vispot


Ek hou daarvan om die gereg te maak as ek baie mense het omdat dit so lekker is en binne die meeste smake val.

Ek gebruik:
500g garnale, geskil of nie
500g mossels
500g Kingklip in blokkies gesny
Potjie room of mascarpone kaas
Vars fennel
2 uie
genoeg knoffel
grypie gemmer
grypie chilli
pakkie sampioene
twee suurlemoene
'n handvol gerookte spek
basmati of enige ander witrys.
Witwyn - droog natuurlik.

In jou groot pot braai jy nou jou uie in bietjie olyfolie en botter tot sag en voeg nou jou gemmer, knoffel, chilli, spek en sampioene by. Laat hulle mekaar eers leer ken terwyl jy 'n slukkie wyn vat en 'n paragraaf of twee van jou lekker boek lees. Voeg nou jou Kingklip en garnale by. Let wel, dit moenie half gevries wees nie want dan sit jy met 'n gemors. Gooi so glas witwyn by en laat stadig aanstap. Maak solank jou rys gaar.

Na so 10 minute kan jy die mossels (nog in hul halfdop) byvoeg. Moenie te veel woel in die pot nie, jaag mense weg wat wil roer. Nou kan jy jou room of mascarpone, die skil (zest) van twee suurlemoene en die vars gesnyde fennel by en gee so paar minute om bietjie af te reduce. Kry die spulletjie bymekaar. So ruk gelede het ek die gereg gemaak vir 'n dierbare vriendin op haar groot partytjie (en nee, ek doen NIE catering nie!). Met al die gewoel het ek heeltemal vergeet om die mossels wat doodrustig in die yskas was, by te voeg. Al wat ek toe doen is om die mossels in die pot by te gooi nadat almal hulle eerste porsie gehad het! Toe het ons 'n mosselpot vir seconds.

Nou skep jy jou heerlike, romerige vispot oor die warm stomende basmatie rys, klink glasies met jou vriende en sleep so stukkie vars brood deur die sous...

No comments:

Post a Comment