trinchado

Ek moet bieg, ek is wantrouerig oor portugese geregte. Aan die positiewe kant gebruik hulle die basiese meditireense bestandele, maar aan die ander kant sal hulle dink dat om bietjie coke by kos te gooi of 'n eier op 'n steak voor te sit in die restaurant, cool is. My kinderjare in Johannesburg het ook niks gedoen om vertroue te kweek in die kos nie omdat die portugese altyd die hoek kafee of die vis en tjips winkel bedryf het. En as jy al gestaan het tussen die vlieë in so grieswinkel en wag vir tjips, gespanne in die wete dat jy jou lewe nou moontlik mag verloor as gevolg van opkomende diaree...Nou is ek natuurlik oormatig kleinburgerlik, ek dink die porras is wonderlike, familievaste mense wat hou van eet en kuier - nes ek!

Maar kom ons wees positief en dink aan wonderlike sardyne wat met growwe sout en olyfolie gebraai word en diep rooi port op 'n wintersdag. Dit bring my uit by trinchado. Ek het dit al verskeie kere geniet by vriende en gesien op spyskaarte maar nog nooit probeer maak nie. Todat ek besluit het dat dit iets is wat ek moet probeer juis omdat ek baie oop rooiwyn gehad het en dis trinchado se lewensbloed.

Wat jy benodig vir 4 mense:

Genoeg Worcestershire of Soja sous
1 -2 eetlepels balsamic vinegar
3 eetlepels plaasbotter
3 eetlepels olyfolie
1 kg steak, in klein 1cm blokkies gesny
2 groot uie, fyn gesny
3 of 4 klein rooi chillies, fyngesny - dit gee skop, as jy bang is haal die pitte uit
6 - 8 knoffelhuisies, fyngesny
3 eetlepels meel
1 koppie vleis aftreksel
1 en 'n half koppies rooi wyn
2 lourier blare
'n handvol swart, ontpitte olywe
1 eetlepel suiker
sout en peper
vars gemaakde slaptjips (4-6 aartappels) en broodrolletjies om in die sous te dip.

Meng jou soja, suiker en balsamic saam en roer deur die vleis. Plaas dit in 'n bak in die yskas vir een uur om te marineer. Gaan swem saam met jou kinders. Nadat jy afgedroog het (ek kry altyd raas omdat ek met my nat gat in die huis rondloop) skil jou aartappels vir die tjips en sny in skuifies. Kry jou pan warm met botter en bietjie olie. Spoel die marinade af en droog die vleis af met 'n kitchen towel. Braai jou vleis in sarsies sodat jy dit lekker vinnig wil seel. Tip, soms wanneer vleis befrore was gee dit vog af in die pan en dis aaklig want dit wil nie seel nie. As jy 'n griddle pan het, braai eerder jou vleis daarop om te karameliseer. Plaas jou geseelde vleis eenkant om te rus. Onthou dit moenie gaar te wees nie. Spoel die pan uit en vee dit droog.

Nou voeg jy jou uie, fyn chillies met pitte en al en jou knoffel in en braai met botter en olie tot sag. Voeg nog 'n bietjie botter by en roer geleidelik jou meel by. Nou voeg jy die vleisaftreksel en wyn stadig by terwyl jy roer. Laat so 7-10 minute stadig prut en voeg dan die blokkies vleis en olywe by. Laat dit nou baie stadig prut vir so 20 minute tot die vleis gaar is. Geur na smaak met sout en peper. As dit te dik word, voeg bietjie kookwater by. Jy wil 'n dikkerige sous kry maar nie so dik dat mens dit moet sny nie! Amper soos dik groentesop. Nou maak jy jou slaptjips gaar in olie en dreineer goed. Droog die oortollige olie af deur dit op kitchen towel te laat rus.

Steek jou kerse aan, sit jou dik goue ketting om jou nek (want jy eet mos nou portugees), sit die broodrolletjies op die tafel met lekker diep bakkies. Skep nou vir elkeen die sous en vleis mengsel in elke bakkie en strooi 'n handvol slaptjips bo-oor. Nou kyk jy hoe lekker mense die warm wynsous en vleis eet met die tjips en die vars brood daardeur trek. Fantasties! Nie 'n slaaiblaar of tamatie in sig nie. Net jy met jou chick in luiperdvel geklee, jou woeste Ford XR6 in die garage en jou gladde blinkswart hare agtertoe gekam...Vamos comer e ser alegre! (let us eat and be merry - in Portegees)

No comments:

Post a Comment