ode aan die snoek


My gesin is nie vreeslik erg oor vis nie. In my studentedae op Stellenbosch was die geld te min vir braaivleis. Maar goeie, getroue snoek het my deur dik en dun bygestaan. Ja, jy moet met jou hande eet en jy kry soms die sogenaamde meelsnoek wat nie so lekker afgaan nie. Ten spyte hiervan is daar vir my iets edels en kaaps aan die snoek. Hy word geniet in nederige huisies sowel as kastele.

Die ding is, baie mense probeer die vis smaak minder visserig maak deur allerhande souse ensovoorts. As jy nie van vis hou nie moenie dit probeer bewerk of proe na iets anders nie. My basiese benadering tot vis bly dieselfde: goeie medium kole, gesmelte plaasbotter, vars fennel, origanum of lemongrass, sout, peper en natuurlik suurlemoen. Vis en suurlemoen sal in die hiernamaals saam bo die wolke sweef.

Ek draai nie om aan my snoek nie, maar soms is die kole te wild en die vis te dik dan kan mens hom net so vinnig aan die vleiskant toast. Maar moenie die snoek omdraai as jou sous op is nie. Wat belangrik is, is om uit te vind of die snoek gesout is, ek hou in elk geval daarvan om my vis af te spoel en windroog te laat word voordat ek dit gaarmaak.

Verf nou jou vis met botter, en hou daarmee aan. Die snoek sal so wit begin word en vlek as hy reg is. My ervaring met 'n medium vis is so 20 minute om gaar te maak op lekker sagte, egalige kole. En moenie my enige iets vra oor 'n Weber nie, dis 'n engelsman se braai en jy sal vir raad na 'n engelsman moet gaan.

Reg aan die einde, strooi jou vars kruie oor, draai die sout en peper oor na smaak en bedien. Dit werk lekker saam patats, slaai en growwe brood. En natuurlik 'n lekker riesling of sauvignon blanc.

No comments:

Post a Comment