geposjeerde eiers

Ek weet helfte van julle gaan dink wie se ma se geposjeerde...nee! Dit gaan hier oor iets so wonderlik en so dekadent dat jy nadat jy dit geproe het, heeltemal sal afsien van enige mediese advies teenoor eiers. Ek maak dit nog erger, ek hou van die eggs benedict waar jy die moeder van Franse souse, die Hollandaise sous, byvoeg. Dit bestaan uit BAIE botter. Belowe net jy sal dit ten minste een keer per maand vir jou hart se punt in die bed gee of nog beter vir jouself op 'n Sondag aand voor die MNet movie. Ek reken dat jy dit in enige verhouding kan gebruik om ongeveer 50% nader aan 'n gelukkige verhouding te wees.

Om eiers te posjeer in sjef skole is wild, en daar is meer as een aspirant sjef wat al sy tande op dit stukkend geval het. Die mense werk met water en asyn en die tegniek is min of meer ewe moeilik en het dieselfde kans op sukses om gestopte seekoei gaar te kry. Koop by 'n kombuiswinkel so yster pannetjie (foto):

Dit kos minder as R100. Myne staan in een van my panne op sulke voetjies en het 3 holtjies waarin ek net die eir breek. Dan voeg jy bietjie water in die pannetjie, sit die deksel op en laat so 4-5 minute stewig prut. Onthou om net onder in holtetjies bietjie olyfolie te smeer sodat die eiertjies mooi glad uitkom.

Ek vat gister se ciabatta, rooster dit lekker in die oond. Nou keer jy die eier daarop uit. Gooi lekker hollandaise sous bo-oor en as jy wil, bietjie vars kruie. Dis ook lekker om die eier op watercress neer te sit op die brood en dan die sous bo-oor. Dit laat jou darem voel asof jy iets effens gesond en vars eet. Kyk nou hoe almal hulle wonderlike eier oopsny en die sagte binnekant saam met die ryk sous opslurp. Ek is werklik jammer vir diegene wat nie eier eet nie. Ek sal nog die ander tipe eiers uit my lewe kan sny maar  nie vir poachy-poachy nie!

Hollandaise Sous

Jy benodig:
3 eiergele
1 eetlepel water
1 eetlepel vars lemoensap
1 koppie botter, gesmelt maar nie bruin nie
1 grypie rooi peper of paprika 
Sout en peper na smaak 

Klits die drie eiergele, water en suulemoensap todat dit effens dikker en valer word. Smelt die botter langsaan baie saggies, amper net af van smelt af.

Nou moet jy die wyn neersit en die kinders uit die kombuis jaag want die job kan jy nie doen met skreeuende gesiggies en geraas rondom jou nie. Giet die eiermengsel in ‘n klein souspannetjie oor laerige hitte en klits eweredig – jy wil nie roer eiers hê nie. Lig die pannetjie gedurig van die hitte af as dit wil begin klonte vorm. Jy sal sien dit raak amper skuimerig en dik. Haal dit af van die hitte af en begin die botter bietjie-bietjies byroer. Soos die botter begin emulsifiseer (sien ek ken ook fancy terme) kan jy groter hoeveelhede byroer todat alles opgeneem is in die sous.

Voeg nou die sout, peper en rooipeper by terwyl jy nog bly roer. Jy kan selfs nog ‘n bietjie suurlemoensap bysit maar doen dit druppel vir druppel tewyl jy bly roer. Siedaar, jou Hollandaise is gereed.

No comments:

Post a Comment