou wag jy biejie, vat so slukkie koffie en lees die Burger so hoof opskrifte. Neem jou spaan en trek die eier stadig heen en weer. Die idee is dat die wit en geel nie soos in tradisionele roereier onherkenbaar deurmekaar raak nie. Moenie te droog maak nie. 'n Lekker idee is om jou spek eerder in die oond te bak todat dit amper stokstyf staan. Nou smeer jy jou plaasbrood met botter (ek het 'n plaasvriendin wat tog te lekker bak- haar brood sal hier werk), skep die eier bo oor, gee paar draaie sout en peper en miskien vars grasuie bo oor. Sit nou jou stywe spekkies op die eier neer. Gooi die koffie in, vat die koerant en smul aan die romerige eier.

No comments:

Post a Comment